
Die priesterlike roeping
Die Priestersamp is tot stand gebring as gevolg van Israel se afvalligheid en sondigheid. So is die Hoëpriestersskap van Christus nodig geag as gevolg van die mens se sondigheid en afvalligheid (Heb.7:21-28).
Aäron was die eerste hoëpriester onder die Livitiese Priesterskap. Aäron se seuns was priesters saam met hom. Hulle was nie hoëpriesters nie, maar as gevolg van hulle verhouding teenoor Aäron was hulle priesters en het dus saam met hom diens gedoen en die volk geleer (Lev.10:11-12).
- Soos Aäron deur God as hoëpriester aangewys is, so is Jesus Christus ook as ons hoëpriester aangewys.
- Aäron was bekleed met ‘n spesiale gewaad (Lev.8:1-9). ‘n Rok, ‘n Mantel en ‘n Skouerkleed, maar ons hoëpriester is omhul met ‘n gewaad van glorie en heerlikheid.
- Aäron was ook bekroon met ‘n tulband of heilige kroon op sy hoof. Sy priesterkleed was nie voltooi sonder hierdie kroon op sy hoof nie. Net die Hoëpriester en die Koning kon krone dra. Die verlostes is ‘n koninklike priesterdom wat eendag krone sal ontvang.
- Aäron was met olie gesalf, voordat hy met sy werk kon begin. So was Jesus ook met die Heilige Gees gesalf met Sy doop in die Jordaan.
Die Priesterkleed
Die Priesterkleed was deur God self bestel. Dit was in drie stukke:
a) Die Rok van fyn wit linne om gedra te word en met ‘n gordel omgord te word.
b) Die Mantel van pers stof, wat op die wit linnerok gedra moes word. Dit was geweef sonder ‘n soom (Ex.28:28). Aan die soom van die mantel was daar “Granaatjies en goueklokkies”. Hulle geluid moes gehoor word as die hoëpriester in die Allerheiligste diens doen, as bewys dat die hoëpreister nog lewe. Die goue klokkies se gelui tipeer die stem van die Heilige Gees in ons lewens.

c) Die Skouerkleed, gemaak van goud, pers, purperrooi, bloedrooi stowwe en fyn linne.
d) Die Borstas was 22,5 sentimeter vierkantig en gemaak van dieselfde stowwe as die Skouerkleed. Dit moes nooit los van die skouerkleed wees nie. Daar was 12 edelstene – 4 rye van 3 stene elk aan die Borstas. Op elke steen was die naam van een van die twaalf stamme. Dus het die hoëpriester altyd die volk van God op sy bors gedra, hulle was in Sy hart geskryf. Hierdie stene het elkeen ‘n afsonderlike kleur gehad. So het elke kind van die Here ‘n afsondelike karaktertrek en verskillende gawes, maar Hy dra ons almal op Sy bors.
e) Die twee skouerstukke het elkeen ‘n Oniksteen daarop gehad waarin daar op elk 6 name van elk van die twaalf stamme gegraveer was. Dus was die kinders van die Here altyd in gedagtenis gehou: beide op Sy hart – die plek van Liefde, en op Sy Skouers – die plek van Krag.
f) Die Tulband was die “Heilige Kroon” van die Priester. Dit was van spierwit linne gemaak met ‘n goue plaat daarvoor, met die woorde daarin gegraveer:
HEILIG AAN DIE HERE.
Ex.28:36-38
g) Die Urim en Tummim (Ex.28:30). Hierdie was twee edelgesteentes wat in die Borstas gehou moes word. Hulle beteken “Ligte” en “Volmaakhede”. Hulle was gebruik wanneer die Here vir iets spesiaals geraadpleeg word, om ‘n beslissing te gee. Dit skyn dat die Here Sy gedagte en wil meestal deur middel van hierdie twee stene aan die Hoëpriester bekend gemaak het. Moontlik het Sy Goddelike glans op hulle helderder of dowwer geword: die “JA” en “NEE” van die Here. Vandag moet ons die “Woord” en die “Heilige Gees” raadpleeg om die wil van die Here te kry vir elke beslissing wat ons moet maak.
Die Hoëpriester se werk

Die Hoëpriester moes homself voor God stel en moes dus rein van sonde wees.
- Hy moes Versoening vir die sonde van die volk doen.
- Hy moes die Vate met bloed besprinkel, om dit vir diens te reinig.
- Hy moes Gawes offer. Buiten die brandoffers moes hy gawes van welriekende reukoffer op die goue altaar brand. Die voorbidding van Jesus gemeng met die gebede van die verlostes (Open.5:8)
- Hy moes die lampe altyd voorsien van vars olie en hulle skoonmaak. So belowe die Here ons altyd die Heilige Gees om ons in staat te stel om vir Hom te skyn.
- Hy moes ook verklaar wat rein en wat onrein is. Dit is nie wat ons dink nie, maar wat Jesus dink.
Hy moes ‘n Voorspraak wees. Hy moes altyd intree vir die behoefte van die volk. Die Hoëpriester het nooit gaan sit as hy in die Heiligdom ingegaan het nie, want sy werk was nooit klaar nie. Maar Jesus het wel alles volbring aan die kruis.
Kom kuier gerus weer saam vir die volgende paar weke wanneer ons die volgende onderwerpe gaan bespreek:
- Die Hoëpriester
- Die Orde in die laer, in die kamp en op trek
- Die Wolkkolom
- Die Groot Versoeningsdag
Groete tot dan!
Pastoor Kiewiet van Staden
Lees ook:
Die Tabelnakel van Moses: Deel 1 – Inleiding
Die Tabernakel van Moses: Deel 2 – Die wet en die tabernakel
Die Tabernakel van Moses: Deel 3 – Die Plan
Die Tabernakel van Moses: Deel 4 – Die Poort
Die Tabernakel van Moses: Deel 5 – Die Voorhof
Die Tabernakel van Moses: Deel 6 – Die Brandoffer Altaar (Die Koper Altaar)
Die Tabernakel van Moses: Deel 7 – Die Verskillende Offergawes
Die Tabernakel van Moses: Deel 8 – Die Koperwaskom
Die Tabernakel van Moses: Deel 9 – Die Tabernakel
Die Tabernakel van Moses: Deel 10 – Die Viervoudige Bedekking
Die Tabernakel van Moses: Deel 11 – Die Heiligdom
Die Tabernakel van Moses: Deel 12 – Die Reukofferaltaar (Goue altaar)
Die Tabernakel van Moses: Deel 13 – Die Goue Kandelaar
Die Tabernakel van Moses: Deel 14 – Die Tafel met die Toonbrode
Die Tabernakel van Moses: Deel 15 – Die Voorhangsel
Die Tabernakel van Moses: Deel 16 – Die Allerheiligste
Die Tabernakel van Moses: Deel 17 – Die Verbondsark
Die Tabernakel van Moses: Deel 18 – Die Versoendeksel of Genadetroon
Die Tabernakel van Moses: Deel 19 – Die Inhoud van die Ark