
Ons is nou deur die Ingang of Poort van die Voorhof (Ex. 27:1-8). Die woestyn is agter ons. Ons staan in heilige gebied. Die vraag kom by ons – waarom het God hierdie heilige plek tussen Sy volk, in drie afdelings laat skep: naamlik die Voorhof, die Heiligdom en die Allerheiligste?
Israel was vir 430 jaar in Egipte. Vreemdelinge in ‘n vreemde land, sonder ‘n profeet of priester om hulle van die Here te leer. Nou wil God hom aan hulle openbaar. Hulle moes baie leer. Dit was ‘n langdurige proses en moes sistematies gedoen word. Israel was soos klein kindertjies. Hulle moes baie leer en baie afleer. Die Here het dus geduldig met hulle te werk gegaan en moes hulle deur voorwerp-lesse leer. Die Tabernakel met al sy gereedskap was vir hulle ‘n Wonderlike voorwerp-les. Dit het hulle sonde met sy dure gevolge, maar terselfdertyd ook die weg van Versoening gewys.
Alles het na Jesus en die Weg van Saligheid gewys:
Die Voorhof is die plek waar die sondaar versoening ontvang.
Daar word die sonde deur die bloed van die offer bedek.
Die Heiligdom kon alleen ingegaan word deur die Priesters.
In 1 Pet.2:5,9 word na die Verlostes verwys as ‘n
heilige Priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is…
Die Allerheiligste kon alleen deur die
Hoëpriester binnegegaan word en dit net eenmaal per jaar, en dan nie sonder
bloed nie.

DIE BRANDOFFERALTAAR HET BESTAAN UIT :
5.1 Die Horings
Die altaar het vier horings gehad, een op elke hoek. Horings is die simbool van “Krag en Sterkte”. Hulle het na alle rigtings gewys en spreek van voldoende krag om die hele wêreld te red. Die offerdiere was altyd aan die horings vasgemaak voordat hulle geslag is. Wat het Jesus aan die kruishout vasgehou? Dit was nie die spykers nie, maar bande van liefde vir verlore siele. Adonia het vir sy lewe na die altaar gevlug en aan die horings vasgehou vir veiligheid, totdat koning Salomo hom die versekering gegee het, dat hy hom nie sal doodmaak nie (1 Kon. 1:50:53).
5.2 Vier Ringe
Daar was ook vier koper-ringe aan elke hoek en twee draaghoute wat met koper oorgetrek is, waarmee die altaar van plek tot plek gedra is. Jesus het belowe Hy sal met ons wees tot aan die einde van die eeue, maar dan moet ons hierdie Evangelie aan al die volke, tot aan die einde van die aarde, verkondig.
5.3 Die Rooster
Die Rooster van koper, was waar die offerande en die hout gelê en verbrand word. Die As val dan deur in die panne.
5.4 Die As
Die As kon nie maar net weggegooi word om deur die wind orals verstrooi te word nie. Nee! Dit was heilig. Dit spreek van ‘n offer wat gemaak en deur God aangeneem is. Die as is ‘n bewys dat dit voldaan is. Dit moes in ‘n skoon plek gehou word, om die onreine te besprinkel, vernaamlik in die geval van melaatse.
Daarom moes Jesus se liggaan in ‘n nuwe graf gelê word (Luk.23:53). Sy versoeningsdood en opstanding is die middel wat onreiniges en geestelike melaatse reinig (Lev.6:9-11; Num.19:9).
5.5 Die Bloed
Die bloed van die offerdier moes by die voet van die altaar uitgegiet word. Die bloed was vir God en die as was vir die mens. Die bloed tipeer die Bloed van Jesus van ons reiging van alle sondes.
5.6 Die Vuur

Die Vuur op die Altaar moes gedurigdeur aan die brand gehou word. Die vuur mag nie doodgegaan het nie (Lev.6:13).
Waar het hierdie Vuur vandaan gekom?
En die heerlikheid van die Here het aan die hele volk verskyn – vuur het van die aangesig van die Here uitgegaan en op die altaar die brandoffer en die stukke vet verteer. – Lev.9:24
Die Vuur uit die hemel tipeer die uitstorting van die Heilige Gees op pinksterdag. Daarom mag die vuur van die Heilige Gees nooit uitgeblus word nie!
- Vuur is God se Heiligheid – s uiwer of verteer (heiligmaking/oordeel)
- Jesus se Dood het die Vuur van die Offeraltaar geblus.
- Die Prys was betaal!
Die Vuur was die simbool van God se teenwoordigheid en Sy heiligheid. Die vuur moes altyd aan die brand gehou word as bewys dat God altyd gereed is om te vergewe as ‘n offerhande op die altaar gelê word.
5.7 Die Offers.
Die besonderhede oor offers word in die boek Levitikus beskryf. Die betekenis van die offers is:
- Offers word altyd aan God self gebring. Deur te offer het die mens iets wat aan homself behoort, vir God opsygesit.
- ‘n Offer is ‘n manier om tot God te nader. God het die offerreëls neergelê sodat die mens met God vrede kon maak.
- Offers is vir almal. In die meeste ander godsdienste is sulke rituele die priester se geheim, en hierdeur verkry die priesters ‘n spesiale posisie. In Israel is die meeste offers deur die aanbidder gebring en nie deur die priester nie.
- Die offer het beperkte waarde. Die offer kon net vergoed vir onwillekeurige of onwetende sondes. Vir opsetlike ongehoorsaamheid kon ‘n offer net berou uitdruk. As ‘n sondaar vergewe wil word, moet hy direk vergifnis by God soek. Die Nuwe Testament stel dit ook duidelik dat die bloed van stiere en bokke nie die sonde weggeneem het nie, maar slegs bedek het.
‘n Offer is ‘n plaasvervanger. Die dood van die offerdier is as plaasvervangend vir die sonde van die persoon wat die offer gebring het. Vir sonde wat die doodstraf verdien het, kon nie met ‘n offerboete voorsien word nie; maar iemand wat sy sonde bely het en deur God vergewe is, het dikwels ‘n offer gebring as teken van sy berou. In die Nuwe Testament het die offerdood van Jesus wel die plek van die sondaar ingeneem (Gen.4;8:20;15;Lev.1-7;16-7;4:2;Hebr.10:4:9:11-12;10:12).
Kom kuier gerus weer saam vir die volgende paar weke wanneer ons die volgende onderwerpe gaan bespreek:
- Die Verskillende Offergawes.
- Die Koperwaskom
- Die Tabernakel
- Die Viervoudige Bedekking
- Die Heiligdom
- Die Reukofferaltaar (Goue Altaar)
- Die Goue Kandelaar
- Die Tafel met die Toonbrode
- Die Voorhangsel
- Die Allerheiligste
- Die Verbondsark
- Die Versoendeksel of Genadetroon
- Die Inhoud van die Ark
- Die Hoëpriester
- Die Orde in die laer, in die kamp en op trek
- Die Wolkkolom
- Die Groot Versoeningsdag
Groete tot dan!
Pastoor Kiewiet van Staden
Lees ook:
Die Tabelnakel van Moses: Deel 1 – Inleiding
Die Tabernakel van Moses: Deel 2 – Die wet en die tabernakel
Die Tabernakel van Moses: Deel 3 – Die Plan
Die Tabernakel van Moses: Deel 4 – Die Poort
Die Tabernakel van Moses: Deel 5 – Die Voorhof