
‘n Tipe (sinnebeeld, skaduwee, afbeeldsel, beeld) is ‘n Godbepaalde voorbeeld van een of ander waarheid. Die vervulling van die tipe word gewoonlik in die Nuwe Testament gevind. ‘n Tipe kan uitgebeeld word deur :
- ‘n Persoon (Rom.5:14 – Adam)
- ‘n Voorwerp (1 Kor.5:7 – Paaslam; Heb.10:20 – Voorhangsel)
- ‘n Instelling (Heb.9:11 – Priestersamp en Tabernakel )
- ‘n Gebeurtenis (1 Kor.10:11 – verskillende voorbeelde)
In die tweede brief van die apostel Paulus aan Thimotheus verklaar hy:
Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. – 2 Tim.3:16-17
Die mens kan slegs volhard en oorwin deur gemeenskap met God te hê, deur Sy Woord en Gees. In die evangelie volgens Johannes skryf hy:
Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe. – Joh.6:63
Daarom het die Woord skeppende krag. (Heb. 4:12).
Die studie van die Tabernakel is ‘n vereiste vir ‘n gesonde, vrugbare geestelike lewe. Omtrent vyftig hoofstukke beskryf die Tabernakel en die offers wat daarby behoort in Eksodus, Levitikus, Numeri, Deuteronomium en Hebreërs.
Die Plan van die Tabernakel is deur die Heilige Gees ontwerp. Besaleël was uitgekies om die plan uit te voer en kan gesien word as ‘n tipe van die Heilige Gees. Besaleël het gesorg dat alles noukeurig volgens plan gebou word – niks moes weggelaat of bygevoeg word nie. So ook met God se plan vir ons lewens: alles moet deur die Heilige Gees bewerk word, sodat ons sy tempels kan wees in wie Hy woon en werk soos Hy wil.
Die beskrywing van die Tabernakel

Die beskrywing van die Tabernakel behels die volle verlossingsplan: die sondaar uit die diepste moeras van sonde uitgelig na die hoogste terrein in die gemeenskap met God in die allerheiligste!
waarmee die Heilige Gees dit duidelik maak, dat die weg na die heiligdom nog nie geopen is solank as die eerste tabernakel nog standhou nie. Dit is ‘n beeld met die oog op die teenwoordige tyd waarin daar gawes en offers gebring word, wat hom wat die diens verrig, na die gewete nie volkome kan maak nie, omdat dit net bestaan het in spys en drank en verskillende wassinge en vleeslike verordeninge wat opgelê is tot op die tyd van herstelling. Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en stiere nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring. – Heb.9:8-12
Ons gaan die Tabernakel van Moses in diepte bestudeer oor die volgende paar weke. Kom kuier gerus weer saam wanneer ons die volgende onderwerpe gaan bespreek:
- Die Wet en die Tabernakel
- Die Plan
- Die Poort
- Die Voorhof
- Die Brandofferaltaar (Die Koper Altaar)
- Die Verskillende Offergawes.
- Die Koperwaskom
- Die Tabernakel
- Die Viervoudige Bedekking
- Die Heiligdom
- Die Reukofferaltaar (Goue Altaar)
- Die Goue Kandelaar
- Die Tafel met die Toonbrode
- Die Voorhangsel
- Die Allerheiligste
- Die Verbondsark
- Die Versoendeksel of Genadetroon
- Die Inhoud van die Ark
- Die Hoëpriester
- Die Orde in die laer, in die kamp en op trek
- Die Wolkkolom
- Die Groot Versoeningsdag
Groete tot dan!
Pastoor Kiewiet van Staden