
Die wonder van die Evangelie
In Markus 3:16-19 lees ons
“en Hy het op die berg geklim en na Hom geroep die wat Hy wou hê, en hulle het na Hom gekom. En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek en mag te hê om siektes te genees en die duiwels uit te dryf. En aan Simon het Hy die bynaam Petrus gegee; en verder Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, die broer van Jakobus— aan hulle het Hy die bynaam Boanérges gegee, dit is, seuns van die donder — en Andréas en Filippus, en Bartholoméüs en Matthéüs, en Thomas en Jakobus, die seun van Alféus, en Thaddéüs en Simon Kananítes, en Judas Iskáriot, hy wat Hom verraai het.”
Markus beskryf hier die roeping van die twaalf dissipels. Wat opvallend is, is dat Hy aan Johannes en Jakobus, die twee seuns van Sebedeus, die bynaam van “Boanérges, Manne van die Donder” gee. Hoekom so ‘n bynaam? Die woord “donder” Die oorspronklike betekenis van die woord donder is ook om geraas of alarm te maak.
Dieselfde woord vind ons ook in Ps.55:15:
“Ons wat innig met mekaar omgegaan het, in die huis van God gewandel het met die woelige skare.”
Lewende bybel:
“Hoe het ons nie mekaar se geselskap geniet as ons in die feestye saam tempel toe is nie.”
“Woelig” hier beteken opgewonde, entoesiasties.
Dit het niks met verwoesting te doen nie. Die Here sê vir ons hoe ons in Sy koninkryk moet arbei: met opgewondenheid met blydskap, en ywerig. Ons moet nie net hoorders van die Woord bly nie, maar opgewonde daders van die woord word.
Ons lewe in ‘n chaotiese wêreld, maar dit is juis in hierdie omstandighede wat Jesus ons roep om sy dissipels te wees. Nie om te heers nie, maar om te dien. Want dit is juis die voorbeeld wat Jesus kom stel het nl, om te dien.

Is ons bereid om te dien?
Ons moet ‘n keuse maak. Om ‘n lewe van diens te kies, is om in Jesus se voetspore te volg en om tot diens van jou medemens te kan wees.
Ons moet saam met Jesus die Getsemanepad stap. ʼn Dissipel se reis is nie ‘n Ethopia nie, met ander woorde ‘n plek van net vreugde en voorspoed nie.
Maar dalk meer ʼn plek om deur ons vriende verstoot te word of deur ons familie verwerp te word, bespot te word en waar ons onsself blootstel aan bespottings.
Op ons eie gaan ons nie oorleef nie, daarom het ons die Heilige Gees as waarborg. As ons dit glo, kan ons as nuwe mense opstaan en ons naaste gaan dien.
Ons moet daders van die Woord wees. Juis daarom is Jakobus se woord so tydig in Jak.1:23, 24.
“Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is een wat na sy gesig in ‘n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het“.
Hierdie persoon van wie Jakobus skryf is haastig! Hy hoor die Woord, sien homself in die lig van die Woord, sien hoe hy lyk, wat God van hom wil hê, maar hy gaan weg en vergeet hoe hy gelyk het. Hy vergeet die Woord én wat die Woord in sy lewe beteken. Die gevolg: hy kom later nie eers meer terug om die Woord van God te hoor nie – hy dwaal heeltemal af.
Maar hy wat die woord sy eie maak is anders as die een wat net hoor,
Die dader hoor die woord, oordink dit laat dit is sy hart groei. Dit bring nuwe lewe in hom, daarom gaan hy met entoesiasme en blydskap uit om die woord te bedien.
Hy gaan nie weg soos die Hoorder nie, maar bly in die Woord.
Die twee seuns van Sebedeus, Jakobus en Johannes, het eintlik ‘n kosbare en kostelike bynaam, of sal ek sê “erenaam”, ontvang. Ons gee ‘n bynaam nadat ons iets in iemand se karakter sien wat hom kenmerk. Maar omdat Jesus waarlik God is, gee Hy dit vooruit.

Hoe lyk ‘n lewe van diensbaarheid?
- Dit is soos ‘n huwelik waar die man en vrou met mekaar praat en na mekaar luister, waar kinders begrip het vir ouers se omstandighede.
- Dit is waar mense wat nie dieselfde standpunte het nie, maar mekaar respekteer en verdraagsaamheid openbaar deur nie mekaar se menswaardigheid aan te tas nie, maar wel die saak waarom dit gaan.
- Dit is ʼn plek waar elke persoon sy gawes beskibaar stel tot uitbreiding van God se koninkryk.
So ‘n optrede vra nie om volmaak en sonder foute te wees nie. Net soos Jesus se dissipels, leef ons baie maal soos mense wat blind is vir ander se behoeftes, terwyl ons net op onsself en op ons eie behoeftes gefokus is.
Dissipelskap beteken juis om te leef vanuit God se vergifnis, want Hy is die God wat ‘n tweede kans gee! Maar om dit te wees moet ons ook soos Jakobus en Johannes die bynaam Boanérges kry.:
- Dit is hulle wat iemand wou keer om duiwels uit te drywe (Mark 9:38)
- Dit was ook hulle wat gesê het hulle kan die lydensbeker drink wat Jesus gaan drink en met sy doop gedoop word (Mark.10:35–39)
- Hulle wou vuur uit die hemel afroep om ’n Samaritaanse dorp te verbrand (Luk.9:54)
- Hierdie drie, Petrus, Jakobus en Johannes het alleen saam met Jesus verder gegaan na Jaïrus se huis (Mark.5:37)
- Hulle was saam met Hom op die berg van verheerliking (Mark.9:2)
Jesus het hulle die bynaam Boanérges gegee, dit wil sê “manne van die donder” – hulle was woelig en opgewonde. Hulle was entoesiasties oor die evangelie.
Is ek en jy ook so opgewonde oor die evangelie?
Is ons bereid om so sterk standpunt in te neem vir die evangelie wat die Here aan ons toevertrou het?
Elkeen van ons sal so ‘n besluit moet neem, en hoe eerder ons dit doen hoe vreugdevoller sal ons lewe word.
WEES OPGEWONDE OOR DIE EVANGELIE!
Groete in Christus, Pastoor Kiewiet