Dames Mentorgroep

ELKANA DAMES MENTORGROEP

Dinsdae om 10:00

Ons het Dinsdag-oggend, 10 April 2018, met ons eerste “Dames Mentorgroep” by die kerk begin.

Gedurende hierdie byeenkomste gaan ons op ‘n “Gebedsreis” en leer hoe verander ons ons wêreld deur gebed:

“Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking…” leer Jakobus ons in Jakobus 5:16.

Baie mense bid nie meer nie, want hulle ken nie die krag van gebed nie.

By ander is sonde ‘n groot skeidsmuur tussen hulle en God.

Baie mense wil weet hoe om die Bybel in hulle gebedstyd te gebruik.

Nog ander wil weet hoe ‘n mens dit regkry om ‘n uur lank te bid as hulle prakties ervaar dat hulle na twee of drie minute “uitgebid” is.

Ons wil die bidder help om te weet wat sy moet doen wanneer sy bid.

Ons wil julle ook help om alle hindernisse tussen ons en God te verwyder sodat ons effektief kan bid. Ons gaan bepaalde vaardighede leer, sodat ons meer sinvol en effektief kan bid, en sodat ons in ons persoonlike stiltetyd groter vreugde en bevrediging sal ervaar.

Die onderwerpe wat ons gaan behandel is:

  • Deel 1: Die individu se Gebedslewe
  • Deel 2: Die Voorbidder se Gebedstaak
  • Deel 3: Praktiese Riglyne vir Voorbidders
  • Deel 4: Persoonlike Voorbidders vir Geestelike werkers se Gebedslewe

Ons nooi alle dames om saam met ons te kom leer, bid en kuier.

Nooi gerus ‘n vriendin saam.

Bring asb ook die volgende saam:

  • Jou Bybel
  • ‘n Notaboekie
  • ‘n Pen of potlood.

Sien julle elke Dinsdagoggend om 10:00 by die kerk.

Wanneer jou gebedslewe struikel

1.   Hand.6-7; Luk.7:1-10; Ps.118:1-9; Spr.15:27-30

2.   Die vyand weet wat jou Godgegewe potensiaal is, en is vasbeslote om jou te keer voor jy dit kan bereik.

3.   Gebed vorm ‘n hemelse skild om jou, moenie dit verwaarloos nie!

4.   Mense struikel wanneer niemand vir hulle voorbidding doen nie – in Lukas 22:31 lees ons dat selfs die apostel Petrus geskruikel het.

5.   Baie mense glo dat húlle nie sal struikel nie, tog gebeur dit.

6.   Tensy jy erken dat jy altyd ‘n neiging tot die sonde sal hê, sal jy nie daaroor bid nie en so altyd kwesbaar vir die vyand se aanslag wees.

7.   Gedurende sy laaste ure het Jesus ook sy dissipels gewaarsku,

‘Wees waaksaam en bid. Anders sal die versoeking vir julle te sterk word. ‘n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.”‘: ‘Wees waaksaam, bly in gebed sodat jy nie in die versoeking kom sonder om eens te besef dat jy in gevaar is nie.’

8.   Paulus skryf in Efesiërs 6:13-18 (NLV):

“Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek… wanneer die Bose julle aanval sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan… Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei.”

9.   Verwaarlosing van jou gebedslewe is die vyand se beste wapen teen jou!

10.   Ons ou sondige natuur moet elke dag gekruisig word.

11.   Dít doen ons deur gebed. In God se teenwoordigheid sien jy jouself soos Hy jou sien.

12.   Wanneer ons berou toon, openbaar God ons tekortkominge aan ons, dan neem Hy jou sonde weg en versterk Hy jou. Wanneer jou gebedslewe struikel, verloor jy jou beskerming. Dus, waak en bid gedurig!

13.   Bid sonder ophou.