Mentorgroep

Wat behels ‘n Mentorgroep?

‘n Mentorgroep is ‘n byeenkoms van ‘n groepie mense wat hulself verbind tot ware dissipelskap. Voordat enigiemand enigsins daaraan kan dink om ander mense vir God te dissipeleer, moet hyself eers ‘n ware dissipel van God wees. Hierdie groepie kan wissel van twee tot soveel persone as wat die mentor (voorganger) suksesvol kan toerus.

Persone wat ‘n mentorgroep bywoon, moet ‘n begeerte hê om God se doel vir hulle lewe te vind en dit uit te voer. Die hoogste roeping van elke weergebore Christen is om God te aanbid in absolute gehoorsaamheid en daagliks te funksioneer in ‘n lewe van geloof. Hierdie gehoorsaamheid verwag van ons om aan ander mense ook die geleentheid te bied om erfgename van hierdie oorvloedige lewe in Jesus Christus te word. As ons hieroor gaan swyg, kan die gebroke mensdom nie hierdie lewe vind nie, aangesien Rom.10:17 verklaar dat geloof hoofsaaklik deur “die gehoor” kan kom.

Hierdie oorvloedige, geseënde en gelukkige lewe is vir alle mense beskore. Maar om daarin te funksioneer, vereis geloof en gehoorsaamheid aan God se Koninkryksvoorskrifte. God roep elkeen van ons om eers self ‘n ware dissipel te wees, sodat ons ander dissipels vir God se Koninkryk kan maak. Die dissipelering van nuwe bekeerlinge is die grootste taak wat deur Jesus self aan elke gelowige opgedra is.

Die Samestelling van ‘n Mentorgroep

In 1 Joh. 2:12-13 word drie stadiums van geestelike volwassenheid beskryf. Dit is moontlik dat persone wat in een van hierdie stadiums verkeer, asook wêreldlinge, binne ‘n mentorgroep aangetref kan word:

  1. Die Mentor (Begin soos Jesus lyk en leef)
  2. Jong Christene (Leer Jesus ken)
  3. Nuwe Bekeerlinge (Het Jesus reeds ontmoet)
  4. Wêreldlinge (Het Jesus nog nie ontmoet nie)

 

Die Mentor:

Dit is iemand wat reeds sekere tekens van volwassenheid in Christus toon, en die verantwoordelikheid aanvaar het om die primêre opdrag van sy/haar lewe uit te voer nl.: “Om dissipels te maak” (Matt. 28:19) deur:

  1. Te Gaan
  2. Te Doop
  3. Te Leer

Hierdie geestelike voorgangers is allermins volmaak, maar begin om deur God se genade van die karaktereienskappe van Jesus uit te leef. Die teenwoordigheid van God is sigbaar in hulle lewe en hulle strewe om eers die Koninkryk van God te soek in die wete dat God ook in al hulle ander behoeftes sal voorsien. Hulle is sout van die aarde” en lig van die wêreld” en tree op as vredemakers. Hulle sal, met die hulp van God, ook in staat wees om vervolging te kan verdra. Verder neem hierdie persoon die verantwoordelikheid op om minder volwasse kinders van God by te staan en hulle toe te rus om in God se oorvloedige lewe te begin leef. Die mentor sal poog om elkeen in die mentorgroep te lei tot ‘n volwasse verhouding met God en hulle dan uit te daag om self as ‘n Mentor op te tree.

 

Jong Christene:

Dit is mense wat in die “Jongman-Christen-fase” (1 Joh. 2:13) optree. Hulle is weergebore, gevul met God se Gees, en hulle lewe getuig van ‘n persoonlike verhouding met God. Hulle strewe na heiligmaking, en geestelike oorwinnings kom gereeld voor. Hulle is lojaal teenoor God omdat hulle daagliks “honger en dors” na Sy geregtigheid. Hulle reik uit na ander mense in barmhartigheid en strewe na ‘n rein hart voor God.

Hulle moet uitgedaag word om met mense te begin praat oor die krag van God se koninkryk, en self die verantwoordelikheid tot mentorskap te aanvaar. Hulle moet die Koninkryk van God verstaan en die beginsels daarvan in hulle eie lewe begin toepas.

 

Nuwe Bekeerlinge:

Dit is diegene wat in die “Kinder-Christen-fase” (1 Joh. 2:12) beweeg. Hulle is bekeerd en het besluit om Jesus as Verlosser en Koning van hulle lewe aan te neem.

Alhoewel hulle reeds deur Jesus nuut gemaak is, kan tekens van geestelike onvolwassenheid van tyd tot tyd voorkom. Hulle is in die proses waar hulle bewus geword het van hulle geestelike armoede voor God en dat hulle slegs uit genade gered kan word. En as gevolg van hulle self-erkende geestelike bankrotskap, begin hulle ween oor hulle verlore toestand. Hulle word bewus van die grootheid van God en begin om hulle eie wil aan God se wil te onderwerp. In hierdie fase begin hulle om die “eie ek” en alle trotsheid af te sterf. Hul kennis van God se Koninkryk kan beperk wees. Hulle moet toegerus word tot vervulling met die Heilige Gees en kennis oor hulle herstelde gesag. Hulle onverskrokke benadering om na geliefdes uit te reik, moet aangewend word ten einde ander ongeredde mense na die groep te bring. Van hulle geliefdes sal op hierdie uitnodiging reageer, aangesien die groot en skielike verandering in hulle lewe natuurlikewys tot mense sal spreek.

 

Wêreldlinge:

Dit is almal wat by die groep betrokke raak deurdat hulle:

  1. Deur die Christus-karakter van lede van die groep geïnspireer word.
  2. Doelbewus deur uitreiking genooi word.
  3. Die getuienis van ‘n oorvloedige en gelukkige lewe by lede van die groep sien.
  4. Hulle op soek is na die vervulling van hulle persoonlike behoeftes.

Hierdie mense het nog nie ‘n doelbewuste besluit vir God geneem nie. Die groep moet sonder enige veroordeling met liefde na hulle uitreik. Hulle mag dalk ‘n sekere Christelike basis hê of glad nie. Hulle moet stelselmatig tot bekering gelei word deur hulle bewus te maak van die grootheid en liefde van God en dat hulle geestelik voor God bankrot is en slegs deur genade gered kan word.

Byeenkomste:

Die mentorgroep kom weekliks bymekaar, soos deur die Mentor voorgestel en deur die groep ooreengekom. Die klem is ‘n verhouding met God, ‘n verhouding met mekaar en ‘n leefwyse in die beginsels van God se onwankelbare Koninkryk.

 

Indien u belangstel om deel van ‘n Mentorgroep te word, skakel gerus pastoor Kiewiet van Staden (082 446 8583).