HOE BEGIN EK MET ’N GEBEDSLEWE?
Jy vra miskien: Maar dit gaan so dol in die oggend, waar moet ek nog gebedstyd inpas?
Gebed is ’n verhouding met ons Hemelse Vader en moet daarom ’n integrale deel van ons daaglikse roetine uitmaak. Ek kan nie my dag sonder gebed begin nie. Ons hou so streng by ons daaglikse oggend roetine, maar vergeet so maklik dat net om in die oggend wakker te word is alreeds ’n geskenk uit God se hand – Hy skenk my nog ’n dag. Wat ek met die volgende 24 uur gaan doen, is my geskenk aan Hom.
Ek wil jou UITDAAG met die volgende:
1. Neem ’n besluit – begin met 1 minuut stiltyd per dag.
2. Volhoubaarheid – doen dit elke dag.
3. Dankoffers – voordat jy jou dag begin, sê net dankie vir die Here. Selfs die asem wat ons het, het Hy aan ons gegee.
“En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.” – Gen.2:7
4. Lees jou Bybel – begin met Psalms. Dit is ook lof wat jy aan God bring.
“ Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.” – 2 Tim 3:16-17 (Afr 83)
Die hele Skrif kom direk van God af. Daaruit kan ons so baie leer. Dit help ons om te wys waar mense die pad byster raak en om hulle weer reg te help. Uit die Skrif kan ons ook vir mense wys hoe God wil hê hulle moet leef. Op dié manier sal iemand wat God s’n is, weet wat God van hom verwag en só reg wees om behoorlik vir God te werk.
Wanneer my gebedslewe egter struikel
Lees die volgende Skrifgedeeltes: Hand. 6-7; Luk. 7:1-10; Ps. 118:1-9; Spr. 15:27-30
- Die vyand weet wat jou Godgegewe potensiaal is, en is vasbeslote om jou te keer voor jy dit kan bereik.
- Gebed vorm ‘n hemelse skild om jou, moenie dit verwaarloos nie!
- Mense struikel wanneer niemand vir hulle voorbidding doen nie – selfs die apostel Petrus (Lukas 22:31).
- Baie mense glo dat húlle nie sal struikel nie, tog gebeur dit.
- Tensy jy erken dat jy altyd ‘n neiging tot die sonde sal hê, sal jy nie daaroor bid nie en so altyd kwesbaar vir die vyand se aanslag wees.
- Gedurende sy laaste ure het Jesus ook sy dissipels gewaarsku, ‘Wees waaksaam en bid. Anders sal die versoeking vir julle te sterk word. ‘n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.”‘: ‘Wees waaksaam, bly in gebed sodat jy nie in die versoeking kom sonder om eens te besef dat jy in gevaar is nie.’
- Paulus skryf: ‘Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek… wanneer die Bose julle aanval sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan… Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei.’ (Efesiërs 6:13-18 NLV).
- Verwaarlosing van jou gebedslewe is die vyand se beste wapen teen jou!
- Ons ou sondige natuur moet elke dag gekruisig word.
- Dít doen ons deur gebed. In God se teenwoordigheid sien jy jouself soos Hy jou sien.
- Wanneer ons berou toon, openbaar God ons tekortkominge aan ons, dan neem Hy jou sonde weg en versterk Hy jou. Wanneer jou gebedslewe struikel, verloor jy jou beskerming. Dus, waak en bid gedurig!
- Bid sonder ophou.
Indien u hulp benodig op u gebedsreis of nodig het dat iemand saam met u bid of dat ons saam met u moet intree in gebed, skakel ons gerus!