
Die volk het laer getrek by Sinai. Elke dag het hulle met vrees en bewing na die wolk op die berg gestaar (Ex. 19:16-20). Want dit was ‘n teken dat God sou afkom om met hulle te praat. Die Here het Hom op verskillende tye aan die kinders van Israel op spesiale wyse geopenbaar. Elke keer as die volk verkeerd gehandel het, gemurmureer of gerebelleer het, het God Homself in die wolkkolom geopenbaar. Soms was dit deur pes-siektes wat onder hulle uitgebreek het, of dan weer deur vurige slange of dan weer deur ‘n luide stem wat hulle met vrees en bewondering gevul het.
By Elim (Ex.15:27) het die volk kamp opgeslaan by die 12 waterfonteine en 70 palmbome. By Mara het hulle gemurmureer oor die slegte water, maar nooit ‘n woord gemeld omtrent gebrek aan brood nie. Miskien het hulle groot voorrade brood uit Egipte saamgebring. Derhalwe het daardie voorraad brood so gekrimp dat die 3 miljoen mense spoedig die dood in die gesig moes staar.
1.1 Die voorsiening van Manna
Om verder aan te gaan sonder kos was ‘n gewisse dood. Om terug te keer na Egipte was buite die kwessie. Hulle sou sterf nog voor hulle weer die grense van Egipte bereik. Die volk verwyt Moses en Aäron dat hulle van die vleispotte en die volop brood van Egipte weggelei is, net om in die woestyn van honger om te kom. (Ex. 16:2-3)
Waarom het hulle nie hier die aangesig van die Here vir hulle behoeftes gesoek nie? God het verskeie kere aan hulle getoon, dat Hy getrou aan Sy verbond mat Abraham gebly het. Die skaarste aan brood was wel baie kritiek, maar het God hulle nie op ‘n bo-natuurlike wyse uit Egipte uitgelei nie, hulle deur die Rooi See droogvoets geneem, hulle tot hiertoe deur die wolkkolom oorskadu en gelei en die bitter waters soet gemaak? Kon Hy dan nie nou ook aan hulle brood voorsien nie?
Hoe anders sou die geskiedenis nie gewees het nie. Hoe sou hulle die hart van God verbly het, as hulle na Hom met al hulle behoeftes gekom het, wetend dat Hy met hulle in ‘n Bloedverbond verenig is? In plaas daarvan het hulle Hom verwerp en begin murmureer. Die Here het al hierdie murmurering gehoor, maar het nie ontrou aan Sy verbond geword nie. Hy gee hulle toe die belofte dat Hy vir hulle BROOD UIT DIE HEMEL sal laat reën, sodat hulle sal weet dat Hy hulle Verbonds-God is (Ex.16:4-12).
Vanaf die 13de tot 36ste vers, lees ons hoe hulle die manna moes versamel. En so het die Here hulle vir 40 jaar lank op ‘n bo-natuurlike wyse gevoed.
1.2 Die Wet word aan die volk gegee

Na ‘n reis van drie maande kom hulle in die woestyn van Sinai. Die tyd het nou aangebreek dat die Here vir hulle die Wet moes gee – omdat hulle geestelik dood is!! (1 Tim.1:5-10) moes die Wet aan hulle gegee word om elke fase van hulle lewens te regeer (Ex.19:1-8).
Voor die Wet gegee is, het God Moses op die berg geroep. Daar het die Here Sy getrouheid aan Sy verbond herhaal, en Israel moes nou besluit of hulle die Here in die toekoms as hulle Verbonds-God gaan gehoorsaam wees, maar GOD SOEK GEHOORSAAMHEID (Ex. 19:8).
Daarna het die
Here Hom aan hulle op die berg geopenbaar. (Ex. 9-25). Hierdie openbaring was
ook weer op die vlak van hulle fisiese sintuie. Hulle kon die rook en die vuur
sien en ruik en die stem van die trompet hoor sterker en sterker blaas (vers
18).
1.3 Die Wet was in drie afdelings verdeel
- Die Gebooie wat die Heilige Wil van God verklaar Ex. 20:-27.
- Die Oordele wat die samelewe van die volk reguleer Ex. 21:1-24.
- Die Verordeninge wat die godsdienstige lewe van Israel reguleer Ex 22:12-31.
1.4 Die wet word op drie verskillende maniere aan die volk gegee
- Die Wet was eerstens mondeliks aan Israel gegee Ex. 20:1-17.
- God het Moses op die berg geroep om die Tafels van Klip te ontvang (Ex.24:12-18). Moses het ook die bevele omtrent die Tabernakel, Priesters en die Offeranders op die berg van God ontvang (Ex. 25:31). Intussen het die volk, onderleiding van Aäron, die Eerste gebond verbreek (Ex. 32). Toe Moses van die berg afkom en die afgode aanbidding sien, het hy die twee Kliptafels, waarop God met Sy eie vinger die Tien Gebooie geskrywe het, stukkend gegooi (Ex. 31:18; 32:6-9).
- Derdens is die twee Kliptafels deur Moses gemaak en die Wet is deur die Here se hand, daarop geskrywe (Ex.34:1; 28-29; 1 Joh. 1:6-10; Matt. 5:17-43).
Kom kuier gerus weer saam vir die volgende paar weke wanneer ons die volgende onderwerpe gaan bespreek:
- Die Plan
- Die Poort
- Die Voorhof
- Die Brandofferaltaar (Die Koper Altaar)
- Die Verskillende Offergawes.
- Die Koperwaskom
- Die Tabernakel
- Die Viervoudige Bedekking
- Die Heiligdom
- Die Reukofferaltaar (Goue Altaar)
- Die Goue Kandelaar
- Die Tafel met die Toonbrode
- Die Voorhangsel
- Die Allerheiligste
- Die Verbondsark
- Die Versoendeksel of Genadetroon
- Die Inhoud van die Ark
- Die Hoëpriester
- Die Orde in die laer, in die kamp en op trek
- Die Wolkkolom
- Die Groot Versoeningsdag
Groete tot dan!
Pastoor Kiewiet van Staden
Lees ook:
Die Tabelnakel van Moses: Deel 1 – Inleiding