Die Tabernakel van Moses: Deel 3 – Die Plan

Die Rede vir die Tabernakel

In Ex. 25:8 het die Here vir Moses die opdrag gegee:

Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon.

Ex. 25:8

Daar moes ‘n tasbare woning wees waarin die Here onder hulle kon woon, waar hulle deur middel van priesters na God kon kom. Vir die bou van die Tabernakel het God van hulle vrywillige offergawes gevra (Ex. 25:2). Hulle harte moes gewillig wees om Sy teenwoordigheid tussen hulle te hê (Num. 3:1-13; 18:16 (eersgeborene). Die Tabernakel moes presies soos die voorbeeld wat God aan Moses op die berg gewys het, gemaak word. (Ex.25:8).

Die Tabernakel is ‘n tipe van Christus en Sy Versoeningswerk wat Hy vir die mens teweeg sou bring, daarom moes elke besonderheid presies wees volgens wat die patroon is wat God aan Moses gewys het. Hierdie magtiger en wonderliker werk sou voltooi word, in die Verlossing van ons siele deur Jesus Christus.

Die Wet van die Eersgeborenes

Ex. 13:1-16 gee God die opdrag aan Moses om al die eersgeborenes aan Hom te heilig. Met ander woorde al die eersgeborenes het aan God behoort (Num.3:1-51; 8:16-19). Die Tabernakel is ‘n simbool van drie Tipes – Christus, Die Gemeente, Die Gelowige.

Nou besit die Leviet geen Erfdeel – die Here is sy Erfdeel (Num.18:20; Eseg.44:28).

Die Beskrywing van die Plan

Rondom die Tabernakel was ‘n heining. Aan die oostekant van die omheining was die poort wat die enigste toegang gebied het tot die heiligdom. Hierdie poort het gelei na die Voorhof.

Binne die Voorhof het die Brandofferaltaar, die Koperwaskom en die Tabernakel gestaan. Die Tabernakel het die indruk geskep van ‘n reghoekige gebou met ‘n plat dak. Dit was in twee ongelyke dele verdeel. Die voorste het na die ooste gekyk. Dit is die Heiligdom genoem. Die agterste gedeelte wat deur die voorhangsel geskei was van die eerste deel, is die Allerheiligste genoem.

In die Heiligdom was drie meubelstukke:

  • die Tafel met die toonbrode aan die noordekant
  • die Goue Kandelaar aan die suide
  • die Reukofferaltaar (Goue altaar) tussen die twee teen die voorhangsel aan die westekant

In die Allerheiligste het die Ark van die verbond, die genadetroon gestaan. Ons het hier sewe meubelstukke wat spreek van die volmaaktheid van Hom na Wie gewys word. ‘n Reguit lyn vanaf die Brandofferaltaar tot by die Ark van die verbond wat kruis met ‘n reguit lyn van die Tafel met die toonbrode tot by die Goue kandelaar, vorm ‘n kruis. Dit spreek slegs van een ding: die begin en die einde van ons saligheid is in die kruis van Jesus  (Ex. 25-30).

Die plan word deur ‘n Hoofwerksman uitgevoer

Sy naam was Besaleël (Ex. 31:1-6). Besaleël beteken “in die skaduwee van God”. Dit wys op die Here Jesus, die Eniggeborene, wat in die boesem van die Vader is. Soos Besaleël vervul was met die Gees van God, met wysheid en verstand en kennis en bekwaamheid, om die plan van die Tabernakel uit te voer, so het ons ook die Gees van die Here, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here (Jes.11:2) nodig, om die geestelike tempel in hierdie dispensasie te voltooi. 

God is nie net besig om Sy Gemeente uit die nasies voor te berei nie, maar ook elke indiwidu.

En laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis

1 Petr.2:5

Die Materiaal

God het vrywillige offers geëis om die Heiligdom op te rig. Die volk het gewillig gebring, sodat Moses ‘n oproep deur die laer laat gaan het dat hulle nie meer moes bring nie. Daar was meer as genoeg Ex.36:6-7.

Die Woord van God leer ons om ons tiendes na die skathuis te bring, sodat daar spyse in die die huis van die HERE kan wees.

Beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie

Maleagi 3:10

Ons sterk eiewysige en hardkoppige wil moet kruis toe sodat ons geen reg of keuse aan onsself sou hê nie.

Dit is die Boumateriaal vir die tempel van God.


Kom kuier gerus weer saam vir die volgende paar weke wanneer ons die volgende onderwerpe gaan bespreek:

  • Die Poort
  • Die Voorhof
  • Die Brandofferaltaar (Die Koper Altaar)
  • Die Verskillende Offergawes.
  • Die Koperwaskom
  • Die Tabernakel
  • Die Viervoudige Bedekking
  • Die Heiligdom
    •             Die Reukofferaltaar (Goue Altaar)
    •             Die Goue Kandelaar
    •             Die Tafel met die Toonbrode
  • Die Voorhangsel
  • Die Allerheiligste
    •             Die Verbondsark
    •             Die Versoendeksel of Genadetroon
    •             Die Inhoud van die Ark
  • Die Hoëpriester
  • Die Orde in die laer, in die kamp en op trek
  • Die Wolkkolom
  • Die Groot Versoeningsdag

Groete tot dan!

Pastoor Kiewiet van Staden

Lees ook:

Die Tabelnakel van Moses: Deel 1 – Inleiding

Die Tabernakel van Moses: Deel 2 – Die wet en die tabernakel

Volg ons asb:

One Comment

Comments are closed.