Die Tabernakel van Moses: Deel 4 – Die Poort

Die Hoëpriester moes by die poort ingaan om binne-in die voorhof, die Heilige of die Allerheiligste te kom. Hierdie poort is vir almal oop (Matt.7:7). Jesus Christus alleen is die poort van die nuwe bedeling, dus die weg tot saligheid (Joh.14:6).

In Ex. 25:8 beveel God vir Moses

Ook moet julle vir My ‘n Heiligdom maak dat Ek in julle midde kan woon

Ex.38:18

En die bedekking van die poort van die voorhof was veelkleurige werk, van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne.

Dieselfde beskrywing van die Tabernakel sien ons ook in Ex. 25-30 en in Ex. 36-40. Die rede is dat die eersgenoemde skrifgedeelte bevat die instruksies soos die Here dit aan Moses gegee het en die laasgenoemde skrifgedeelte, het ons ‘n beskrywing van hoe Moses dit in die fynste besonderhede uitgevoer het.

Die Here het met Sy instruksies, omtrent die bou van die Tabernakel, geeïndig by die Poort van die Voorhof. Die Here het begin met die Verbondsark en die Versoendeksel in die Allerheiligste, en daarvandaan uitgewerk na die Heiligdom waar die Tafel van die Troonbrode, die Goue Kandelaar en die Reukofferaltaar was en toe deur die Voorhof met die Koper Waskom en die Brandofferaltaar (Koper Altaar) tot by die Poort of Ingang.

Ons begin dus waar die Here opgehou het en dit is van groot betekenis. Die Saligheidsplan van God is ‘n voltooide taak en ons begin met ‘n voltooide werk en gaan terug na sy oorsprong.

As ons na die wit linnemuur van die Voorhof kyk, dan is die mees uitstaande wat ons opmerk, die wye ingang met sy gordyne van Blou, Purper,  Bloedrooi en Spierwit linne.

Die Poort is ‘n simbool van Jesus Christus as mens, die enigste toegang tot God. Jesus self verklaar: Ek is die deur as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.

Die onafgebroke muur van wit linne aan die Noorde, Suide en Weste kant was die skeiding tussen die wêreld daar buite en die heilige woonplek van God aan die binnekant en niemand sou gewaag het om daardeur te dring nie, uit vrees om vernietig te word. Almal wat tot God wou kom, kon dit alleen doen, deur by die Poort in te gaan.

Daar was vier pilare in die Poort en tussen hulle het daar vier gordyne gehang, elkeen met ‘n afsondelike kleur.

3.1  Die vier Pilare

Die vier Pilare stel vir ons die lewe van Christus in die vier Evangelies voor:-

  • Matthèüs – stel Jesus aan ons voor as die Koning soos deur die profete voorspel in die Ou Testament.
  • Markus – stel Jesus aan ons voor as die Dienskneg van die Allerhoogste, wat orals rondgegaan en goed gedoen het.
  • Lukas – verwys na Jesus as die Seun van die mens wat gekom het om diè te soek  wat verlore gaan.
  • Johannes – stel Jesus weer aan ons voor as die Seun van God, die eniggeborene van die Vader.

3.2  Die vier kleure van die Gordyn

Die vier kleure van die Gordyn van die Ingang spreuk van die volgende :

  • Blou (pers Ex.27:16) tipeer die kleur van die hemel, waar God die hemel verlaat het om mens te word, as versoening vir ons sondes
  • Purperrooi tipeer die teken van Jesus se koningskap en majesteit
  • Bloedrooi spreek van Sy lyding en gestorte bloed
  • Spierwit linne is ‘n simbool van Sy vleklose reinheid van Sy lewe op aarde as mens (1 Pet.2:22-23). Linne spreek van diens en dubbeldraad linne leer ons dat Jesus se opoffering vir die mens van meer krag as enige ander mens in staat was.

3.3  Die Pilare van die Linne-muur  (Ex. 27:17) Die linne-gordyn wat die muur van die voorhof vorm, word deur 60 pilare opgehou. Die pilare was van akasiahout gemaak. Die pilare was met koper oorgetrek. Elke pilaar se bo-punt was van silwer, met silwer ringe en silwer kramme. In die twee silwer ringe het die stawwe wat die gordyn aan gehang het, gehaak en aan die kramme was die ankertoue wat die pilaar stewig hou, aan vasgemaak.


Kom kuier gerus weer saam vir die volgende paar weke wanneer ons die volgende onderwerpe gaan bespreek:

  • Die Voorhof
  • Die Brandofferaltaar (Die Koper Altaar)
  • Die Verskillende Offergawes.
  • Die Koperwaskom
  • Die Tabernakel
  • Die Viervoudige Bedekking
  • Die Heiligdom
    •             Die Reukofferaltaar (Goue Altaar)
    •             Die Goue Kandelaar
    •             Die Tafel met die Toonbrode
  • Die Voorhangsel
  • Die Allerheiligste
    •             Die Verbondsark
    •             Die Versoendeksel of Genadetroon
    •             Die Inhoud van die Ark
  • Die Hoëpriester
  • Die Orde in die laer, in die kamp en op trek
  • Die Wolkkolom
  • Die Groot Versoeningsdag

Groete tot dan!

Pastoor Kiewiet van Staden

Lees ook:

Die Tabelnakel van Moses: Deel 1 – Inleiding

Die Tabernakel van Moses: Deel 2 – Die wet en die tabernakel

Die Tabernakel van Moses: Deel 3 – Die Plan

Volg ons asb: