Die groot wittroon oordeel
En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp. – Open. 20:11-15
Omdat die aarde reeds onderwerp was aan vernietiging is dit duidelik dat hierdie oordeel sal plaasvind op ‘n ander plek êrens in die ruimte.
Die Groot Wittroon Oordeel vind plaas
- na die duisendjarige vrederyk en
- na die vernietiging van die aarde deur vuur,
- duisend jaar na die wederkoms van Christus.
En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank. – Open.20:4-6
Die volgende sal geoordeel word:
- Die duiwel en sy engele (demone)
- Die gevalle engele (wie eens heilige wesens was en saam met Satan gerebelleer het)
- Die antichris
- Die valse profeet
- Al die ongereddenes, verlore dooies, vanaf die begin van die skepping af, wie die saligheidsplan van God verontagsaam en verwerp het.
Omdat die aarde reeds onderwerp was aan vernietiging is dit duidelik dat hierdie oordeel sal plaasvind op ‘n ander plek êrens in die ruimte.
Hierdie oordeel is nie vir sondes nie – dit is reeds op die kruishout van Golgata versoen, dit is omdat hulle die genadegawe van God nie aangeneem het nie, maar dit verwerp het.
Die skuldiges staan selfveroordeeld, sonder geloof, sonder vergifnis, sonder reiniging van die Bloed van die Lam en sonder wedergeboorte. Hulle word in die poel van vuur, die tweede dood, gewerp, waar hulle geskei sal wees van God en Sy heerlikheid.

Gevolgtrekking
Die stryd tussen hierdie twee koninkryke vind hoofsaaklik in ’n geestelike dimensie plaas, daarom moet ons geleer word om geestelike wapens teen die vyand en sy misleidingstegnieke te gebruik. Paulus sê ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen ’n geestelike vyand in die lug (Ef. 6:12).
Maar die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? — julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. – 2 Pet.3:10-13
Nou word iets gesê van die “hoe” van die wederkoms en die voleinding van die wêreld. Daardie dag word genoem “die dag van die Here”, ’n uitdrukking wat in die Ou Testament voorkom (Jes 13:9; Jer 46:10.), en in die Nuwe Testament word dit “die dag van die Here Jesus” (1 Kor 1:8; 5:5; 2 Kor 1:14).
Op daardie dag kom die heersersmag en heerlikheid van Christus tot volle openbaring.
Die dag kom “soos ’n dief in die nag” (grondteks).
Hierdie beeld word in die Nuwe Testament altyd in verband met die wederkoms gebruik en dien om die onverwagsheid daarvan aan te dui.
Die tyd van die eindgebeurtenis kan dus nie bereken word nie, omdat die maatstaf vir tydmeting by God anders is as by die mens, en omdat die koms volstrek onverwags sal wees, so onverwags soos ’n dief.
Die dag kom met vuur wat alles sal verteer.
Die hemele sal met groot gedruis verdwyn, met ’n gesuis en geknetter soos die vuur brand.
Die gedagte dat die hemelliggame ontwrig of verbrand sal word, vind ons in verskillende uitsprake (Jes 34:4; Mark 13:24–31; Open 6:12–17).
Wat met “elemente” (stoicheia) bedoel word, is moeilik te sê.
Dit kan wees die grondbestanddele waaruit die stoflike wêreld gebou is, of die hemelliggame, die sterre, of ook die geestelike wesens of magte wat invloed uitoefen op die lewe van mense.
Waarskynlik moet ons voorrang gee aan die betekenis van “hemelliggame”. Tog staan dit vas dat al hierdie dinge deur die vuur verteer sal word.
Die aarde en alles wat daarop is, is by die eindoordeel betrokke. Alles wat die mens tot stand gebring het, die voortbrengsels van sy kultuur en tegnologie sal in die dag van die Here tot ’n einde kom.
“Die aarde en alles wat daarop is, sal verbrand.”. Die aarde en die werke daarop “gevind sal word” deur God wat geen enkele ding aan sy oordele sal laat ontkom nie. Hy sal ook aan die aarde besoeking doen en daar die vuur van sy oordeel laat brand. Dit sal dan daarop uitloop dat alles “verbrand” of dat al die dinge “nie meer gevind sal word nie”. Dus alles sal vergaan.
Groete,
Pastoor Lorraine van Staden
Lees ook
Openbaring: Deel 1 – Inleiding & Chronologie
Openbaring: Deel 2 – Outeurskap en Doel
Openbaring: Deel 3 – Die wegraping
Openbaring: Deel 4 – Die regterstoel van Christus en die 5 krone
Openbaring: Deel 5 – Die groot verdrukking
Openbaring: Deel 6 – Die sewe seëls
Openbaring: Deel 7 – Die sewe basuine
Openbaring: Deel 8 – Die sewe skale
Openbaring: Deel 9 – Die wederkoms van Christus
Openbaring: Deel 10 – Die bruilof van die lam
Openbaring: Deel 11 – Die opruiming van die land
Openbaring: Deel 12 – Die duisendjarige vrederyk
Bronnelys
Die Bybel. 1953. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kaapstad.
Die briewe van Petrus — Die brief van Judas. Kaapstad : N.G. Kerk-Uitgewers, 1998,
Bet-El Bybelkollege. Eskatologie Studiegids.
Die briewe van Petrus — Die brief van Judas. Kaapstad : N.G. Kerk-Uitgewers, 1998, c1977, S. 2 Pet 3:10
