Openbaring: Deel 10 – Die bruilof van die lam

Die bruilof van die lam

Die Lam is Christus (Openbaring 5:5-6; Exodus 12:1-13; Jesaja 53:7; Johannes 1:29).

Die bruid is sy kerk (Jeremia 3:8-10; Esegiël 23:37; Hosea 3:1; Openbaring 21:2).

Uit al die uitsprake uit die Ou Testament blyk dat God sy volk (kerk) beskou as sy “vrou” – wat owerspel pleeg met die afgode. Die beeld word in die Nuwe Testament voortgesit (Johannes 3:28-30; Efesiërs 5:22-33). Christus is die Bruidegom en sy kerk is die bruid. Nou is die bruid gereed en die tyd van die bruilof het aangebreek.

Die bruidskleed is vir ons van die allergrootste belang. Dink maar met hoeveel liefde die aardse bruid haar bruidsrok maak – indien sy dit self doen. Hoeveel te meer moet die bruid van Christus met vreugde spin en weef en haar rok maak.

Kyk na dié paar uitsprake

  • Wat doen die Bruidegom aan ons? (Efesiërs 5:25-27; 4:20-24; 5:1-2).
  • Ons geloof in Christus moet in ons lewe – ons werke – gesien word (Jak.1:19-25; 2:17, 20).
  • Is ons werklik wat Paulus van homself sê in Rom. 12:1-2, ‘n bruid in voorbereiding?

Salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. – Open 19: 9

Die beeld van die bruid word nou verander na die beeld van die genooides (Matt. 22:1-14). Sommige van die genooides aanvaar nie die uitnodiging nie.

Onthou die “genooides” – ons besit die uitnodiging in die Woord van God.

Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. – Mat.11:28 

Toe die Here Jesus op aarde was het Hy telkens in afwagting en met opgewondenheid oor die Bruilof gepraat:

Die koninkryk van die hemele is soos ‘n koning wat ‘n bruilof vir sy seun berei het. – Matt 22:2

In Open. 19:7 maak Johannes melding van die bruilof as hy sê :

Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak

Die huwelikseremonie en die bruilofsfees (die onthaal) is nie dieselfde geleentheid nie en vind ook nie op dieselfde plek plaas nie.

Die Griekse woord wat in Open. 19:7 gebruik word vir “Bruilof”, beteken eintlik “Bruilofsfees”. So die teks behoort eintlik te lees   “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die Bruilofsfees van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak”.

Die huwelikseremonie tussen Jesus en sy bruid sal plaasvind na die wegraping en net na die Regterstoel oordeel (Bema), maar voor die wederkoms van Jesus Christus. Die huweliksbevestiging sal plaasvind in die Ivoorpaleise van die hemel. Maar die bruilofsfees sal op aarde wees, aan die begin van Jesus se duisendjarige vrederyk.

Die eerste groep sal die bruid of kerk van Jesus Christus wees wat in hulle verheerlikte liggame saam met Hom sal regeer :

Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank – Open 20:6

Die bruilofsfees vind op aarde plaas net na die wederkoms van Christus. In Open. 19:11 word die wederkoms van Jesus saam met sy bruid beskrywe. Dan kom Jesus en sy bruid na die aarde terug om hier op aarde aan die begin van die vrederyk die bruilofsfees te vier. Dit sal ‘n tydperk van algehele vrede wees.

Kuier gerus oor die volgende paar weke saam wanneer ons verder gaan gesels oor die volgende temas uit die boek van Openbaring:

  • Die opruiming van die land
  • Die duisendjarige vrederyk
  • Die groot wittroon oordeel

Groete,

Pastoor Lorraine van Staden

Lees ook

Openbaring: Deel 1 – Inleiding & Chronologie

Openbaring: Deel 2 – Outeurskap en Doel

Openbaring: Deel 3 – Die wegraping

Openbaring: Deel 4 – Die regterstoel van Christus en die 5 krone

Openbaring: Deel 5 – Die groot verdrukking

Openbaring: Deel 6 – Die sewe seëls

Openbaring: Deel 7 – Die sewe basuine

Openbaring: Deel 8 – Die sewe skale

Openbaring: Deel 9 – Die wederkoms van Christus

Bronnelys

Die Bybel. 1953.  Bybelgenootskap van Suid-Afrika.  Kaapstad.

Die briewe van Petrus — Die brief van Judas. Kaapstad : N.G. Kerk-Uitgewers, 1998,

Bet-El Bybelkollege. Eskatologie Studiegids.

Volg ons asb: