Openbaring: Deel 8 – Die sewe skale

Die sewe skale

Johannes beskryf die sewe skale só: Open 16:1-21

En ek het ‘n groot stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: Gaan gooi die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit.

Die eerste skaal

Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het. – Open 16:2

Die eerste skaal is ‘n oordeel wat op mense gerig word, en dit tref die aanhangers van die Antichris. Die bose swere kom op almal wat die merk van die dier ontvang het en sy beeld aanbid. Dit is al die misleides wat ‘n verbond met Satan se verteenwoordiger, die Antichris, gesluit het om sy nommer ter wille van ekonomiese oorlewing te aanvaar in ruil vir hulle siele. Hulle aanbid die Antichris, en ontvang voor die wederkoms reeds die vergelding van die Here in hulle liggame wat hulle deur Satan laat merk het.

Die tweede skaal

En die tweede engel het sy skaal op die see uitgegooi, en dit het bloed geword soos van ‘n dooie, en al die lewende wesens in die see het gesterwe. – Open 16:3

Die tweede skaal tref al die oseane van die wêreld – nie net ‘n derde daarvan soos in die geval van die basuine nie. Die water daarvan word soos bloed, en alle seediere vrek. ‘n Ramp van hierdie omvang sal die mens van ‘n belangrike voedselbron ontneem, hongersnode veroorsaak, pessiektes deur ontbindende seediere in die hand werk, mense van die kusgebiede af laat wegvlug en seevaart haas onmoontlik maak.

Die derde skaal

En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en op die waterfonteine, en dit het bloed geword. En ek het die engel van die waters hoor sê: Regverdig, Here, is U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel uitgevoer het; want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien… – Open 16:4 – 7

Die derde skaal word op die riviere en fonteine uitgegooi en laat die water daarvan in bloed verander. Sodoende word oorlewingskanse op land ook drasties verminder en staar miljoene mense en diere ‘n gewisse dood in die gesig.

Die vierde skaal

En die vierde engel het sy skaal op die son uitgegooi, en daaraan is dit gegee om mense met vuur te skroei. En die mense is geskroei met ‘n groot hitte, en hulle het die Naam van God gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie. – Open 16:8-9

Die vierde skaal word op die son uitgegooi en bring ongekende hittegolwe mee. Groot uitbarstings sal op die son voorkom, en moontlik sal die osoonlaag dan omtrent vernietig wees. Behalwe vir die toenemende hitte sal skadelike ultravioletstrale sere en velkanker veroorsaak by mense wat aan direkte sonstrale blootgestel word.

Die vyfde skaal

En die vyfde engel het sy skaal uitgegooi op die troon van die dier, en sy koninkryk is verduister, en hulle het hul tonge gekou van pyn; en hulle het die God van die hemel gelaster oor hulle pyne en oor hulle swere, en het hulle nie bekeer van hul werke nie. – Open 16:10-11

Die vyfde skaal word oor die wêreldryk van die Antichris uitgegiet, en hul dit in totale duisternis. Mense sal angsbevange in die duisternis rondtas terwyl God se oordele oor hulle uitgegiet word. Omdat hulle reeds hulle siele aan Satan verkoop het deur die merk en nommer van die dier te aanvaar, sal hulle God laster oor al die plae. Sulke mense sal dan nie meer onder sonde-ooruiging kan kom om gered te word nie, omdat hulle reeds die krag van die dwaling ontvang het om die leuens van Satan te glo.

Die sesde skaal

En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die Ooste af kom, reggemaak kon word. Ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God… En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon. – Open 16:12-16

Die sesde skaal word oor die Eufraatrivier uitgegooi en laat dit opdroog sodat die Oosterse nasies droogvoets daardeur kan trek om ook by Armagéddon aan daardie groot oorlog van die Almagtige God deel te neem. Onder demoniese misleiding sal ‘n reuse leër van 200 miljoen Asiatiese soldate optrek soos skape na die slagpale toe om deur die vernietigende oordele van God getref te word. Gedurende hulle opmars sal hulle egter ‘n derde van alle mense verdelg, soos wat in Openbaring 9:14-19 beskryf word. Dink daaraan dat daar nouliks 200 miljoen mense op aarde was toe Johannes hierdie profesie geskryf het. Vandag kan Sjina alleen meer as 200 miljoen soldate mobiliseer indien hy al sy weerbare manne oproep.

Die sewende skaal

En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en ‘n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby! En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie – so ‘n geweldige groot aardbewing. En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn. En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent ‘n talent swaar [dit is 50 kilogram], het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was. – Open 16:17-21

Die sewende skaal het die grootste aardbewing tot gevolg wat daar nog ooit op aarde was. Die stede van die nasies sal val en in baie dele van die wêreld, insluitende Israel, sal die landskap tot ‘n groot mate deur die aardbewings verander word. Die verwoesting deur die aardbewings sal Jerusalem in drie dele verdeel en Babilon totaal vernietig. Die skuddings sal ook met ongekende haelstorms gepaard gaan. Vir haelstene van 50 kilogram om te val, beteken dit dat daar geweldige hoë temperature moet wees sodat die vog deur die stygende warm lug tot buitengewone hoë hoogtes opgevoer kan word. Die voorkoms van sulke hittegolwe word in Openbaring 16 bevestig.

In Jes. 30:26 sê Jesaja hieroor:

En die lig van die maan sal wees soos die lig van die son, en die lig van die son sal sewevoudig wees, soos die lig van sewe dae, op die dag as die Here die breuk van sy volk verbind en die wond gesond maak wat aan hulle geslaan is.

Die dag wanneer die Here kom om die oorblyfsel van sy volk te red en die nasies te oordeel, sal ‘n dag van verskrikking wees wanneer die kragte van die hemel geskud sal word. Baie van die Ou Testamentiese profete het profesieë oor die dag van die Here uitgespreek. Mense sal enersyds deur skroeiende hitte en droogtes geteister word, en andersyds deur verstikkende duisternis en die gerammel van geweldige aardbewings. Die sondaars wat hulle harte verhard het, sal saam met hulle handewerk verbreek word en op die puinhoop van ‘n verwoeste aarde beland:

Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg. Want die sterre van die hemel en sy Orions sal hulle lig nie laat skyn nie; die son is duister by sy opgang, en die maan laat sy lig nie skyn nie. En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder. En Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir. Daarom sal Ek die hemel laat sidder, en die aarde sal wyk uit sy plek met gebeef, vanweë die grimmigheid van die Here van die leërskare en vanweë die dag van sy toorngloed – Jes. 13:9-13

Daar is baie meer sulke ernstige waarskuwings oor die oordele van die dag van die Here opgeteken, sodat mense nie die realiteit daarvan ligtelik opsy moet skuif nie. Die ontsettende omvang van die verwoesting, die redes daarvoor, naamlik ‘n uiters sondige geslag mense soortgelyk aan dié in die tyd van Noag en Lot, asook die feit dat dit oordele van God is, word telkens beklemtoon:

Kyk, die Here maak die aarde leeg en verwoes dit, en Hy keer sy oppervlakte om en verstrooi sy bewoners… Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die Here het hierdie woord gespreek… Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners: want hulle het die wette oortree, en die insettinge geskend, die ewige verbond verbreek. Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy inwoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur ‘n gloed verteer en bly daar min mense oor – Jes. 24:1, 3, 5-6

So sê die Here van die leërskare: Kyk, onheil gaan uit van volk tot volk, en ‘n groot storm word opgewek uit die agterhoeke van die aarde. En die wat deur die Here verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees – Jer. 25:32-33

Maar dié dag behoort aan die Here Here van die leërskare, ‘n dag van wraak, om wraak te neem op sy teëstanders; en die swaard sal verslind en versadig en dronk word van hulle bloed; want die Here Here van die leërskare het ‘n slagoffer in die Noordland, by die Eufraatrivier – Jer. 46:10

Oor die slag van Armagéddon, wat die Here se strafgerig teen die ongehoorsame nasies is, sê Joël die volgende:

Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom… Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Josafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het… Menigtes, menigtes in die dal van beslissing, want naby is die dag van die Here in die dal van beslissing! Die son en die maan word duister, en die sterre trek hulle glans in – Joël 2:31 en 3:1-2, 14-15

Die dal van Josafat verwys na die dal van Kidron in Jerusalem. Baie van die Antichris se magte sal hier saamgetrek wees in afwagting op Jesus se verskyning op die Olyfberg aan die einde van die sewe jaar lange regering van die Antichris. Die ander magte van die Antichris sal in Noord- en Sentraal-Israel ontplooi wees, terwyl sommige nog by die Eufraatrivier sal wees. Wanneer die duisternis van God se oordele oor hulle toesak, sal baie van hierdie soldate mekaar begin doodmaak:

En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond. En in dié dag sal ‘n groot verwarring van die Here onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander – Sag. 14:12-13

As deel van die val van die Antichris se bose sentrums wat hy opgerig het, word die groot Babilon in die rampe en aardbewings van die einde van die groot verdrukking verwoes. Hierdie aardbewings en ander natuurrampe sal Israel ook tref waar die vyandelike magte gemonster is, en dit sal die stad Jerusalem in drie dele verdeel (Open. 16: 19). Dit is egter duidelik dat hierdie rampe oor die hele aarde sal voorkom.

Die Here Jesus het in sy profetiese rede na hierdie verskriklike tyd vlak voor sy wederkoms verwys toe Hy gesê het:

En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer die see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid – Luk. 21:25-27

Die Here sal Homself in heerlikheid aan die oorblyfsel van die volk Israel openbaar, maar Hom in daardie dag uitermate op sy vyande wreek. Dan sal Hy sy regering van geregtigheid vestig.

Kuier gerus oor die volgende paar weke saam wanneer ons verder gaan gesels oor die volgende temas uit die boek van Openbaring:

  • Die wederkoms van Christus
  • Die bruilof van die Lam
  • Die opruiming van die land
  • Die duisendjarige vrederyk
  • Die groot wittroon oordeel

Groete,

Pastoor Lorraine van Staden

Lees ook

Openbaring: Deel 1 – Inleiding & Chronologie

Openbaring: Deel 2 – Outeurskap en Doel

Openbaring: Deel 3 – Die wegraping

Openbaring: Deel 4 – Die regterstoel van Christus en die 5 krone

Openbaring: Deel 5 – Die groot verdrukking

Openbaring: Deel 6 – Die sewe seëls

Openbaring: Deel 7 – Die sewe basuine

Bronnelys

Die Bybel. 1953.  Bybelgenootskap van Suid-Afrika.  Kaapstad.

Die briewe van Petrus — Die brief van Judas. Kaapstad : N.G. Kerk-Uitgewers, 1998,

Bet-El Bybelkollege. Eskatologie Studiegids.

Internet

Afdeling A: Die Antichris en Eindtydse Oordele

http://www.bibleguidance.co.za/Afrboeke/Bybelse%2520Profesiee/Eindtyd2.htm

Vir verdere leesstof:

Malan Johan. Die Wegraping: Koms van die hemelse Bruidegom

Malan Johan. Die Dag van die Here

Volg ons asb: