Openbaring: Deel 6 – Die sewe seëls

Die sewe seëls

Eerste seël: Die wit perd (Antichris – valse vredevors)

En ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak… en kyk, daar was ‘n wit perd. En hy wat daarop sit, het ‘n boog; en aan hom is ‘n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ‘n oorwinnaar en om te oorwin – Open. 6:1-2

Tweede seël: Die rooi perd (Militêre diktarot – Oorlog & bloedvergieting)

En ‘n ander perd, ‘n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ‘n groot swaard is aan hom gegee – Open. 6:4

Leiers wat begin wankel en hul populêre steun verloor, wend hulle dikwels tot geweld en outokratiese optrede om hulle posisie te probeer handhaaf. Die Antichris sal geen uitsondering wees nie. In die middel van die verdrukking sal ‘n suksesvolle sluipmoordaanslag op hom uitgevoer word. Op ‘n wonderbaarlike wyse, deur die bemiddeling van duiwelse magte, sal hy egter uit die dood opstaan en dan sy rol as alleenheerser en militêre diktator op aarde vervul (Open. 13:3, 14). Van hierdie oomblik af sal hy die wêreld met ‘n ystervuis regeer en almal dwing om hom te aanbid.

Derde seël: Die swart perd (Hongersnood; inflasie / Ressie)

En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n swart perd; en hy wat daarop sit, het ‘n skaal in sy hand. – Open. 6:5

Die noodwendige gevolg van oorloë en die mobilisasie van ekonomies aktiewe mans is die vinnige uitputting van ‘n land se geldvoorraad weens militêre uitgawes, die verwoesting van infrastruktuurdienste, ernstige produksieverlies en hongersnood. In ‘n poging om hierdie probleme op te los, sal die Antichris baie streng ekonomiese maatreëls instel, en d.m.v. ‘n gerekenariseerde kontrolestelsel alle finansiële transaksies op aarde beheer.

Vierde seël: Die vaal perd (Oorloë – Mensemoordenaar)

En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg – Open. 6:8

Vyfde seël: Die Christenmartelare (Ware Christene wat deur die groot verdrukking kom, verwerp die Antichris & valse wêreldkerk

En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. – Open. 12:11

Hulle sal dus as oorwinnaars sterf!

En toe hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van dié wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons dood op die bewoners van die aarde nie? En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees – Open. 6:9-11

Hier word dit as ‘n feit gestel dat die martelare se oorlewende medebroeders op aarde almal gedood sal word. Daarna sal hulle getal in die hemel eers vol wees. Die feit dat hulle in die hemel ernstig tot God sal roep om hulle dood op die aardbewoners te wreek, dui onmiskenbaar daarop dat hulle op ‘n baie wrede wyse vervolg, gemartel en doodgemaak sal word. Hulle sal tot God roep om in te gryp, omdat die Antichris oënskynlik op die punt sal staan om die Christendom op die aarde totaal uit te roei.

Sesde seël: natuurrampe (Groot aardbewing, al die berge en eilande word uit hulle plekke versit, sondaars vlug na die berge)

En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ‘n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ‘n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ‘n vyeboom wat deur ‘n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ‘n boek wat toegerol word en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle versteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan? – Open. 6:12-17

Brandende hemelliggame sal oral op die aarde val. Dit kan komete, meteore of brokstukke daarvan wees, m.a.w. meteoriete, of ook asteroïdes, wat met verwoestende gevolge die aarde sal tref. Terselfdertyd sal groot aardbewings plaasvind, asook ernstige lugbesoedeling, sodat die sonlig verduister sal word. Mense sal nie in die stede waarin hoë geboue sal omval, kan oorleef nie. Hulle sal vreesbevange na die berge vlug en besef dat die vreeslike dag van die Here se toorn aangebreek het. Nogtans sal die meeste van hulle, soos gedurende die tien plae in Egipte, hulle harte verhard en hulle nie bekeer nie.

Sewende seël: Verdere oordele – aankondiging van die sewe basuine (½uur stilte in die hemel)

In Openbaring 8:1-2 word die sewende seël oopgemaak. Dit lei na verdere oordele wat deur sewe engele met basuine aangekondig word. (Basuine waarsku van gevare en roep tot bekering) Hierdeur sal ‘n tweede golf van oordele oor die aarde spoel. Nóg later sal ‘n derde, en veel erger golf van oordele deur middel van die sewe laaste plae oor die aarde kom. Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God!

Die basuine is oordele wat in die verdrukking uitgestort gaan word, waarin in die meeste gevalle ‘n derde van hulle teiken vernietig word. Sowel die fisiese skepping as die mensdom sal hierdeur geraak word. Die eerste vier basuine het ‘n gedeeltelike ekologiese ineenstorting op aarde tot gevolg. Baie mense en diere sal as gevolg hiervan sterf!

Kuier gerus oor die volgende paar weke saam wanneer ons verder gaan gesels oor die volgende temas uit die boek van Openbaring:

  • Die sewe basuine
  • Die sewe skale
  • Die wederkoms van Christus
  • Die bruilof van die Lam
  • Die opruiming van die land
  • Die duisendjarige vrederyk
  • Die groot wittroon oordeel

Groete,

Pastoor Lorraine van Staden

Lees ook

Openbaring: Deel 1 – Inleiding & Chronologie

Openbaring: Deel 2 – Outeurskap en Doel

Openbaring: Deel 3 – Die wegraping

Openbaring: Deel 4 – Die regterstoel van Christus en die 5 krone

Openbaring: Deel 5 – Die groot verdrukking

Bronnelys

Die Bybel. 1953.  Bybelgenootskap van Suid-Afrika.  Kaapstad.

Die briewe van Petrus — Die brief van Judas. Kaapstad : N.G. Kerk-Uitgewers, 1998,

Bet-El Bybelkollege. Eskatologie Studiegids.

Internet

Afdeling A: Die Antichris en Eindtydse Oordele

http://www.bibleguidance.co.za/Afrboeke/Bybelse%2520Profesiee/Eindtyd2.htm

Vir verdere leesstof:

Malan Johan. Die Wegraping: Koms van die hemelse Bruidegom

Malan Johan. Die Dag van die Here

Volg ons asb: