Openbaring: Deel 1 – Inleiding & Chronologie

Dit is van die uiterste belang vir die Christen om boek Openbaring te lees en te verstaan.

Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby. –  Open 1:3

Dit is die enigste boek in die Bybel wat God se seën aan jou belowe as jy dit “lees”, “hoor” en “bewaar”. Die rede hiervoor is ook in vers 3b.

want die tyd is naby.

Die chronologie van Openbaring

  • Die verheerliking van Christus na sy hemelvaart (hfst. 1)
  • Die bedeling van die kerk op aarde (hfst. 2-3)
  • Die hemelse gesig, waarvan die verheerlikte kerk na die wegraping ook deel is (hfst. 4-5)
  • Die sewe jaar van die verdrukking, wat deur die openbare verskynsel van Jesus beëindig word (hfst. 6-19)
  • Die duisendjarige vrederyk op aarde (hfst. 20:1-6)
  • Die eindoordeel voor die groot wit troon (hfst. 20:7-15)
  • Die nuwe hemel en die nuwe aarde (hfst. 21-22)

Die eindtyd leerstelling word in verskeie eskatologiese geskrifte beskryf as die einde van die mens se tyd op aarde. In die Christendom, word die eindtyd uitgebeeld as ‘n tyd voor die wederkoms van ons Verlosser, Jesus Christus. Dit is in hierdie tyd wat Jesus Sy kerk voorberei om die volheid van God se koninkryk te aanskou en sodoende ‘n einde te maak aan die lewe soos ons dit vandag ken.

Soos wat die Nuwe Testament in die 4 Evangelies met die eerste koms van Christus open, so beëndig Openbaring die Nuwe Testament met die algemene tema van Jesus Christus se tweede koms. Dit dui die finale vervulling van talle onvervulde profesieë aan.

Ons leef in ‘n tyd waarin talle Bybelse profesieë in vervulling kom, wat dui op die spoedige wederkoms van Jesus Christus.

In Matt 25 het Jesus Sy profetiese rede gelewer.

Hy het voorspel hoe die wêreldposisie sal wees, totdat Hy in heerlikheid terugkom om die nasies te oordeel.

Hierdie is nie die oordeel van die groot wit Troon nie, ook nie die regterstoel van Christus nie (2Kor 5:10) … maar die oordeel oor die heiden-nasies aangaande hul gesindheid teenoor Jesus se mense.

In Matt.24 & 25 word dikwels na Sy Wederkoms verwys. Die gelykenisse van die tien maagde en die talente en die getroue dienskneg, dien tot vermaning, om nie alleen gered nie, maar ook “gereed” te wees vir die groot en deurlugtige dag van die Here.

 Want die Here Here doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie. – Amos 3:7

In Amos 4:12b vermaan hy ons

maak jou klaar (gereed) om jou God te ontmoet…

In sy brief aan die kerk in Thessalonika, skryf Paulus die volgende:

Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met die klank van die basiun van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly saam met hulle in die wolke weggevoer word die Here tegemoed in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. 1 Thess. 4:16-17

Uit hierdie vers sien ons die belofte van ‘n tweede koms, waar Jesus sy bruid sal kom haal en dat hulle hom tegemoet sal kom in die lug. Die Kerk moet die kennis van God se saligheidsplan uitdra aan die ganse wêreld, sodat daaruit ‘n liggaam van bloedgewastes as Sy Bruid, die “Ekklesia”, kan voortkom.

Kuier gerus oor die volgende paar weke saam wanneer ons verder gaan gesels oor die volgende temas uit die boek van Openbaring:

  • Outeurskap en doel
  • Die wegraping
  • Die regterstoel van Christus
  • Die groot verdrukking
    • Die sewe seëls
    • Die sewe basuine
    • Die sewe skale
  • Die wederkoms van Christus
  • Die bruilof van die Lam
  • Die opruiming van die land
  • Die duisendjarige vrederyk
  • Die groot wittroon oordeel

Groete,

Pastoor Lorraine van Staden

Bronnelys

Die Bybel. 1953.  Bybelgenootskap van Suid-Afrika.  Kaapstad.

Die briewe van Petrus — Die brief van Judas. Kaapstad : N.G. Kerk-Uitgewers, 1998,

Bet-El Bybelkollege. Eskatologie Studiegids.

Internet

Afdeling A: Die Antichris en Eindtydse Oordele

http://www.bibleguidance.co.za/Afrboeke/Bybelse%2520Profesiee/Eindtyd2.htm

Vir verdere leesstof:

Malan Johan. Die Wegraping: Koms van die hemelse Bruidegom

Malan Johan. Die Dag van die Here

Volg ons asb: