
Lewensfases moet nie rigied volgens ouderdom interpreteer word nie maar eerder as ‘n breë algemene aanduiding. Daar is altyd uitsonderings maar ‘n breë, algemene indeling kan riglyne verskaf van die uitdagings wat kinders moet trotseer.
1. Kleuters
Groepsdruk het selfs op kleuters ’n uitwerking. Aanvanklik is dit meer nabootsing, soos ’n eenjarige wat met sy vingertjie oor die skerm van ’n selfoon vee, of die foon teen sy oor druk. Eenjariges wil reeds doen wat ander doen: uit ’n glas drink, met ’n selfoon speel, die televisie se beheerkontrole hanteer … Op twee begin hulle al dinge doen omdat ander dit doen, of vir hulle vra om dit te doen.
2. Voorskoolse kinders
Hulle begin eise aan hul ouers stel oor dinge wat hulle sien ander doen. Hulle wil later gaan slaap; lekkergoed of speelgoed hê wat hul maats het; sekere televisieprogramme kyk. Maar dit kan ook ’n positiewe uitwerking hê. Hulle sal groente eet as iemand wat hulle bewonder daarvan hou, of sal gaan bad as die maatjie gaan bad.
3. Laerskoolkinders
Hoe ouer kinders word, hoe meer tyd bring hulle saam met hul vriende deur en al hoe minder tyd saam met hul gesin. Reeds op ses is maatjies se aanvaarding en goedkeuring belangrik en wil hulle graag hul maats tevrede stel. Kinders wat deel is van positiewe groepe word gemotiveer om aan goed soos sport en kultuuraktiwiteite deel te neem en akademies te presteer en ontwikkel ook sosiale en emosionele vaardighede. Die teendeel is ook waar. Kinders reageer negatief en heftig as ouers hulle verbied om met sekere maats kontak te hê. In hierdie fase is skoene, klere met spesifieke handelsmerke, sekere speletjies soos Lego, en elektroniese speletjies statussimbole.
4. Adolessente meng en vereenselwig hulle meestal meer met hul vriende as met hul ouers. Die verhouding tussen ouers en kinders raak fisiek en emosioneel meer verwyderd. Die sosiale groep neem dikwels grootliks die rol by ouers oor as bron van raad, sosiale interaksie en ontspanning. Dit, tesame met tieners se hormoonveranderinge, fisieke, emosionele en sosiale verandering, maak kinders meer vatbaar vir groepsdruk. Hulle begin hul ouers se oordeel, optrede en lewe bevraagteken. Hulle ervaar dat hul vriende hulle beter verstaan en heg meer waarde aan vriende se oordeel, raad, leiding en emosionele ondersteuning. Hulle wil hulle losmaak van ouerlike beheer. Op dié ouderdom is die grootste statussimbool om deel van die “in”-groep te wees, jou elektronika soos ’n selfoon en iPad en jou voorkoms en haarstyl.

Hoe hanteer ouers groepsdruk?
Ouerlike betrokkenheid by hul kinders se opvoeding is van die aller grootste belang.
As jou kind voel dat hy êrens behoort, sal groepsdruk nie sommer sy lelike kloue om haar inslaan nie.
1. Skep ’n eie, unieke identiteit
In enige gesin is dit vir ouers belangrik dat elke kind ’n sterk identiteit ontwikkel om groepsdruk te kan hanteer. “Een manier is dat elke kind, veral as hulle nog klein is, ’n plakkaat oor homself maak: ‘Ek is …; ek hou van …; ek voel hartseer as …; ek is opgewonde as …” Hierdie plakkate kan dan op ’n plek teen hul kamermure opgehang word.
2. Laat hulle geborge voel
Kenners sal saamstem dat kinders smag na ’n “sense of belonging” en dat dit juis kan lei tot erge groepsdruk. Kry hulle nie koestering tuis nie, sal hulle dit op ander plekke gaan soek. Ouers kan ’n gevoel van geborgendheid vestig deur seker te maak dat elke kind weet hulle tél in die gesin. Huisvergaderings in die aand om die etenstafel kan ingestel word om te redekawel oor een of ander saak. Selfs die kleuter, as hy iets wil sê, moet die res van die gesin na hom luister. Elke lid van die gesin word ’n kans gegee om gehoor te word.
3. Dis nooit te laat om te verander nie
Kinders is beslis nie engeltjies nie. Dit is egter belangrik vir die ouers dat hulle sou weet dat dit nooit te laat is om te verander nie. Aan die begin van elke jaar, laat elke lid van die gesin vyf dinge neergeskryf wat julle graag in die komende jaar anders sou wou doen en lê klem op skuldbelydenis en onvoorwaardelike vergifnis. Die uitdaging is dat jy nou jouself sal moet vergewe.
4. Leer hulle om “planmakers” te wees
“Kom ons maak ’n plannetjie,” is woorde wat die kinders reeds van kleins af by die ouers moet leer. Hulle moet weet dat hulle nooit magteloos in ’n verkeerde situasie saamgesleur hoef te word nie – hulle kan altyd ’n ander plan maak en groepsdruk hanteer.
Moet kinders nooit belet om iewers heen te gaan, of saam met sekere vriende te kuier nie, maar laat hulle verstaan dat hulle die gevolge van hul dade sal moet dra.
5. Hou hulle (en wees self) betrokke
Kinders se eerste hoërskooljaar is baie belangrik! Sorg dat hulle by soveel moontlik aktiwiteite inskakel – en wees betrokke. Word “deel” van die groep deur hulle so nou en dan te bederf vir roomys of pizza. En as jy nie van ’n sekere groep hou nie, moenie die fout maak om jou kind te belet om hulle te sien nie. Dít sal die aantrekkingskrag net soveel groter maak. Gesels rustig daaroor, lig sekere van die negatiewe aspekte subtiel uit, en laat hulle self besluit dat dié groep nie vir hulle bedoel is nie, omdat die groepsdruk dalk te groot kan raak.
Iemand het eenkeer gesê as jy net die begeerte in jou hart het dat dit moet goed gaan met jou kind, is jy klaar op die regte pad. Die res word gewoonlik vanself uitgesorteer. Laat jou kind geliefd en geborge voel, dan sal hulle sterk staan en nie so maklik toegee aan druk van buite nie.