
Ons gemeente het die 1st September 2018 ‘n groot KERMIS by die kerk gehou. Sedert Mei vanjaar was die beplanning in volle swang en is die gemeente ‘n breë raamwerk voorsien van hoe so ‘n kermis aangepak moet word.
Een van die prioriteite was om die Parkerf gereed te kry vir die Kermis. Dit het ingesluit die verskuiwing van die palissade na die buite grens van die erf, opvul met grond en die plant van die gras. Met die hulp van die gemeente en oom Kat Smith was hierdie projek binne drie weke afgehandel en die Parkerf gereed vir die Kermis.
Met die beplanning was daar voorgestel watter tafels by die kermis moet wees en tafelsameroepers het spontaan uit die gemeente aangemeld. Hulle het elkeen die leiding geneem vir hulle tafels en was verantwoordelik vir hulle eie helpers en produkte.
Die senuwees het maar redelik geknaag in die week voor die Kermis, maar ons het besef dat ons nie beheer oor die weer het nie en het net rondom dit beplan so goed ons kon. Ons het die Here vertrou vir ‘n goeie opkoms vir die Kermis en die Here het ook dan so voorsien.
Die oogmerk met die Kermis was om saam te werk om die lig van Christus in Witbank en die gemeenskap te laat skyn.
Ons het ‘n verantwoordelikheid om diens aan die samelewing te lewer. Enige geld wat ingesamel word deur die Kermis, sou ons as ‘n bonus beskou. Ons wildste verwagting is oortref deur die finansiële sukses wat ons met die Kermis behaal het.
Alle eer aan die Here en ons bedank die Gemeente asook die gemeenskap wat ons op die dag so getrou ondersteun het uit ons hart.
Die geld wat deur die kermis geïn is, sal aangewend word vir die uitgawes van die Tweens/Jeug, Vrydagaande en DIA KWS (Sondagskool) aktiwiteite.
Die volgende video getuig van hope pret!