Een uur in gebed

Meegaande diagram is geneem uit The Hour that Changes the World, deur Dick Eastman. Hy doen aan die hand dat ‘n mens ‘n uur in 12 periodes van 5 minute elke indeel. Na elke 5 minute gaan jy oor na ‘n ander vorm van gebed.

Christus het vir ons die voorbeeld gestel toe hy kort voor sy kruisiging, in die tuin van Getsemane, sy dissipels berispe omdat hulle geslaap het terwyl Hy in doodsangs gebid het “So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie?” (Matt.26:40) Op daardie oomblik het hulle die taak gehad om nagwagte te wees en na sy woorde te luister. Vandag word ons met dieselfde vraag gekonfronteer.

1) Lofprysing

In Ps 22:4 verklaar Dawid “Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel!” en in Ps 63:4 Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys.”

Die skrywer verklaar in Heb 13:15 Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.”

Lofprysing is ‘n daad van toewyding aan God, dit is om God te verhoog en te vereer vir wie Hy is – die Alomteenwoordige, Almagtige God en ewige Vader. Begin al jou gebede met lofprysing en bring lof aan Hom.

2) Wag op die Here

In Ps 46:11 lees ons “Wees stil en weet dat Ek God is.”

Gaan in aanbidding en fokus slegs op die Here. Sluit alle ander gedagtes uit wat jou weerhou om stil te raak in hierdie heilige aanbidding voor die Lewende God. Dit is egter nie ‘n aksie om jou gedagtes leeg te maak nie, maar om net stil te raak en op Hom te wag. Konstentreer op jou verhouding met God en jou liefde en dankbaarheid teenoor dit wat Jesus aan die kruis vir ons gedoen het – ‘n ewige verlossing.

3) Sonde- en skuldbelydenis

In 1 Joh.1:9 lees ons “Maar as ons ons sondes bely. Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. (1 Joh.1:9)

En in Ps.139:23-24 pleit Dawid by God “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!

Sondebelydenis/verootmoediging is ‘n daad van belydenis en reiniging van my myself as God se tempel sodat ek, deur die bloed van Christus en Sy volmaakte offer op Golgota, vrye toegang tot God kan hê.

4) Bid die Skrif

Timotheus verklaar in 2Tim.3:6 “Die hele Skrif is deur God ingegee (uitgeasem) en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid.”

Om die Skrif te bid is om myself geestelik te voed en volgens God se agenda en openbaring te bid. Die Woord is ons handleiding om te bid en reinig ons wanneer ons die Woord bid. Ons moet die Here dag en nag aan die beloftes in sy Woord herinner. Soos wat jy die Bybel lees, moet jy vir die Here vra hoe om dit toe te pas in jou lewe en in jou gebedstyd.

5) Waak en Bid

“Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar” (Kol.4:2).

Waak is ‘n tyd van geestelike waarneming, om geestelik bedag te wees op sake waarvoor daar gebid moet word.

Vra die Here vir geestelike onderskeiding, wysheid en om te verstaan waarop jy moet fokus en wat jou prioriteite moet wees.

6) Voorbidding

In 1Tim.2:1-2 dring Timotheus daarop aan dat daar vir alle mense gebid word: IN die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.”

Voorbidding/Intersessie is om vir ander mense in te tree – om vir ander in die bres te staan. Dit is om te bid vir God se volmaakte plan in ander se lewens – te vra vir genade en barmhartigheid.

7) Versoeke vir jou persoonlike behoeftes

In die brief van Paulus aan die Filippense bemoedig hy hulle met die volgende skrif: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. (Fil.4:6)

Dit is om met nederigheid en in totale afhanklikheid God te vra om in my behoeftes te voorsien. Wees spesifiek is dit wat jy van God verlang. Ons kan met ‘n verwagting bid, selfs oor die kleinste dingetjies, maar waak teen selfsugtige begeertes.

8) Danksegging

In Paulus se eerste brief aan die gemeente in Thessalonicense verduidelik hy die verskillende voorskrifte “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” (1 Thes.5:18)

Danksegging is ‘n tyd waarin ek my waardering teenoor God uitspreek vir sy sorg en beskerming en vir wie Hy is.

9) Sang is melodieuse lofprysing/aanbidding.

In Ps 100 besing Dawid die grootheid van die Here: “Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel! Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde. Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.”

Sang is ‘n aksie om God met geestelike liedere te aanbid en te prys. Onthou Dawid was ‘n man na God se hart en hy het geweet hoe om Hom deur lofliedere te aanbid.

10) Oordenking

Psalm 1 is die inleiding tot die Psalms en leer ons God se waarhede: “Dit gaan goed met die mens wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. (Ps.1:1-3)

Oordenking is om ‘n saak dieper te oordink of te ondersoek, om dit geestelik te evalueer. Oordenking is ‘n aktiewe proses van evaluering, ondersoek en bepeinsing waarby jy met jou volle verstand betrokke is en waar jy jou deur die Skrif en die Heilige Gees laat lei. Oordenking is om gedissiplineerd na te dink. Waak ook teen negatiewe gedagtes in hierdie periode. Bedink alles wat waar, rein, edel, reg, mooi en prysenswaardig is.

11) Luister

Salomo vermaan ons in Prediker 5:2 met die volgende: “Moenie te gou praat nie, moenie oorhaastig ‘n belofte aan God maak nie, want Hy is in die hemel en jy op die aarde. Laat jou woorde daarom min wees.”

Luister is ‘n periode waarin jy opdragte van God ontvang, waar jy Hom vra om vir jou dinge te wys wat Hy wil hê dat jy sal raaksien en aan aandag moet gee. Dit is om na die innerlike stem van die Heilige Gees te luister. In wag op die Here gaan dit om God lief te hê. Tydens oordenking wil ons meer van God leer. In die periode van luister wil ons hoor wat God vir ons wil sê. In hierdie periode vra ek: “Here, wat verwag U van my, wat is U wil vir my?”

12) Lofprysing

Jesus leer ons hoe om te bid en sluit ook Sy gebed met die volgende af: “Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt.6:13)

Lofprysing is om God groot te maak, te verheerlik, aan Hom te sê dat jy weet tot Wie jy gebid het en dat jy Hom vertrou met jou gebede.

Maak jou amen aan die einde sterk en bevestig daarmee dat jy glo dat God jou gehoor het en sal verhoor. Amen beteken: dit is waar en seker, dit sal so wees m.a.w. jy bid omdat jy glo dat God luister en jou gebed sal verhoor.

Bronne:  Jerigo Mure & Verander jou wêreld deur gebed (Bennie Mostert)

 

Volg ons asb: