Outeur
In Open.1:1 lees ons dat die boek deur die Here se dienskeng, Johannes, geskryf is. Terwyl Johannes as ‘n ou man die gemeente in Efese bedien het, is hy deur keiser Domitianus na die eiland Patmos verban. Dit is hier waar Johannes die visoene ontvang het en die boek Openbaring in 95 n.C. geskryf het.
Keiser Domitianus het van 84 tot 96 n.C. as ‘n tiran in Rome regeer het. Hy was ‘n tweede Nero wat die Christendom wortel en tak probeer uitroei het. Hy het keiserlike aanbidding geëis. Christene wat geweier het om hulle hieraan te onderwerp, is op die wreedste denkbare maniere vervolg, gemartel en doodgemaak. Johannes het op die eiland gebly tot met die dood van Domitianus in 96 n.C. waarna hy toegelaat is om na Efese terug te keer.
Die groot vraag wat sekerlik vir Johannes op Patmos moes geteister het, was: “Wat gaan van die kerk van Christus word te midde van al die vervolging?” In antwoord hierop ontvang hy op die eensame eiland ‘n visioen oor toekomstige gebeure uit die hemel.
Hierin is nie net die groot stryd van Satan teen die koninkryk van God geopenbaar nie, maar ook die uiteindelike oorwinning van Christus oor die magte van die duisternis.
In skrille kontras word die heerlikheid en heerskappy van die Here teenoor die rebellie, oordele en verdoemenis van die sondaars en hulle misleiers, die duiwel, die Antichris en die valse profeet, gestel.
Doel
Die doel van die boek Openbaring is om dinge te openbaar wat kort voor, gedurende, en direk na die wederkoms van Jesus Christus sal plaasvind. Die grootste deel van die boek word aan gebeure van die laaste sewe jaar voor Jesus se wederkoms gewy, soos in Open 4 tot 18 beskryf.
Die wederkoms word in Open 19 beskryf en gevolg deur die duisendjarige vrederyk van Christus in Open 20 en daarna die eindoordeel.
In Open 21 & 22 word die ewige lewe in die nuwe hemel en op die nuwe aarde geopenbaar, asook die ewige straf vir sondaars.
Die boek Openbaring voltooi die profetiese tema’s wat in ander boeke van die Ou- & Nuwe Testament bespreek is, veral die in die boek Daniël en die profetiese rede van die Here Jesus.
Kuier gerus oor die volgende paar weke saam wanneer ons verder gaan gesels oor die volgende temas uit die boek van Openbaring:
- Die wegraping
- Die regterstoel van Christus
- Die groot verdrukking
- Die sewe seëls
- Die sewe basuine
- Die sewe skale
- Die wederkoms van Christus
- Die bruilof van die Lam
- Die opruiming van die land
- Die duisendjarige vrederyk
- Die groot wittroon oordeel
Groete,
Pastoor Lorraine van Staden
Lees ook
Openbaring: Deel 1 – Inleiding & Chronologie
Bronnelys
Die Bybel. 1953. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kaapstad.
Die briewe van Petrus — Die brief van Judas. Kaapstad : N.G. Kerk-Uitgewers, 1998,
Bet-El Bybelkollege. Eskatologie Studiegids.
Internet
Afdeling A: Die Antichris en Eindtydse Oordele
http://www.bibleguidance.co.za/Afrboeke/Bybelse%2520Profesiee/Eindtyd2.htm
Vir verdere leesstof:
Malan Johan. Die Wegraping: Koms van die hemelse Bruidegom
Malan Johan. Die Dag van die Here
