Openbaring: Deel 3 – Die wegraping

Die wegraping

‘n Kwart van die Bybel handel oor profesieë, m.a.w. oor dinge wat nog moet en sal gebeur. Ons leef in ‘n tyd waarin talle Bybelse profesieë in vervulling kom, wat dui op die spoedige wederkoms van Jesus Christus. Die Nuwe Testament wys ons daarop dat elke Christen ‘n salige hoop in sy eindbestemming moet hê, aangesien dit in een Persoon lê, naamlik Jesus Christus.

In Paulus se eerste brief aan die gemeente in Thessalonicense bemoedig hy die gemeente met die volgende skrif:

Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly saam met hulle in die wolke weggevoer word die Here tegemoed in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. – 1Thes. 4:16-17

In Matt 24;37-51 (Die profetiese rede) vermaan Jesus ons om waaksaam te wees en

…so sal ook die koms van die Seun van die mens wees…

In Hand.1:11b verklaar twee manne in wit klere:

Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.

Die wegraping (1 Thess. 4:16-17) sal voorafgegaan word deur die openbaring van die Antichris. Christus sal sy heiliges voor die Groot verdrukking kom haal, dus vind die wegraping voor die Groot Verdrukking plaas.

Om die wegraping reg te verstaan moet ons bewus wees dat dit uit twee fases bestaan:

  1. Die eerste fase is die Wegraping (Christus se koms vir sy heiliges) ons gaan hom tegemoet in die lug
  2. Die tweede fase is die Wederkoms van Christus (Christus se koms met sy heiliges) gaan ons saam met Hom terugkeer na die Olyfberg. Dit is na die 7 jaar van die Groot Verdrukking.

Tydens die eerste fase kom die Bruidegom onverwags, soos ‘n dief in die nag om sy bruid te kom haal, die bruid ontmoet haar Bruidegom in die lug en Hy voer haar dan weg na Hemelse plekke. Wanneer ons hierdie teks lees, beteken dit dat die Bruidegom homself nie sal vertoon nie, maar slegs Sy bruid kom haal.

In 1Thess.4:13-18 word die wegraping beskryf :

Daarna sal ons wat in die lewe oorbly saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug.

Die verheerliking van die Christene begin op daardie oomblik wanneer die basuin blaas, die ontslape heiliges uit die dode opgewek en die lewende heiliges in ‘n oomblik verander word om almal hulle verheerlikte liggame te ontvang.

Onmiddellik nadat die ontslape en lewende heiliges met verheerlikte liggame beklee is, word hulle van die aarde af weggevoer na die hemel om in die teenwoordigheid van die Here Jesus te wees.

Die Kerk kan in ‘n toenemende mate verdrukking ondervind, maar die oomblik as die Antichristelike mag met sy diaboliese organisasie vir grootskaalse marteling van die Bruid van Christus oor die aarde gereed is, dan daal die Here neer om sy Bruid weg te ruk en dan sak die Groot Verdrukking toe in al sy ellende.

Sodra die Kerk, die liggaam van Christus, weg is, val die nag van duisternis en neem God sy Gees oor die nasies weg, sodat hulle in volslae bandeloosheid, sedelike verval en bloeddorstigheid sal voortgaan onder die mag van die ongeregtige, die Antichris, wat dan geopenbaar sal word.

Die twee fases van die wederkoms word duideliker wanneer ons na die Griekse woord “parousia” kyk. Daar word in die oorspronklike taal beskryf dat, “Jesus skielik in die midde van sy Bruidsgemeente verskyn.” Dit dui op Jesus se fisiese teenwoordigheid en beklemtoon die feit dat Jesus en die bruid hierna nooit weer van mekaar geskei sal word nie.

Die Joodse tradisionele huwelik werp meer lig op die onderwerp; in Bybelse tyd het die Joodse bruidegom na sy verlowing vir ‘n tyd weggegaan om vir hom en sy bruid ‘n woonplek by sy vaderhuis te gaan berei. Daarna het hy haar in die geheim, in die nag kom haal, soms sonder dat selfs haar huismense op daardie oomblik daarvan bewus was en haar saam met hom na sy vaderhuis geneem.

Jesus gebruik juis hierdie voorbeeld wanneer Hy aan Sy dissipels die volgende vers voorhou: Joh.14:2-3

 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

Kuier gerus oor die volgende paar weke saam wanneer ons verder gaan gesels oor die volgende temas uit die boek van Openbaring:

  • Die regterstoel van Christus
  • Die groot verdrukking
    • Die sewe seëls
    • Die sewe basuine
    • Die sewe skale
  • Die wederkoms van Christus
  • Die bruilof van die Lam
  • Die opruiming van die land
  • Die duisendjarige vrederyk
  • Die groot wittroon oordeel

Groete,

Pastoor Lorraine van Staden

Lees ook

Openbaring: Deel 1 – Inleiding & Chronologie

Openbaring: Deel 2 – Outeurskap en Doel

Bronnelys

Die Bybel. 1953.  Bybelgenootskap van Suid-Afrika.  Kaapstad.

Die briewe van Petrus — Die brief van Judas. Kaapstad : N.G. Kerk-Uitgewers, 1998,

Bet-El Bybelkollege. Eskatologie Studiegids.

Internet

Afdeling A: Die Antichris en Eindtydse Oordele

http://www.bibleguidance.co.za/Afrboeke/Bybelse%2520Profesiee/Eindtyd2.htm

Vir verdere leesstof:

Malan Johan. Die Wegraping: Koms van die hemelse Bruidegom

Malan Johan. Die Dag van die Here

Volg ons asb: