Openbaring: Deel 4 – Die regterstoel van Christus en die 5 krone

Die regterstoel van Christus

Die Regterstoel van Christus is nie ‘n oordeel volgens sonde nie, maar ‘n beloning volgens die gelowige se goeie werke. Al die gelowiges sal beoordeel word, vanaf die skepping van Adam tot op die wederkoms van Christus, met die uitsondering van Henog, Elia, Moses en die ”gerf van die eerste vrugte…” van die opstanding.

Elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. – 1 Kor. 3:13-15

Dit sal geskied met die wegraping, net na die ontmoeting in die lug, en moontlik gelyktydig met die begin van die groot verdrukking.

Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug, en so sal ons altyd by die Here wees. – 1Thess. 4:16,17

Die Beloning: Vyf krone

Die kroon van die lewe, of martelaarskroon (Jak.1:12; Open.2:10; Matt.5:11-12)

Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang, wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet – Jak. 1:12

Die kroon sal gegee word aan almal wat op een of ander manier ter wille van die evangelie en die saak van God gely het. Hulle liefde vir Jesus is so diep en innig dat hulle onder allerhande beproewinge, toetse, vervolging en lyding aan Jesus getrou gebly en steeds vrugbaar vir Hom gearbei het.

Stéfanus, die eerste Christen martelaar, is met klippe dood gegooi (Hand 8), sal byvooreeld die martelaarskroon ontvang. So ook elke ander Christen wat op een of ander manier gely het ter wille van die evangelie.

Die onverwelklike kroon of geestelike wedlopers-kroon

En elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles – hulle nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike – Kor. 9:25

Hierdie kroon sal aan mense gegee word wat met voharding die geestelike weg bewandel en volhou om aktief aan die werk van God op aarde deel te neem. Tot in die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra. Ons moet volhou en uithou tot die einde in ons dienswerk vir Jesus.

Die kroon van die heerlikheid of die Herders-kroon

Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwiligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang – 1 Pet. 5:2 – 4

Die lerende en regerende herders en leiers in die gemeente wat goed gearbei het, gaan deur die Here Jesus beloon word. Kyk hoe praat die Bybel oor die karakter en integriteit van hierdie manne.

Die kroon van geregtigheid of die wederkoms-kroon

Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in die dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het – 2Tim. 4:7 – 8

Dit is ‘n spesiale beloning aan almal wat Jesus se wederkoms liefhet. Hulle handel en wandel met die verwagting dat die Here Jesus enige dag kan kom. Hulle arbeid is liefdediens omdat hulle Jesus en sy geseënde wederkoms liefhet.

Die kroon van Roem of siele-wenners-kroon

Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap, of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms? – 1Thes. 2:19

Die sielewennerskroon is ‘n spesiale beloning aan almal wat vissers van mense was. Dit is almal wat met die sekel van die evangelie in die ryp en wit oeslande van mense-siele ingaan en ‘n siele-oes vir die koninkryk help insamel.

Paulus verwys hier na sy eie geestelike kinders, mense wat hy vir die Here gewen het, en hy sê hulle is sy blydskap en kroon van roem wanneer Jesus kom.

Jesus het ook belowe dat elkeen wat help om die siele-oes in te samel beloon sal word.

Kuier gerus oor die volgende paar weke saam wanneer ons verder gaan gesels oor die volgende temas uit die boek van Openbaring:

  • Die groot verdrukking
    • Die sewe seëls
    • Die sewe basuine
    • Die sewe skale
  • Die wederkoms van Christus
  • Die bruilof van die Lam
  • Die opruiming van die land
  • Die duisendjarige vrederyk
  • Die groot wittroon oordeel

Groete,

Pastoor Lorraine van Staden

Lees ook

Openbaring: Deel 1 – Inleiding & Chronologie

Openbaring: Deel 2 – Outeurskap en Doel

Openbaring: Deel 3 – Die wegraping

Bronnelys

Die Bybel. 1953.  Bybelgenootskap van Suid-Afrika.  Kaapstad.

Die briewe van Petrus — Die brief van Judas. Kaapstad : N.G. Kerk-Uitgewers, 1998,

Bet-El Bybelkollege. Eskatologie Studiegids.

Internet

Afdeling A: Die Antichris en Eindtydse Oordele

http://www.bibleguidance.co.za/Afrboeke/Bybelse%2520Profesiee/Eindtyd2.htm

Vir verdere leesstof:

Malan Johan. Die Wegraping: Koms van die hemelse Bruidegom

Malan Johan. Die Dag van die Here

Volg ons asb:

One Comment

Comments are closed.