Openbaring: Deel 5 – Die groot verdrukking

Die groot verdrukking

Die gebeure wat in Openbaring 6 tot 19 beskryf word, speel almal binne die tydsbestek van slegs sewe jaar af. Uit Israel se oogpunt staan hierdie tyd as Daniël se sewentigste jaarweek bekend, soos in Daniël 9:24-27 beskryf. ‘n Jaarweek is ‘n periode van sewe jaar (Lev.25:3-4).

In die Nuwe Testament word die komende jaarweek waarin die Antichris sal regeer, die verdrukking en die groot verdrukking genoem (Matt. 24:21, 29; Open.7:14). Dié sewe jaar word in twee helftes van 3½ jaar elk verdeel. Om die moontlikheid van vergeesteliking uit te skakel, word daar in Openbaring 11 tot 13 ook na dié twee tydperke van 3½ jaar as 42 maande of 1 260 dae elk, verwys.

Die eerste helfte van die verdrukking sal deur ‘n valse vrede, asook deur politieke, maatskaplike, ekonomiese en godsdienstige inisiatiewe vir die vereniging van die mensdom onder die leierskap van die Antichris gekenmerk word. Wanneer sy vredes- en eenheidspogings egter misluk, sal hy hom in die oorblywende 3½ jaar tot die ongeëweaarde gebruik van geweld wend en sodoende die bloedigste diktatuur skep wat die wêreld nóg geken het. Die honderde miljoene slagoffers wat sy bewind van terreur gaan eis, sal daarvan die grootste menseslagting van alle tye maak.

Die twee helftes van die verdrukking kan van mekaar onderskei word deur daarna as die tyd van valse vrede en die groot verdrukking te verwys. Dit is verkieslik om van die hele sewe jaar slegs as die verdrukking te praat, omdat in werklikheid net die laaste 3½ jaar daarvan die groot verdrukking is. Gedurende die eerste 3½ jaar sal die mense op aarde geestelik en polities verslaaf en gemanipuleer word, maar in die laaste 3½ jaar fisies verdruk word.

Die goeie nuus van die Bybelse profesieë oor die eindtyd is dat die verskriklike oordele wat kom, in Christus Jesus ontvlug kan word! Die kennis van die profetiese woord plaas jou nie in ‘n doodloopstraat sonder enige uitkoms nie, maar dit stel jou voor ‘n baie belangrike uitdaging om nóú jou saak met God reg te maak. Hoe groot is die Here se genade nie, dat selfs te midde van die ergste verdrukking wat kom, siele nog steeds gered kan word – al bevind hulle hulself in die donkerste uur van die wêreldgeskiedenis!

In Openbaring 16 word ‘n baie donker prentjie van God se oordele tydens die wederkoms van Jesus Christus geskilder. In die gebeure nét voor en tydens die slag van Armagéddon gaan die Antichris se aanhangers met bose swere geteister, en die natuurlike hulpbronne van die wêreld vernietig word. In ‘n ekologiese ramp van ongekende afmetings sal alle seelewe vrek en varswaterbronne totaal besoedel en ondrinkbaar raak.

Mense, diere en plante sal eers deur ‘n groot hitte geskroei word, en daarna sal alle lig van die hemelliggame uitgedoof word. In die duisternis van God se oordele sal vernietigende aardbewings en verwoestende haelstene die aarde en sy oorlewende bewoners tref. Dit sal sal só erg wees dat geboue in alle stede op die aarde sal intuimel. Bergreekse sal platgemaak word en eilande onder die see verdwyn. Te midde van hierdie apokaliptiese rampe sal soldate van alle nasies onder demoniese aanhitsing na die Midde-Ooste optrek om teen die komende Messias, Jesus Christus, te veg en ook die oorblyfsel van Israel te probeer verdelg.

Kuier gerus oor die volgende paar weke saam wanneer ons verder gaan gesels oor die volgende temas uit die boek van Openbaring:

  • Die sewe seëls
  • Die sewe basuine
  • Die sewe skale
  • Die wederkoms van Christus
  • Die bruilof van die Lam
  • Die opruiming van die land
  • Die duisendjarige vrederyk
  • Die groot wittroon oordeel

Groete,

Pastoor Lorraine van Staden

Lees ook

Openbaring: Deel 1 – Inleiding & Chronologie

Openbaring: Deel 2 – Outeurskap en Doel

Openbaring: Deel 3 – Die wegraping

Openbaring: Deel 4 – Die regterstoel van Christus en die 5 krone

Bronnelys

Die Bybel. 1953.  Bybelgenootskap van Suid-Afrika.  Kaapstad.

Die briewe van Petrus — Die brief van Judas. Kaapstad : N.G. Kerk-Uitgewers, 1998,

Bet-El Bybelkollege. Eskatologie Studiegids.

Internet

Afdeling A: Die Antichris en Eindtydse Oordele

http://www.bibleguidance.co.za/Afrboeke/Bybelse%2520Profesiee/Eindtyd2.htm

Vir verdere leesstof:

Malan Johan. Die Wegraping: Koms van die hemelse Bruidegom

Malan Johan. Die Dag van die Here

Volg ons asb: