Openbaring: Deel 7 – Die sewe basuine

Die sewe basuine

Die eerste vier basuine dui op ekologiese ineenstorting (Op. 8:7-12).

Hieruit is dit duidelik dat groot dele van die see sowel as varswaterbronne, bome, gras en ook die lig van die son, maan en sterre met vernietigende gevolge getref gaan word.

Eerste basuin

En die eerste engel het geblaas, en daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. En ‘n derde van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand – Open. 8:7

Tweede basuin

En die tweede engel het geblaas, en iets soos ‘n groot berg wat brand met vuur, is in die see gegooi. En ‘n derde van die see het bloed geword, en ‘n derde van die lewende skepsele in die see het gesterwe, en ‘n derde van die skepe het vergaan – Open. 8:8

Derde basuin

En die derde engel het geblaas, en ‘n groot ster wat soos ‘n fakkel brand, het uit die hemel geval, en dit het geval op ‘n derde van die riviere en op die waterfonteine. En die naam van die ster word genoem Alsem; en ‘n derde van die waters het als geword, en baie mense het gesterwe van die water, omdat dit bitter geword het. – Open. 8:10

Vierde basuin

En die vierde engel het geblaas, en ‘n derde van die son is getref en ‘n derde van die maan en ‘n derde van die sterre, sodat ‘n derde van hulle donker sou word en die dag vir sy derde deel nie lig sou gee nie, en die nag net so. – Open. 8:12

Vyfde basuin

Die vyfde en sesde basuine kondig geweldige rampe oor die mensdom aan.

En die vyfde engel het op sy trompet geblaas. En ek het ’n ster gesien wat uit die hemel op die aarde geval het, en die sleutel van die put van die afgrond is vir hom gegee. En hy het die put van die afgrond oopgemaak, en rook het uit die put opgestyg soos die rook van ’n groot oond, en die son, asook die lug, is deur die rook van die put verduister. En uit die rook het sprinkane op die aarde te voorskyn gekom; en aan hulle is gesag gegee, dieselfde gesag as wat die skerpioene van die aarde het. En vir hulle is gesê om geen plantegroei van die aarde of enige groenigheid of enige boom te beskadig nie, maar net dié mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie.  En aan die sprinkane is dit gegee, nie om hulle dood te maak nie, maar dat hulle vyf maande lank gepynig moet word, en die pyniging oor hulle was soos die pyniging deur ’n skerpioen wanneer dit ’n mens steek. En in daardie dae sal die mense die dood soek, maar dit hoegenaamd nie vind nie, en hulle sal begeer om te sterf, maar die dood bly van hulle af wegvlug. En die gestaltes van die sprinkane was soos dié van perde wat gereedgemaak is vir die geveg; en op hulle koppe was iets soos krone, wat gelyk het soos goud, en hulle gesigte was soos die gesigte van mense, maar hulle het hare gehad soos vrouehare. En hulle tande was soos dié van leeus; en hulle het borsplate soos ysterborsplate gehad. En die geluid van hulle vlerke was soos die geluid van waens van baie perde wat in die geveg inhardloop. Ook het hulle sterte en angels soos skerpioene; en in hulle sterte is hulle gesag om die mense vyf maande lank seer te maak. Hulle het ’n koning oor hulle, die engel van die afgrond. In Hebreeus is sy naam Abadʹdon, maar in Grieks het hy die naam Apolʹlion. – Open. 9:1-11

Sesde basuin

Die sesde basuin word in Openbaring 9:13-19 aangekondig.

Dit is ‘n beskrywing van hoe die konings van die Ooste, dit is China en sy bondgenote, ook vir die oorloë van die groot verdrukking gemobiliseer sal word. ‘n Kwart van die totale wêreldbevolking is Chinese. Hierdie sluimerende reus sal eers in die groot verdrukking wakker word en dan sy skrikwekkende vernietigingswerk aanrig. ‘n Mag van 200 miljoen Asiate sal oor die Eufraatrivier trek en die Midde-Ooste, asook die Westerse wêreld, binneval. Hulle sal ‘n baie groot slagting aanrig en ‘n derde van alle mense op aarde doodmaak:

En [die stem uit die altaar] het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat. Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ‘n derde van die mense dood te maak. En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend [dit is 200 miljoen]; en ek het hulle getal gehoor. En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan. Deur hierdie drie plae is ‘n derde van die mense gedood – Open.9:14-18

Die vier groot sondes van die verdrukking is die volgende:

  1. Geweldsmisdade:.
  2. Okkultisme:.
  3. Seksuele losbandigheid:
  4. Ekonomiese vergrype:

Sewende basuin

Wanneer die sewende basuin blaas, word die geweldigste oordele van alle tye oor die aarde aangekondig. Die konings van die aarde sal onder die invloed van demoniese misleiding en aanhitsing na Armagéddon optrek om in die dal van beslissing deur die Here verdelg te word. Die kragte van die hemel sal ook geskud word soos nooit tevore nie, dan sal die Seun van die mens kom in groot krag en heerlikheid. Hy sal gerig hou met sy vyande, die ryk van die Antichris totaal vernietig en self die koningskap op sy skouers neem:

En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid. En die vier-en-twintig ouderlinge wat voor God op hulle trone sit, het op hulle aangesig geval en God aanbid en gesê: Ons dank U, Here God, Almagtige, wat is en wat was en wat kom, dat U die groot mag aangeneem en as koning geheers het – Op. 11:15-17

Deur die oordele wat hierna uitgestort gaan word, sal die aarde in ‘n haas onleefbare toestand omskep en sy natuurlike hulpbronne totaal verwoes word. Die mensdom sal op die randjie van algehele uitwissing te staan kom, en miskien dan eers besef wat die Here Jesus 2000 jaar gelede al oor hierdie tyd gesê het:

…dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie – Mat. 24:21-22

Kuier gerus oor die volgende paar weke saam wanneer ons verder gaan gesels oor die volgende temas uit die boek van Openbaring:

  • Die sewe skale
  • Die wederkoms van Christus
  • Die bruilof van die Lam
  • Die opruiming van die land
  • Die duisendjarige vrederyk
  • Die groot wittroon oordeel

Groete,

Pastoor Lorraine van Staden

Lees ook

Openbaring: Deel 1 – Inleiding & Chronologie

Openbaring: Deel 2 – Outeurskap en Doel

Openbaring: Deel 3 – Die wegraping

Openbaring: Deel 4 – Die regterstoel van Christus en die 5 krone

Openbaring: Deel 5 – Die groot verdrukking

Openbaring: Deel 6 – Die sewe seëls

Bronnelys

Die Bybel. 1953.  Bybelgenootskap van Suid-Afrika.  Kaapstad.

Die briewe van Petrus — Die brief van Judas. Kaapstad : N.G. Kerk-Uitgewers, 1998,

Bet-El Bybelkollege. Eskatologie Studiegids.

Internet

Afdeling A: Die Antichris en Eindtydse Oordele

http://www.bibleguidance.co.za/Afrboeke/Bybelse%2520Profesiee/Eindtyd2.htm

Vir verdere leesstof:

Malan Johan. Die Wegraping: Koms van die hemelse Bruidegom

Malan Johan. Die Dag van die Here

Volg ons asb: