Openbaring: Deel 9 – Die wederkoms van Christus

Die wederkoms van Christus

Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; – 2 Tessalonisense 2:1-7

En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ’n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide. – Sag. 14:4

Die Wederkoms van Christus sal met geweldige gebeurtenisse gepaard gaan. Die son sal verduister word en allerlei kosmiese verskynsels sal hulle voordoen. Dit is egter nog net die begin van die Dag van die Here!

Christus sal terugkom met ‘n fisiese liggaam; dieselfde waarmee Hy opgevaar het na die hemel, nà Sy opstanding. Lees Hand.1:11.

In Luk.24:38 verklaar Christus dat Hy met ‘n fisiese liggaam verrys het; ‘n liggaam van vlees en been, maar ‘n “verheerlikte liggaam.”

Die openbaarmaking van Christus van Mat.24:29-30 – aan die einde van die Groot Verdrukking – sal Jesus op die wolke kom (nie soos ‘n weerligstraal wat van een kant onder die hemel tot aan die ander kant skyn nie), en Hy sal as sigbare teken (semeion) verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde hulleself in rou slaan en hulle sal die Seun van die mens sien kom met groot krag en heerlikheid.

Met diè koms sal al die stamme van die aarde Christus met hulle fisiese oë sien,

Kyk, Hy kom met die wolke en elke oog sal Hom sien en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf. – Open.1:7

Hy word vergesel van Sy bruid, asook ‘n hemelse leërskare, en sit Sy voet op die Olyfberg neer. (Sag.14:4-5; Open. 19:11-15)

Die tweede fase van die wederkoms blyk ook duidelik uit die verskillende Griekse terme wat in die oorspronklike taal gebruik is. Die fase van die wederkoms staan as Christus se apokalipse of faneros bekend – dit is sy openbaarmaking of sigbaar-wording. Hy kom nie nou in die geheim net om aan sy bruidsgemeente te verskyn nie, maar word as Regter en Koning aan die hele wêreld geopenbaar. Dit is die Wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges.

…sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges. – 1Thess.3:13

Christus en sy heiliges word dus gelyktydig in heerlikheid aan die wêreld geopenbaar: Kol.3:4 “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.”

Kuier gerus oor die volgende paar weke saam wanneer ons verder gaan gesels oor die volgende temas uit die boek van Openbaring:

  • Die bruilof van die Lam
  • Die opruiming van die land
  • Die duisendjarige vrederyk
  • Die groot wittroon oordeel

Groete,

Pastoor Lorraine van Staden

Lees ook

Openbaring: Deel 1 – Inleiding & Chronologie

Openbaring: Deel 2 – Outeurskap en Doel

Openbaring: Deel 3 – Die wegraping

Openbaring: Deel 4 – Die regterstoel van Christus en die 5 krone

Openbaring: Deel 5 – Die groot verdrukking

Openbaring: Deel 6 – Die sewe seëls

Openbaring: Deel 7 – Die sewe basuine

Openbaring: Deel 8 – Die sewe skale

Bronnelys

Die Bybel. 1953.  Bybelgenootskap van Suid-Afrika.  Kaapstad.

Die briewe van Petrus — Die brief van Judas. Kaapstad : N.G. Kerk-Uitgewers, 1998,

Bet-El Bybelkollege. Eskatologie Studiegids.

Volg ons asb: