Tel Megiddo in Noordelike Israel
Die opruiming van die land
Om die koms van die Here ten volle te verstaan moet ons terugkeer na Bybelse profesieë. Dit is juis hierdie profesieë wat ons die volle omvang van sake verduidelik en vir ons ‘n beter geheelbeeld gee.
Omdat ons reeds sommige aspekte bespreek het gaan ek gebruik maak van ‘n kort opsomming van die Bybelse eskatologiese plan. Deur hierdie plan besef ons dat ons huidiglik in die genade dispensasie leef wat begin het op die dag van Pinkster toe die Heilige Gees op alle vlees uitgestort is.
Hierdie dispensasie sal beëindig word deur die wegraping, waar die Here sy kinders sal kom haal; hulle van die aarde wegvoer en Hom in die lug ontmoet. Hierna sal die bruid van Christus voor die Regterstoel van Christus verskyn waar hulle werke getoets sal word en waar hulle loon sal ontvang.
Sodra Christus Sy bruid kom haal (dit is die bruid wat die Satan se koms teëhou), sal die Satan op die voorgrond verskyn en die ongereddes sal ‘n tydperk van groot verdrukking deurgaan. Hierdie tydperk sal sewe jaar duur en die nuwe wêreldleier, die Antichris sal sy verskyning maak en in hierdie tyd oor die aarde heers. Die Groot Verdrukking sal tot ‘n einde kom met die tweede fase van Jesus se wederkoms, wanneer Hy sy voet op die Olyfberg sal sit.
Die dag van Jesus se wederkoms sal die dag wees wanneer Hy die slag van Armageddon voltrek. Armageddon beteken berg van ontmoeting, of berg van slagting.
Dit is ongeveer 88km noord van Jerusalem, 16km suidwes van Nasaret en 24km van die Meditiraanse see. Die gedeelte word as ‘n reghoekige plat stuk aarde beskryf wat 22km breed en 64km lank is.
In die geskiedenis was daar talle oorloë hier geveg:
- Debora en Brak verslaan hier die Kanaaniete (Rig 4&5)
- Gideon verslaan die Midianiete (Rig 7)
- Die Fillistyne het Saul hier verslaan (1Sam.31)
Selfs Napoleon het Armageddon as ‘n ideale plek vir die laaste veldslag beskryf; daar is geen twyfel waarom Lig en duisternis mekaar nie hier sal ontmoet nie.
Op die vooraan van hierdie groot slagting sal ‘n groot menigte van soldate optrek en die berge en heuwels van Israel sal oortrek wees met wapentuig. Almal onder leiding van Satan, die Antichris en die valse profeet sal met totale militêre krag van die wêreld in die Midde-ooste saamgetrek word.
Satan se motief is voor die handliggend wanneer ons na Bybelse profesieë kyk. Hy weet dat Jesus weer sal kom op die wolke en die sewe jaar van verdrukking beindig en vir Homself ‘n koninkryk op aarde stel, en vir hierdie rede wend hy ‘n finale poging aan om Jesus se koms te verhinder, want in hierdie tyd sal elke oog Hom sien – dit is die openbaarmaking van Jesus Christus.
Wanneer Satan, die Antichris en die leërs van die wêreld in Israel bymekaar kom, sal die grootste oomblik in die tyd van die aarde aanbreek. Die hemele sal oopgaan en Jesus sal as Ruiter op die wit perd uit die hemel kom.
Die slag van Armageddon sal die grootste veldslag wees van alle tyd en dit is tydens hierdie slagting dat Jesus die Jode sal red van totale uitwissing. In Eseg.38:18-23 sien ons die volgende woorde:
Maar in die dag, die dag as Gog teen die land van Israel aankom, spreek die Here HERE, sal my grimmigheid in my neus opkom. Ja, in my ywer spreek Ek, in die vuur van my grimmigheid: Waarlik, in die dag sal daar ‘n groot aardbewing wees in die land van Israel, sodat van my aangesig af weg sal bewe die visse van die see en die voëls van die hemel en die wilde diere van die veld en al die gediertes wat op die grond kruip en al die mense wat op die aarde is; en die berge sal omvergegooi word en die kranse inmekaar stort en al die mure op die aarde val. En Ek sal die swaard oproep teen hom na al my berge, spreek die Here HERE, die swaard van die een sal teen die ander wees. En Ek sal met hom in die gereg gaan deur pes en deur bloed; en oorstromende stortreën en haelstene, vuur en swawel op hom laat reën en op sy leërs en op baie volke wat saam met hom is. So sal Ek My dan as groot en as heilig laat ken en Myself bekend maak voor die oë van baie nasies; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.
So kom die Antichris gou tot sy einde en al die manskappe wat teen God kom oorlog voer het, sal verslaan lê en dien as kos vir die wilde diere van die veld en die voëls van die lug.
En jy, mensekind, so spreek die Here HERE: Sê vir die voëls van allerhande vere en vir al die wilde diere van die veld: Kom bymekaar en kom aan, versamel julle van alle kante by my slagoffer wat Ek vir julle slag, ‘n groot slagoffer op die berge van Israel; en eet vlees en drink bloed! Vlees van die helde sal julle eet en bloed van die vorste van die aarde drink – ramme, lammers en bokke en stiere, vetgemaakte diere van Basan almal saam- … En julle sal aan my tafel versadig word van perde en ruiters, van helde en alle soorte krygsmanne, spreek die Here Here. – Eseg.39:17-18 & 20
Die opruiming in die land sal begin en vir sewe maande lank sal die kinders van Israel, hulle begrawe wat teen God in opstand gekom het, verder sê die woord van God ook dat hulle vir sewe jaar lank vuur sal kan maak met die oorblyfsels van die slagveld.
Na hierdie groot oorwinning word die dier en die valse profeet gevangene geneem en in die poel van vuur gewerp. Satan sal gebind word en die duisendjarige vrederyk sal aanbreek waar Jesus self sy koninkryk op aarde sal vestig en hier saam met Sy bruid regeer.
Kuier gerus oor die volgende twee weke saam wanneer ons verder gaan gesels oor die volgende temas uit die boek van Openbaring:
- Die duisendjarige vrederyk
- Die groot wittroon oordeel
Groete,
Pastoor Lorraine van Staden
Lees ook
Openbaring: Deel 1 – Inleiding & Chronologie
Openbaring: Deel 2 – Outeurskap en Doel
Openbaring: Deel 3 – Die wegraping
Openbaring: Deel 4 – Die regterstoel van Christus en die 5 krone
Openbaring: Deel 5 – Die groot verdrukking
Openbaring: Deel 6 – Die sewe seëls
Openbaring: Deel 7 – Die sewe basuine
Openbaring: Deel 8 – Die sewe skale
Openbaring: Deel 9 – Die wederkoms van Christus
Openbaring: Deel 10 – Die bruilof van die lam
Bronnelys
Die Bybel. 1953. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kaapstad.
Die briewe van Petrus — Die brief van Judas. Kaapstad : N.G. Kerk-Uitgewers, 1998,
Bet-El Bybelkollege. Eskatologie Studiegids.