Die Tabernakel van Moses: Deel 7 – Die Verskillende Offergawes

  1. Die Brandoffer: Die hele dier, behalwe die vel wat aan die priester gegee is, is aan God geoffer. Die aanbidder het sy hande op die dier geplaas om te toon dat dit ‘n offer vir sy eie tekortkominge is. Die dier moes sonder gebrek wees – net die beste is goed genoeg vir God. Die bloed van die offerdier is op die altaar gesprinkel as teken dat die lewe van die dier in die dood aan God oorgegee is, (Lev. 1)
  2. Die Spysoffer: Dit was ‘n offer van meel, gebakte koeke of rou graan saam met olie en wierook. Dit was ‘n welwillendheidsoffer aan God. ‘n Deel, die gedenkoffer, is op die altaar verbrand. God is so gevra om die aanbidder te “onthou”. Die res was ‘n bydrae tot die onderhoud van die priesters. Weereens moes die aanbidder die beste offer wat hy kon gee. (Lev. 2)
  3. Die Dankoffer: Die ritueel was dieselfde as die vir die brandoffer, maar nou is net die vet, wat deur die Israeliete as die beste deel beskou is, op die altaar verbrand. Die vleis is deur die aanbidder en sy familie gedeel. Aangesien God ook aan die offer deel gehad het, is dit beskou as ‘n vriendskapsmaal met God. (Lev. 3)
  4. Die Sondoffer: Hierdie offer is gebring wanneer iemand teen ‘n ander of teen God gesondig het. Die sonde het die heilige plek van die tabernakel of tempel verontreinig en dit moes dus gereinig word. Die offerbloed is gesprinkel as teken dat die verontreiniging verwyder is deur die dood van die dier. ‘n Deel van die offer is as voedsel vir die priester geneem. Wanneer die aanbidder sien dat die priester die vleis eet sonder dat hy iets oorkom, weet hy dat God sy berou gesien het. (Lev. 4, 5 & 7)

Die ritueel van die offer op die Versoendag (Lev. 16) verskil ietwat. Hier is onder meer twee bokke geoffer. Een is soos ‘n gewone sondoffer doodgemaak, maar die ander is die woestyn ingestuur as simbool van die sonde wat verwyder word.

Elkeen van hierdie offerandes het ‘n vereiste wat deur die dood van Christus aan die kruis betaal is, en nou kan ons deur die geloof in Hom, die Lam van God geslag met vrymoedigheid nader tot die Troon van Genade.

As voorbeeld kyk ons na daardie Israeliet wat met geboë hoof stadig deur die talle tente na die Ingang van die Voorhof kom. Hy lei ‘n lammetjie, sonder gebrek (‘n tipe van Christus). Hy bring ‘n Sondoffer, want sy gewete gee hom geen rus, dag of nag, nie. Die Heilige Gees het hom oortuig van sonde, sonde teen die Here en teen sy medemens. Nou het hy ‘n lammetjie gaan uitsoek sonder gebrek of rimpel en bring dit na die altaar as ‘n offergawe –

  • Hy moes self die offerlam bring, hy kon nie iemand anders stuur nie – Saligheid is ‘n persoonlike saak.
  • Hy moes sy hande op die kop van die offerdier druk – daardeur rol hy sy skuld en las op die offerdier.
  • Hy moes self die lam slag en aan stukke sny. Dit is nie meer die Romeinse soldate wat Jesus gekruisig het nie, maar ek en jy deur ons sondige lewens het Hom na die kruis geneem.
  • Hy moes dit was en aan die priester gee – “laat jou doop en jou sonde afwas” – Hand. 2:38.
  • Hy was vry deur die dood van die Lam – Sy skuld is betaal deur die bloed van die Offerlam, as sy Plaasvervanger – Die Saligheidsplan.

Kom kuier gerus weer saam vir die volgende paar weke wanneer ons die volgende onderwerpe gaan bespreek:

  • Die Koperwaskom
  • Die Tabernakel
  • Die Viervoudige Bedekking
  • Die Heiligdom
    •             Die Reukofferaltaar (Goue Altaar)
    •             Die Goue Kandelaar
    •             Die Tafel met die Toonbrode
  • Die Voorhangsel
  • Die Allerheiligste
    •             Die Verbondsark
    •             Die Versoendeksel of Genadetroon
    •             Die Inhoud van die Ark
  • Die Hoëpriester
  • Die Orde in die laer, in die kamp en op trek
  • Die Wolkkolom
  • Die Groot Versoeningsdag

Groete tot dan!

Pastoor Kiewiet van Staden

Lees ook:

Die Tabelnakel van Moses: Deel 1 – Inleiding

Die Tabernakel van Moses: Deel 2 – Die wet en die tabernakel

Die Tabernakel van Moses: Deel 3 – Die Plan

Die Tabernakel van Moses: Deel 4 – Die Poort

Die Tabernakel van Moses: Deel 5 – Die Voorhof

Die Tabernakel van Moses: Deel 6 – Die Brandoffer Altaar (Die Koper Altaar)

Volg ons asb: