
Die Koperwaskom was die grootste van al die gereedskap in die Tabernakel, tweemaal so groot as die Ark van die Verbond in die Allerheiligste. Dit was van koper gemaak.
Die mens sou nooit met hout in die altaar gebou het as die Here dit nie aan Moses op die berg gewys het nie. Dit spreek van die tweevoudige natuur van Christus: Hout die menslike en Koper die sterk onverganklike Goddelike natuur. Dat die menslik deel van Jesus nie verteer is met sulke noue aanraking met die heilige God as wat Hy gehad het is net so wonderlik as dat die hout nie in die altaar deur die vuur verteer is nie. God het verklaar dat niemand Sy aangesig sou sien en bly leef nie.
Die posisie van die Koperwaskom
Die Koperwaskom het reg voor die Ingang gestaan. Dit vertel vir ons dat die eerste noodsaaklikheid vir die mens om tot God te nader, is die erkenning en beleidenis van sonde. Die eerste seën wat die Here aan die mens wil skenk is die vergifnis van sy sonde. Om voor God te verskyn sonder bloed is gewisse dood, daarom moet hy eers by die altaar uitgekom het.
Die Koper Waskom het tussen die Altaar en die Tabernakel gestaan. Dit was die tweede heilige voorwerp wat ons sien na ons by die poort ingekom het. Dit was gemaak van koperspieëls van die vroue wat by die ingang diens gedoen het (Ex. 38:8). Daar moes altyd water in die waskom wees.
Die doel van die Waskom
Die doel daarvan was om nie alleen aan die priester die vlekke en onreinheid aan hulle vlees en klere te toon nie, maar om hulle te voorsien van die middel om hulle gedurig te reinig, elke keer as hulle in die heiligdom ingaan of na die Koper Altaar gaan, om te gaan offer.
Daar is drie dinge wat in vergelyking met die ander voorwerpe kenmerkend is omtrent die Koper Waskom:
- Daar was geen mate gegee waarvolgens die Waskom gemaak moes word nie, terwyl dit die geval was met al die ander voorwerpe.
- Terwyl al die ander voorwerpe bedek moes word voordat hulle begin trek het, was daar geen instruksies van so ‘n aard vir die Waskom nie.
- Daar was ook geen voorsiening aan die Waskom vir draagbare nie, soos dit wel die geval was met al die ander voorwerpe.
Noodsaaklike lesse uit die Waskom
Daar is ‘n paar lesse wat ons deur kontras met die Koper Altaar van die Waskom wil leer. Die Waskom spreek van die Woord van God en die Heilige Gees (1 Pet.1:22; Joh.15:3: 17:17; Ef.5:26).
- By die Altaar sien ons God se volbragte voorsiening vir die sondaar en by die Waskom sien ons die Here se onbeperkte voorsiening vir die verlostes.
- By die Altaar sien ons Jesus sterf om ons van ons sonde te reinig en by die Waskom sien ons Hy leef om ons van sonde rein te hou.
- By die Altaar sien ons geskrywe:
“Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie” – Heb. 9:22
en by die Waskom hoor ons die woorde:
“Sonder heiligmaking sal niemand die Here sien nie” – Heb. 12:14.
- Die Altaar spreek van die volmaakte werk van Christus wat volbrag is. (Dit was net so groot gebou as wat God op die berg vir Moses gewys het.) Die Waskom spreek van die werk van Christus wat nog voortduur in die lewe van die Christen.

Die Leerstelling van Heiligmaking
a) Die heiligmaking van die Gees (1 Pet. 1:2; 2 Thes. 2:13; 1 Kor. 6:11)
Hierdie heiligmaking deur die Gees is daardie vorm van voorbereiding wat plaasvind in ons lewens voor ons weergebore word; wanneer die Gees van God ons opsy sit en in ons harte en lewens begin werk, en aanhou werk totdat ons tot gehoorsaamheid kom.
b) Die heiligmaking deur die Bloed
“Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely.” – Heb 13:12
Dit is die werk wat by die Altaar verrig is Heb. 10:10 & 14.
c) Die Waskom spreek van ‘n voortdurende werk van heiligmaking
“Heilig hulle in U waarheid, U Woord is die waarheid.” – Joh. 17:16-19
“…soos Christus ook die gemeente liefgehad het en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord.” – Ef. 5:25-26
Ons kan nooit tot daardie stadium kom waar ons nie gedurig hierdie voortdurende reiniging of heiligmaking nodig het nie.
Soos die priesters maar gedurig met die grond in aanraking gekom het, terwyl hulle met hulle daaglikse werk besig was, is hulle maar altyd weer besoedel. Hulle moes hulself dus elke keer by die waskom gaan spieël en weer was. So moet elke verloste gedurig na die Woord van God gaan om sy toestand te besef en dan reiniging ontvang van die vlekke en klatte van sonde. Die kind van God kry sy reiniging by die Waskom van God se Woord. As ‘n sondaar het hy vir altyd versoening en vergifnis ontvang by die Koper Altaar.
Die twee bestanddele van die Waskom
Die waskom was van koper spieëls gemaak en met water gevul.
a) Die Materiaal
‘n Spieël wys jou nie hoe ander lyk nie, maar hoe jy vir ander lyk! Die waskom was van ‘n gladde en blink gepoleerde koper gemaak, sodat die priesters hulleself daarin kon sien. Nie hoe mooi hulle was nie, maar die merke en vlekke op hulle gesigte, hande en voete en ook op hulle klere.
In die Nuwe Testament word drie keer na spieël verwys:
- En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is. – 2 Kor. 3:18
- Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. – 1 Kor. 13:12
- Want as iemand ‘n hoorder van die woord is en nie ‘n dader nie, die is soos ‘n man wat sy natuurlike gesig in ‘n spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. – Jak 1:23-24
Dit is in die Woord van God wat ons ons eie toestand aanskou.
b) Die Water
“Jesus sê vir hom: Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te was nie, maar is heeltemal rein; en julle is rein, maar nie almal nie.” – Joh.13:10
Die Woord van God is nie alleen ‘n spieël om die gelowige sy foute en gebreke uit te wys nie, maar ‘n fontein om te reinig. Die water staan vir die Heilige Gees wat deur die Woord werk. Die letter is dood maar die Gees maak lewend. Soos die priesters gedurig na die waskom moes gaan vir reininging, so moet elke kind van die Here getrou die Woord van God lees en bid om rein te bly.
Wat ‘n troos om te weet dat die water afgekom het tot by die priesters. Hulle het nie nodige gehad om op te klim na die water toe nie. Deur slegs die kraan oop te draai, kon hulle die water op hulle vuil klere laat val om dit skoon te maak. (Rom.10:6-8) Christus se reiniging is vir klein en groot.
Wie was diegene wat gereinig moes word by die Waskom?
“As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy ‘n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk.” – 2 Tim. 2:21
Ons sien dus dat die doel van die koperwaskom is dat priesters geskik gemaak sal word tot gemeenskap en diens in die heiligdom. Dit was nie die gewone mense daar buite nie, maar hulle wat in ‘n noue en intieme verhouding met die Here moes dien.
Kom kuier gerus weer saam vir die volgende paar weke wanneer ons die volgende onderwerpe gaan bespreek:
- Die Tabernakel
- Die Viervoudige Bedekking
- Die Heiligdom
- Die Reukofferaltaar (Goue Altaar)
- Die Goue Kandelaar
- Die Tafel met die Toonbrode
- Die Voorhangsel
- Die Allerheiligste
- Die Verbondsark
- Die Versoendeksel of Genadetroon
- Die Inhoud van die Ark
- Die Hoëpriester
- Die Orde in die laer, in die kamp en op trek
- Die Wolkkolom
- Die Groot Versoeningsdag
Groete tot dan!
Pastoor Kiewiet van Staden
Lees ook:
Die Tabelnakel van Moses: Deel 1 – Inleiding
Die Tabernakel van Moses: Deel 2 – Die wet en die tabernakel
Die Tabernakel van Moses: Deel 3 – Die Plan
Die Tabernakel van Moses: Deel 4 – Die Poort
Die Tabernakel van Moses: Deel 5 – Die Voorhof
Die Tabernakel van Moses: Deel 6 – Die Brandoffer Altaar (Die Koper Altaar)
Die Tabernakel van Moses: Deel 7 – Die Verskillende Offergawes