Die Tabernakel van Moses: Deel 9 – Die Tabernakel

Die Tabernakel word ook die plek van Samekoms genoem. Dit is eintlik die naam van die “Heilige en die “Allerheiligste”. Die res word die “Voorhof genoem. Sy posisie was aan die westekant van die voorhof in lyn met die ingang. Die gevalle mens kon nie God in die Heiligdom ontmoet nie, maar God het hom by die Ingang ontmoet, en vandaar na die –

  • Koper Altaar geneem vir die bedekking van sy sonde
  • daarna na die Waskom vir reiniging.

(Oos poort – Nuwe Jerusalem het 12 poorte.)

Die Tabernakel  moes in ‘n voorhof geplaas word, wat van die woestyn geskei is, deur wit gordyne wat van pilare hang en ‘n wye ingang aan die ooste kant. Die Tabernakel het aan die Weste kant gestaan en was 14 m lank, 4 m breed en 5 m hoog.

Die binnekant van die tabernakel was in twee vertrekke verdeel. Die kleinste een verste van die deur is die “allerheiligste” genoem. Slegs die hoëpriester is eenmaal per jaar toegelaat om die allerheiligste binne te gaan. Dit is met ‘n linnegordyn van die groter vertrek, die “heilige plek”, geskei, die ingang waartoe ook met ‘n geborduurde linnegordyn bedek is.

7.1  Die Algemene Struktuur

Die fondment was baie swaar – om maklik in die sand van die woestyn te staan.

a)  Die Silwer Voetstukke

Elke styl was in sy plek gehou deur twee tappe wat in twee voetstukke van die silwer gerus het. Daar was dus 100 voetstukke wat elk een talent silwer geweeg het. In Ex.30:11-16 sien ons dat elke getelde man bo twintig ‘n halfsikkel as losgeld vir sy siel moes betaal. Hierdie silwer is in die voetstukke van die fondamente gegiet. Dit staan in werklikheid vir die prys van ‘n siel, naamlik die bloed van Jesus (versoening).

Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.

1 Kor. 3:11

b)  Die Style (Ex.26:15-25;29)

Die style van die Tabernakel rus op die silwervoetstukke. Die Christenmens se hele geestelike huis rus op die Fondament van Christus se versoeningsdood. Soos die panele inmekaar voeg, illustreer dit die verhouding van die Christene met mekaar.

Volgens Ex. 26 was die Tabernakel ‘n raamwerk van hout wat met goud oorgetrek was, wat bestaan het uit twintig style aan die suidekant en twintig aan die noordekant, en agt met die twee hoeke aan die westekant, altesaam agt-en-veertig style. Onder elke styl was twee silwer voetstukke. Die twee dwarshoute van akasiahout met goud oorgetrek, het aan elke sykant van die Tabernakel gedien om die style stewig aanmekaar te hou.

Akasiahout spreek van God se menslikheid en die goud van Sy goddelikheid. As Christus ons plaasvervanger moes wees om die straf vir ons sondes te dra, dan moes Hy waaragtig ook mens geword het. Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit op dieselfde manier deelagtig geword Heb.2:14. Alhoewel die Here Jesus in die gelykheid van die sondige vlees gekom het, was Hy sonder sonde. Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat die kragteloos was deur die vlees – deur Sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees (Rom.8:3).

In die Akasiahout sien ons Christus in Sy vernedering.

Want Hy het soos ‘n loot voor Sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond 

Jes.53:2
  • Die hout wat afgekap is: stel ons voor wat by bekering afgekap word van die ou lewe en sonde – illustreer geloof en bekering.
  • Die hout was uitgedroog. Die sappe van selfsug en vleeslikheid moet opdroog voordat hy bruikbaar vir God kan wees.
  • Die hout was skoongemaak. Ons moet gereining word van al ons sondes voordat ons in vrede met God en ons medemens kan saamleef. Dus moet elke mens behoorlik gereinig word om bruikbaar te wees.
  • Die hout is met goud oorgetrek. Die verganklikheid van die hout word met die onverganklikheid van goud beklee. Hierdie hout het ‘n nuwe beeld aangeneem. Kol. 3:10 “… en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper.” So moet elke gelowige homself met Christus beklee. Die menslike natuur maak plek vir die goddelike natuur.

Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak.

Open.3:12

Daar is vier uitstaande gedagtes van die style:

  • Hulle was noodsaaklik – so is elke verloste in die gemeente
  • Elke styl was waardevol – so is elke geredde siel vir Jesus
  • Elke styl voeg in met die ander – so moet ons een in Christus wees
  • Elke styl moet regop staan sodat die ander kan inpas – en so ons.

c)  Die Dwarshoute (Ex. 26:26:29)

Die dwarshout hou die style regop, in posisie en teenmekaar op die fondamente. Elke dwarshout het deur ‘n goue ring, wat aan die style vas was, gegaan. Ons word ondersteun en regop gehou deur die krag van God. Hierdie tipe word weerspieël in 1 Kor, 13:13, die goue erfdeel van elke kind van God. “En nou blygeloof, hoop, liefde – hierdie drie…” Dit is wat ons aanmekaar bind en staande hou.

 d)  Die Oprigting

Die oprigting het geskied op die eerste dag van die eerste maand (Ex.40:2) nadat alles op sy regte plek was en God het die Tabernakel met Sy heerlikheid gevul. Dit was ‘n nuwe begin, soos wat dit vir ons ‘n nuwe begin is wanneer die Gees van die Here in die Tempel van die liggaam kom woon.

7.2  Die Dak

Die viervoudige dak van die Tabernakel wys na ons geseënde Here Jesus. 

Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.  Syne is die heerlikheid tot in ewigheid

Rom11:36

Dit verteenwoordig die vier verskillende gesigspunte van die karakter en werk van Hom wie se Naam Wonderbaar is. So vind ons in die vier Evangelies die beskrywing van een persoon, Jesus Christus. Sy persoonlikheid is te breed om deur een tipe vertolk te word.

In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik. 

Kol.2:9

Kom kuier gerus weer saam vir die volgende paar weke wanneer ons die volgende onderwerpe gaan bespreek:

  • Die Viervoudige Bedekking
  • Die Heiligdom
    •             Die Reukofferaltaar (Goue Altaar)
    •             Die Goue Kandelaar
    •             Die Tafel met die Toonbrode
  • Die Voorhangsel
  • Die Allerheiligste
    •             Die Verbondsark
    •             Die Versoendeksel of Genadetroon
    •             Die Inhoud van die Ark
  • Die Hoëpriester
  • Die Orde in die laer, in die kamp en op trek
  • Die Wolkkolom
  • Die Groot Versoeningsdag

Groete tot dan!

Pastoor Kiewiet van Staden

Lees ook:

Die Tabelnakel van Moses: Deel 1 – Inleiding

Die Tabernakel van Moses: Deel 2 – Die wet en die tabernakel

Die Tabernakel van Moses: Deel 3 – Die Plan

Die Tabernakel van Moses: Deel 4 – Die Poort

Die Tabernakel van Moses: Deel 5 – Die Voorhof

Die Tabernakel van Moses: Deel 6 – Die Brandoffer Altaar (Die Koper Altaar)

Die Tabernakel van Moses: Deel 7 – Die Verskillende Offergawes

Die Tabernakel van Moses: Deel 8 – Die Koperwaskom

Volg ons asb: