
Fyn dubbeldraad linne (Ex. 26:1) (Voorspraak, Middellaar)
Die eerste bedekking wat dien as die plafon van die Tabernakel. In Johannes sien ons God geopenbaar in die vlees – verheerlik (fyn dubbeldraadlinne). Die Woord het vlees geword – God het na Sy eiendom gekom.
Hierdie bedekking het uit 10 tentdoeke bestaan, van fyndubbeldraad linne waarin daar blou en pers en rooi drade geweef is. Daar moet ook gerubs (wesens met vlerke) daarop geborduur word. Elkeen van hierdie stukke materiaal moet ewe groot wees, dertien en ‘n half meter lank en twee meter breed. Hierdie stukke materiaal moet vyf-vyf aan mekaar geheg word sodat daar twee lang stroke van die linne sal wees. Aan die sye van hierdie twee lang stroke is vyftig blou lissies gemaak, sodat die twee sye se lissies ooreenstem. Goue hakkies is dan aan hierdie lissies gehaak.
In hierdie bedekking word Christus in al Sy heerlikheid geopenbaar. Die kleure van hierdie bedekking tipeer verskillende aspekte van die karakter van die Here Jesus wat vol genade en waarheid is.
- Blou is ‘n hemelse kleur en wys na Sy Godheid. “Niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.” Joh.3:13.
- Rooi herinner aan Jesus se kruisdood. “Hy wat geen sonde geken het nie, is sonde gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” 2 kor.5:21.
- Pers is die kleur van Sy koninklike karakter. Dit is die uitvloeisel van die mengsel van rooi en blou. “..sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.” Fil. 2:10-11.
- Die Gèrubs Hier sien ons hulle nie meer met swaarde wat vlam en flikker nie, maar met uitgespreide vlerke wat die priester ontmoet sodra hy in die heiligdom kom. Ook spreek dit nie meer van oordeel nie, maar met bewondering kyk die gerubs op die bloedgekoopte priester. Hierdie gerubs sien op die Here Jesus waar Hy ‘n magsposisie beklee oor alle magte van die vyand – Hy is Oorwinnaar!
Wit Bokhare (Ex. 26:7-13)
Het op die bedekking van die fyn linne gelê en dit volkome bedek. Die Wit bokhaar bo-oor die linne bedekking stel voor die Seun van die mens in noue kontak met die Heilige en Allerheiligste.
Die Tipe: Die gelowiges wat witgemaak is in die bloed van die Lam. Hulle is onder die bedekking (wat die versoening is) van die offer van Golgota (wat die rooigeverfde ramsvelle is). Hulle is in gemeenskap en kontak met God, wie Homself in Christus aan die gelowige openbaar het. Dit spreek van die karaktertrekke van Jesus as Dienaar. Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien. Hy het soms moeg en afgemat geword van sy arbeid van liefde.

Die Rooigeverfde Ramsvelle (Ex. 26:14 Die Offer-Ram)
Die fyn linne en bokhaar impliseer geen lyding nie. Die ram moes eers geslag word om sy vel te kan gee. Die ram was ‘n plaasvervanger vir Isak. Velle word verkry deur slagting en bloedvergieting (Jes.63:1-5). Hier het ons Jesus, die Man van smarte, met bloedbevlekte klere, as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Ons sien Hom in Getsemane en op die Kruis waar sy klere rooigeverf word deur die bloed van Sy offer.
Hierdie bedekking spreek tot elke gelowige die verantwoordelikheid toe, om toe te sien dat hulle klere witgemaak word in die Bloed van die geslagte Lam indien hulle gemeenskap met God en onder bedekking van Sy offer van Golgota wil wees.
Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel, die straf wat vir ons die vrede gebring het was op Hom,en deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom
Jes 53:5
Robbevelle. (Ex. 26:14) (El Shaddai)
Dit was die boonste bedekking. Die Robbevelle was die volkome beskerming. Christus in Sy vlees was sterk en getrou en kon alles dra en verdra soos die robbevele die woestyn kon trotseer.
In Mattheus sien ons Hom as die Koning (die robbevelle). Die robbevelle was van seediere afkomstig, met ‘n grys kleur wat maar onaantreklik vir die oog was. In Jes. 53:2 lees ons dat Hy geen gestalte of heerlikheid gehad het dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie. Die robbevelle moes die volkome beskerming vir alles onder dit bied. Christus in Sy vlees en van buite onaansienlik, was sterk en getrou en kon alles dra en verdra. Satan het Hom getoets, maar kon niks teen Hom vind nie. Daarna Getsemane en die Kruis, maar Christus het alles gedra en beskerm.
Niemand wat die Tabernakel met die boonste bedekking van robbevelle gesien het, sou ooit gedroom het van die rykdomme, die kleure en skoonheid daaronder nie. Dit is net wanneer iemand sou ingaan en die goue tafel met toonbrode, die goue kandelaar, die goue reukaltaar, die pragtige voorhangsel met die ark van die verbond, die goue genadetroon met die gerubs daarop en die lig van God se heerlikheid sien, die mure met goud oorgetrek. Die dak vlekloos wit met gerubs op die agtergrond in blou, rooi en pers, kunstig ingeweef. Dit is net wanneer hy binne-in staan, dat hy kan sê: Ek is in die Tabernakel; dan en dan alleen sal hy die rykdom en heerlikheid ken.
Dit is net hy wat langs die weg van die brandofferaltaar met die bloed van die offer gegaan het, wat ooit so ‘n heerlikheid kan aanskou.
Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie
Jes 53:2
Kom kuier gerus weer saam vir die volgende paar weke wanneer ons die volgende onderwerpe gaan bespreek:
- Die Heiligdom
- Die Reukofferaltaar (Goue Altaar)
- Die Goue Kandelaar
- Die Tafel met die Toonbrode
- Die Voorhangsel
- Die Allerheiligste
- Die Verbondsark
- Die Versoendeksel of Genadetroon
- Die Inhoud van die Ark
- Die Hoëpriester
- Die Orde in die laer, in die kamp en op trek
- Die Wolkkolom
- Die Groot Versoeningsdag
Groete tot dan!
Pastoor Kiewiet van Staden
Lees ook:
Die Tabelnakel van Moses: Deel 1 – Inleiding
Die Tabernakel van Moses: Deel 2 – Die wet en die tabernakel
Die Tabernakel van Moses: Deel 3 – Die Plan
Die Tabernakel van Moses: Deel 4 – Die Poort
Die Tabernakel van Moses: Deel 5 – Die Voorhof
Die Tabernakel van Moses: Deel 6 – Die Brandoffer Altaar (Die Koper Altaar)
Die Tabernakel van Moses: Deel 7 – Die Verskillende Offergawes
Die Tabernakel van Moses: Deel 8 – Die Koperwaskom
Die Tabernakel van Moses: Deel 9 – Die Tabernakel