
Die woord Voorhangsel spreek van iets wat verberg. Iets daaragter wat nie gesien kan word nie. Die Voorhangsel het tussen die Priester en die Heerlikheid van God op die Versoendeksel gehang. Die Voorhangsel is ‘n tipe van die vleeslike liggaam van Jesus Christus (Heb.10:20). Agter daardie vlees was die God van die Hemel verborge (1 Tim.3:16). Die vlees van Christus het die heerlikheid van Sy goddelikheid verberg. Om te sterf is maar die skeuring van die die Voorhangsel, die vlees.
Dit word ook genoem “Die Voorhangsel tot Bedekking” (Num.4:5). Die Voorhangsel is van rooi, blou en pers materiaal geweef. Duidelike profetiese verklaring dat God in die vlees geopenbaar sou word.
By die opbreek van die laer moes Aäron en sy seuns die Voorhangsel tot bedekking afneem en daarmee die ark van die Getuienis bedek. Dit moes die Ark bedek as hulle op reis is en dit toe hou as die Tabernakel stil staan. Daar kon nie in die teenwoordigheid van God ingegaan word nie. Sy heerlikheid kon nie aanskou word solank as die Voorhangsel nog heel was en daar nog nie Bloed op die Versoendeksel gesprinkel was nie. Die Hoëpriester moes eenmaal per jaar in die Allerheiligste ingegaan het, om met die bloed, in die onmiddellike teenwoordigheid van God te kom.
Die mens kan nie in met sy sondige natuur in God se teenwoordigheid kom nie. Die Bloed van Jesus reining ons en maak ons waardig om in Sy teenwoordigheid te staan.
a) Die Posisie van die Voorhangsel
Die Voorhangsel het die skeiding tussen die Heiligdom en die Allerheiligste gevorm. Die priester moes deur die Voorhangsel tot die teenwoordigheid van God gaan. So kan geen mens toegang tot God vind behalwe deur die Liggaam van Jesus Christus op Golgota (Joh. 14:6).
b) Die skeur van die Voorhangsel
By die kruisiging van Jesus was die Jode besig om die Voorhangsel opsy te skuif en hulle bloot te stel aan die wraak van God, toe hulle uitroep; “Kruisig, kruisig Hom!” Toe Jesus sterf, het die Voorhangsel van die Tempel van bo na onder in twee geskeur (Matt.27:51).

Met die geboorte van Jesus het God na die mens gekom. Met Sy dood het God die deur vir die hele mensdom oopgemaak vir direkte toegang tot Hom. Dit het ‘n einde gemaak aan die Tempel-verordeninge en Offerandes. Die skeur van die Voorhangsel van bo na onder was deur God se eie hand gedoen. Hy het self die weg gebaan vir die mens om in Sy heilige teenwoordigheid in te gaan.
Die toegang van die mens tot die teenwoordigheid van God, was van God alleen, die mens het daar niks bygevoeg nie. God self het ‘n oop deur van genade voor die mensdom gestel.
Die Voorhangsel het volkome in twee geskeur (Matt.27:51), d.w.s. die werk van priester, offer of middellaar, is volkome vervul (Joh.19:30). Elke mens kan nou op die versoeningsmeriete, van God geopenbaar in die vlees, toetree tot in die teenwoordigheid van ‘n Heilige en waaragtige God. Die Lam is geslag; die bloed gesprinkel en die Voorhangsel vir ewig en altyd geskeur.
Die vleeslike Liggaam is ook die Voorhangsel waaragter die onsienlik God Homself versluier het in die drie-en-dertig en ‘n halwe jaar gedurende die versoeningsperiode.
En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.
2 Kor.5:18-19
Kom kuier gerus weer saam vir die volgende paar weke wanneer ons die volgende onderwerpe gaan bespreek:
- Die Allerheiligste
- Die Verbondsark
- Die Versoendeksel of Genadetroon
- Die Inhoud van die Ark
- Die Hoëpriester
- Die Orde in die laer, in die kamp en op trek
- Die Wolkkolom
- Die Groot Versoeningsdag
Groete tot dan!
Pastoor Kiewiet van Staden
Lees ook:
Die Tabelnakel van Moses: Deel 1 – Inleiding
Die Tabernakel van Moses: Deel 2 – Die wet en die tabernakel
Die Tabernakel van Moses: Deel 3 – Die Plan
Die Tabernakel van Moses: Deel 4 – Die Poort
Die Tabernakel van Moses: Deel 5 – Die Voorhof
Die Tabernakel van Moses: Deel 6 – Die Brandoffer Altaar (Die Koper Altaar)
Die Tabernakel van Moses: Deel 7 – Die Verskillende Offergawes
Die Tabernakel van Moses: Deel 8 – Die Koperwaskom
Die Tabernakel van Moses: Deel 9 – Die Tabernakel
Die Tabernakel van Moses: Deel 10 – Die Viervoudige Bedekking
Die Tabernakel van Moses: Deel 11 – Die Heiligdom
Die Tabernakel van Moses: Deel 12 – Die Reukofferaltaar (Goue altaar)
Die Tabernakel van Moses: Deel 13 – Die Goue Kandelaar
Die Tabernakel van Moses: Deel 14 – Die Tafel met die Toonbrode