
Die Reukofferaltaar se posisie is in ‘n reguit lyn met die Ingang, die Brandofferaltaar, die Waskom en agter die Voorhangsel – die Ark van die verbond met sy Versoendeksel. Die beskrywing van die Reukofferaltaar word nà die ander voorwerpe in die Bybel beskryf. Daar is ‘n spesiale rede hiervoor. Die Brandofferaltaar spreek van Christus aan die kruis hier op aarde, terwyl die Reukofferaltaar Jesus Christus voorstel.
Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn;.
Heb.9:24
Christus kon nie ‘n Priester wees, alvorens Hy nie eers uit die dode opgestaan het nie. Daarom was daar geen melding gemaak van die Reukofferaltaar voordat daar nie eers in Ex. 28 & 29 die Priester ingestel was nie. Op aarde kon Christus nie ‘n Priester gewees het nie (Heb .8:4). Die Priesters moes uit die stam van Levi en die geslag van Aäron wees (Ex. 28:1). Christus was uit die stam van Juda en van hierdie stam het Moses omtrent die Priesterskap niks gesê nie (Heb.7:14). Christus was dus Priester van ‘n Nuwe Orde – die Orde van Melgisedek (Heb.5:6; 7:3).
a) Sy Doel
Albei die altare word heilig genoem in die woord van die Here (Ex.29:37 en 30:10). Een keer per jaar, met die groot Dag van Versoening, moes die Hoëpriester die vier horings van albei altare met bloed smeer met die offer van versoening. Op die Reukofferaltaar moes geen offerande geoffer word nie. Alleen Reukwerk moes daarop gebrand word, nadat die altaar met bloed besprinkel is. Dit spreek van die waarde van Christus se versoeningsdood en Sy gestorte bloed waardeur die weg vir ons geopen is tot die Genadetroon waar ons alles kan verkry in die Naam van Jesus.
b) Sy Materiaal
Dit was van akasiahout met goud oortrek. Die akasiahout verwys na Christus se menslikheid en die goud na Sy Godheid en koningskap. Die menslike natuur van Christus beklee met glorie en heerlikheid in die hemel.
c) Sy Posisie
Dit het net voor die Voorhangsel gestaan. Daar kon geen aanbidding in die hemel wees voordat die Voorhangsel – die vlees van Christus – nie geskeur het nie. Die Versoendeksel is die Troon van God en die Reukofferaltaar staan onmiddellik daarvoor. Net die Voorhangsel was tussen hulle. Dit is ook die posisie van die Goue Reukofferaltaar in Open. 8:3-5
d) Sy Draaghoute
Die draaghoute mag nooit verwyder geword het nie. Die Reukofferaltaar was altyd gereed vir die trek, altyd tot diens. Jesus is altyd besig om vir ons in te tree. Die Verlosser van Israel sluimer of slaap nooit.
e) Sy Horings
Daar was vier horings, net soos die Brandofferraltaar. Dit spreek weer van die toevlug en sterkte vir die swakste gelowige wat na Christus kom vir hulp (Heb. 7:25). Deur die horings vas te gryp, word die krag van God ontketen en kan ons as gelowiges die koninklike septer van voorbidding hanteer (Mark.11:23).
f) Die Krans rondom die Reukofferaltaar
Die krans het gekeer dat die kole nie afgeval het nie. Dit was ‘n troosvolle gedagte vir die reisende Israeliete, om te weet dat God voorsiening gemaak het dat die kole nooit sal afval nie, al sou hulle dalk struikel. Al het Petrus gestruikel en geval – die kole van Christus se gebed het nie afgeval nie. Jesus het gesê :
Ek het vir jou gebid.
Luk.22:23

g) Die Reukwerk
Aäron het elke more en aand die reukwerk van speserye op die altaar aan die brand gesteek, as ‘n voortdurende reukwerk voor die aangesig van die Here. Hierin lê die waarde van die Reukofferaltaar, soos die Versoeningsdood van Christus ‘n ewige en onbegryplike waarde het. Dit was ‘n mengsel van drie speserye (Ex. 30:34-38). Dit moes op warm kole gegooi word om ‘n aangename reuk af te gee (Ex. 30:6-9).
h) Die gebruik van die Reukofferaltaar
Hierdie altaar het naby die samekomsplek van God en die hoëpriester gestaan. Dit is in ons gebedslewe, diens en heiligmakende lewe dat ons gemeenskap met God het en ‘n aangename geur vir Hom is.
Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer. Open.5:8 en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is.
Ps.141:2
Gebed bring ons in God se teenwoordigheid deur Sy Heilige Gees wat in ons woon. Hand.4:31, Efe.6:18. Die reukwerk moes voortdurend voor die aangesig van die Here wees. Ons heiligmaking, diens en gebede mag nooit onderbreek word nie.
Bid sonder ophou.
1 Thes.5:17
Kom kuier gerus weer saam vir die volgende paar weke wanneer ons die volgende onderwerpe gaan bespreek:
- Die Goue Kandelaar
- Die Tafel met die Toonbrode
- Die Voorhangsel
- Die Allerheiligste
- Die Verbondsark
- Die Versoendeksel of Genadetroon
- Die Inhoud van die Ark
- Die Hoëpriester
- Die Orde in die laer, in die kamp en op trek
- Die Wolkkolom
- Die Groot Versoeningsdag
Groete tot dan!
Pastoor Kiewiet van Staden
Lees ook:
Die Tabelnakel van Moses: Deel 1 – Inleiding
Die Tabernakel van Moses: Deel 2 – Die wet en die tabernakel
Die Tabernakel van Moses: Deel 3 – Die Plan
Die Tabernakel van Moses: Deel 4 – Die Poort
Die Tabernakel van Moses: Deel 5 – Die Voorhof
Die Tabernakel van Moses: Deel 6 – Die Brandoffer Altaar (Die Koper Altaar)
Die Tabernakel van Moses: Deel 7 – Die Verskillende Offergawes
Die Tabernakel van Moses: Deel 8 – Die Koperwaskom
Die Tabernakel van Moses: Deel 9 – Die Tabernakel
Die Tabernakel van Moses: Deel 10 – Die Viervoudige Bedekking
Die Tabernakel van Moses: Deel 11 – Die Heiligdom