Die Tabernakel van Moses: Deel 13 – Die Goue Kandelaar

Omdat daar geen vensters in die Tabernakel was nie, was alle natuurlike lig uit die Heiligdom uitgesluit. Die Kandelaar was die enigste lig in die Heiligdom. Sonder sy lig sou dit stikdonker gewees het.

Die Kandelaar is ‘n staander met ‘n lamp bo-op en ses arms aan die kante. Hierdie staander was van suiwer goud en het soos al die ander instrumente, ‘n tweevoudige karakter gehad, nl. die staander en die arms. Die kandelaar was uit een soliede stuk goud gemaak en was tot die verlangde vorm gebring deur dryfwerk, m.a.w. die goud was geslaan tot die bestaande vorm. Die goue kandelaar is ook ‘n simbool van Christus en sy kerk. Christus en Sy Gemeente is Een, voor die grondlegging van die wêreld. (Efe.1:4). Dit was deur die lyding en sterwing van Christus wat Sy gemeente ontstaan het.

Dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien.


Jes.53:10

Die goud was buitekant die Heiligdom uitgehamer, daarom moes Christus buitekant die stad gekruisig word.

a)  Die Lig van die Kandelaar

Alles moes in die Lig van Sy teenwoordigheid gedoen word. Die Priester moes die Wierook offer, vars Brode op die tafel sit, die Lampe skoonmaak en met vars olie vul. Jesus het self gesê:

Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê. 


Joh.8:12
  • Die lig mag nooit uitgeblus word nie. God is van ewigheid tot ewigheid.
  • Die lig skyn op die Tafel van die Toonbrode. As Christus deur ons skyn sien die wêreld in Hom die Brood van die Lewe.
  • Die lig het op die Reukofferaltaar geskyn. Deur ‘n lewe van gebed en gemeenskap met God by die Altaar, kry ons krag om Christus in heerlikheid aan die wêreld voor te stel.
  • Sy Lig het ook op homself geval.

Laat julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.


Matt.5:16

b)  Die olie van die Kandelaar

Twee dinge was nodig vir die Lamp om Lig te gee. ‘n Pit en Olie. Die Heilige Gees op die dag van Pinkster was die Olie uit die hemel op dorre Lamppitte. Toe het hulle vlamme vuur op hulle hoofde gesien.

  • Olie tipeer die Heilige Gees van God  (Liefde)
  • Die Pit – jou hart
  • Die Vlam – Die krag van die  Heilige Gees

Die olie was deur die Priester self in die lampe gegooi. So is dit ook die Here wat Doop met die Heilige Gees. 

c)  Die Snuiter van die Kandelaar

Daar was Snuiters en Rakkies vir die Lampe, maar geen Uitblussers nie. Die Snuiters was om die pitte skoon te maak en die as en aanpaksels te verwyder, sodat hulle helderder kon brand. Die Snuiter is ‘n tipe van die werking van die Heilige Gees in die lewe van die Christen. Hierdie snuiter was van suiwer goud gemaak en dit blus nooit die lig van die kandelaar uit nie, maar maak net skoon en reinig net altyd. Toe Petrus Jesus verloën, het Hy hom nie uitgewis nie, maar hom in smarte, deur genade skoon gemaak en geheilig.

Die Priester het self met die Snuiter gewerk: Hy sal die rokende lamppit nie uitblus nie, en die gekraakte riet nie verbreek nie.


Kom kuier gerus weer saam vir die volgende paar weke wanneer ons die volgende onderwerpe gaan bespreek:

  • Die Tafel met die Toonbrode
  • Die Voorhangsel
  • Die Allerheiligste
    •             Die Verbondsark
    •             Die Versoendeksel of Genadetroon
    •             Die Inhoud van die Ark
  • Die Hoëpriester
  • Die Orde in die laer, in die kamp en op trek
  • Die Wolkkolom
  • Die Groot Versoeningsdag

Groete tot dan!

Pastoor Kiewiet van Staden

Lees ook:

Die Tabelnakel van Moses: Deel 1 – Inleiding

Die Tabernakel van Moses: Deel 2 – Die wet en die tabernakel

Die Tabernakel van Moses: Deel 3 – Die Plan

Die Tabernakel van Moses: Deel 4 – Die Poort

Die Tabernakel van Moses: Deel 5 – Die Voorhof

Die Tabernakel van Moses: Deel 6 – Die Brandoffer Altaar (Die Koper Altaar)

Die Tabernakel van Moses: Deel 7 – Die Verskillende Offergawes

Die Tabernakel van Moses: Deel 8 – Die Koperwaskom

Die Tabernakel van Moses: Deel 9 – Die Tabernakel

Die Tabernakel van Moses: Deel 10 – Die Viervoudige Bedekking

Die Tabernakel van Moses: Deel 11 – Die Heiligdom

Die Tabernakel van Moses: Deel 12 – Die Reukofferaltaar (Goue altaar)

Volg ons asb: