
Verbondsvolk na Egipte
Om sy verbondsvolk te bewaar van uitwissing gedurende ‘n geweldige hongersnood wat oor die land Kanaän gekom het, het die Here hulle na Egipte laat gaan, om daar steeds te vermeerder (Gen. 34:6-7). God het Josef gebruik om die plan van Satan te verydel, om die volk deur hongersnood uit te wis. God het altyd die goeie uit die kwade laat voortkom (Gen. 45:8).
God se Verbondsvolk het in die beste deel van Egipte gewoon (Goosen) en te midde van al die gemak en oorvloed in Egipte het die volk van Israel vinnig vermeerder. Hulle het die hoogste posisies en beste besoldigste betrekkings bekleë (Gen. 47:10, 12, 27). Hulle was in guns van die Here wat besig was om van hulle ‘n groot volk te maak. In die 470 jaar wat Israel in Egipte gebly het, het die volk van sewentig tot drie miljoen siele vermeerder.
Vervolging van God se Verbondsvolk
Weereens sien ons dat Satan daarop uit was om die Saad van Abraham deur wie die Saligmaker sou kom, uit te roei. Na die kinders van Israel omtrent een honderd jaar in Egipte gewoon het, het Satan vrees in die harte van die Egiptenare verwek en hulle laat vrees dat as daar oorlog sou kom, die Israeliete hulle aan die kant van die vyand sou skaar (Ex. 1:8-10). Die gevolg is ‘n geleidelike verdrukking, daarna slawerny en wreedheid (Ex. 1:10-14)
Verlossing van God se Verbondsvolk

Die boek van Exodus voorsien ons van nog meer inligting oor die krag van die Verbond deur die gebeure in die lewens van die Israeliete in Egipte en ook gedurende hulle omswerwinge in die wildernis.
En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawery. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken.
Ex. 2:23-25
Weereens sien ons dat God uit Hesed (genade-liefde) optree. Abraham se Voorsiener. “El Shaddai” voorsien weer iemand om sy Verbondsvolk uit Egipte te lei. God wek Moses op, om te verseker dat die volk waaruit die Saligmaker sou kom, bly voortbestaan.
Toe die Israeliete vry en in die wildernis was, het hulle die Verbond by die berg Sinai, vertrap. Hierdie situasie wat so krities was dat Moses op sy aangesig voor God geval het en vir veertig dae sonder kos en water gebly het. Moses het geweier om God te laat gaan.
Verder het die HERE vir Moses gesê: Ek het hierdie volk gesien, en kyk, dit is ‘n hardnekkige volk. Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer. Dan sal Ek jou tot ‘n groot nasie maak.
Ex. 32:9-10
God wou Israel vernietig en ‘n nuwe nasie begin met Moses soos Hy met Noag gemaak het.
Maar Moses het die HERE sy God om genade gesmeek en gesê: Waarom, O HERE, sou u toorn ontvlam teen U volk wat U met grote krag en met ‘n sterke hand uit Egipteland uitgelei het? Waarom sou die Egiptenaars spreek en sê: In kwaadwilligheid het Hy hulle uitgelei om hulle in die berge om te bring en hulle van die aardbodem af te vernietig? Wend U af van die gloed van u toorn, en laat dit U berou oor die onheil van u volk. Gedenk aan Abraham, Isak en Israel, u knegte, vir wie U by Uself gesweer en aan wie U gesê het: Ek sal julle nageslag vermenigvuldig soos die sterre van die hemel, en hierdie land waarvan Ek gespreek het, sal Ek aan julle nageslag gee, dat hulle dit vir ewig kan beërwe. Toe het dit die HERE berou oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy sy volk sou aandoen.
Eks.32:11-14
God het toe die Wet aan hulle gegee en die Levietese priesterskap ingestel om te help om die skade te herstel. God het gesweer dat hulle vernietig sou word as hulle die Verbond verbreek, maar, instede daarvan, het Hy toegelaat dat offerandes hulle sondes kon bedek. Die Levietiese priesters was ingestel vir een rede: as gesante tussen God en die mens; om in die gaping te staan. Heb. 9:22 sê dat daar sonder bloedvergieting geen vergifnis van sonde is nie. Daar moes ‘n bemiddelaar tussen God en Israel wees, as gevolg van die bloedverbond wat bestaan het. Die eerste middelaar was die Levietiese priester, die laaste Middelaar was, die mens Jesus Christus – ons Hoëpriester; Hy wat altyd leef om vir ons in te tree (1 Tim.2:5; Heb.7:25).
Die Wet

Die Wet is aan Israel gegee en bestaan uit drie afdelings, wat tesame die Verbond van Moses vorm:
- Gebooie: wat die regverdige wil van God uitbeeld. Ex.20:1-26
- Oordele: wat die sosiale lewe van Israel regeer. Ex.21:1 – Ex.24:11
- Ordinansies: wat die godsdienstige (geestelike) lewe van Israel regeer. Ex. 24:12 – Ex. 31:18.
Die Egiptiese Krisis
Deur ‘n omweg was die volk van God in slawerny weggevoer. Satan het probeer om God se getuie op die aarde uit te wis. Hy wou die voortplanting van die Godsgetuie staak deur die seuntjies te laat vernietig. Hierdie poging het geboemerang op die Egiptenare deurdat die eersgeborenes van Egipte gesterf het. Ex. 11. God het die volk uitgelei na Kanaän, hulle die wet gegee en die Altaar opgerig as ‘n simbool van gemeenskap tussen Hom en Sy volk.
Die Egiptiese krisis is die baken tot die vierde tydperk in die menslike geskiedenis.
Kom kuier gerus weer saam vir die volgende paar weke wanneer ons die volgende onderwerpe gaan bespreek:
- Die Verbond van Palestina
- Die Verbond van God met Dawid
- Die Nuwe Verbond
Groete tot dan!
Pastoor Kiewiet van Staden
Lees ook:
Die Verbond: Deel 1 – Inleiding
Die Verbond: Deel 2 – Die Bloedverbond
Die Verbond: Deel 3 – Die nege stappe van die Bloedverbond
Die Verbond: Deel 4 – Die Verbond van Eden
Die Verbond: Deel 5 – Die Verbond van God met Adam
Die Verbond: Deel 6 – Die Verbond van God met Noag
Die Verbond: Deel 7 – Die Verbond van God met Abraham