Die Verbond: Deel 7 – Die Verbond van God met Abraham

In hierdie verbond is Christus die Saad aan wie die belofte gemaak is.

367 jaar na die Sondvloed, roep God ‘n man, Abram. Abram het uit ‘n omgewing van veel godedom gekom. Abram was die seun van Tera, uit die afstammelinge van Sem. Sy broers was Nahor en Haram. Daarom is Abram se roeping ‘n aangrypende gebeurtenis.

Die betekenis van Abram se roeping, is dat die Here die vervulling van die moederbelofte (Gen.3:15) aan Abram en sy nakomelinge bind. Gen.12:3 kan vertaal word:

Ek sal seën wie jou seën, en wie jou vervloek, sal Ek vervloek, en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.

Gen.12:3

Dit gaan hier oor dié “geseën” word: in die Messias, die saad van die vrou (vlg. Gal.3:16) – waaruit die Verlosser gebore moes word. Daarom moes God ‘n man kies wie Hom ken, om uit hom ‘n nasie te verwek wat die kennis van God op die aarde kon voortplant, asook ‘n voortsetting van die Messias, Jesus Christus, se bloedlyn. Satan het ten doel gehad om Jesus se geboorte tot niet te laat gaan.

In Gen. 17 sien ons dat God ‘n verbond met Abraham sluit. So ‘n verbond was bekend as “Die Verbond van Sterke Vriendskap”. 

Daarom word daar altyd na Abraham verwys as: “Die Vriend van God” (Jak. 2:23, Jes. 41:8, 2 Kron. 20:7).

God het die verbond met Abraham aangegaan sodat Hy ‘n verbondsvolk kon kry waaruit die Verlosser gebore kon word. Abraham was dan ook eerste besny. Daarna het hy in sy vlees die seël gedra as teken van sy verbond met God.

VERBONDSVOLK

As bewys van ‘n verbond tussen God en die mens laat Abraham hom besny asook alle agt-dae oud seuntjies. Dit is ‘n sigbare teken sodat hulle herinner sal word aan die verbond.

Nie lank daarna word die getrouheid van Abraham aan sy verbond met God getoets, toe hy sy enigste seun, wat as wonderwerk aan hom en Sara gegee was, moes offer. Abraham sou homself eerder met blydskap vir God geoffer het en Isak wou spaar om ‘n nageslag voort te bring. Maar Abraham het sy getrouheid aan die verbond met God bewys en dat hy waardig is om God se vriend genoem te word.

Daarom die belofte “Ek sal jou ryklik seën en jou nageslag grootliks vermeerder”, maar dit was toe Isak vir sy vader vra: “Waar is die offer?”, wat Abraham op die berg Morea staan en in ‘n oostelike rigting kyk – die rigting van Golgota wat hy in sy geestes-oog die Lam gesien het, wat geslag sou word – Hy wat ons sondes op hom sou neem, en antwoord Abraham “God sal self die Lam voorsien”.

Hier het God hom aan Abraham verbind, alles wat aan God behoort, is tot die beskikking van Abraham en Abraham met alles wat aan hom behoort, is God s’n.

Daarom “ Ek is die God wat my verbond hou”.

En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag nà jou in hulle geslagte, as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag na jou.

Gen. 17:7

Dit is deur hierdie Verbondsvolk wat die Verlosser sal kom (Gen. 22:17-18)

Palistina was geografies so geleë dat al die paaie daardeur gegaan het en met hulle handelsreise het daardie reisigers, met die volk van God kontak gemaak en het hulle gehoor wat God vir hulle gedoen het.

BELANGRIKE KARAKTERS: ISAK JAKOB EN JOSEF

  • ISAK

Seker een van die mooiste Ou Testamentiese karakters met sy sagte minsame gees, wat ‘n dieper indruk op die Joodse volkslewe gelaat het. Ook is sy huwelik en liefde vir Rebekka een van die mooiste verhale van daardie tyd.

  • JAKOB

Jakob het die teenoorgestelde karakter as Isak gehad. Hy was slinks, selfsugtig en altyd vol planne tot sy eie voordeel. Hy was nooit daarop ingestel om iemand gelukkig te maak nie. Maar toe God met hom in die Jabbok-spruit, ontmoet en geworstel het, het Jakob ‘n verandering ondergaan. God bewys dat hy selfs ‘n verdraaide lewe reguit kan maak.

  • JOSEF

Josef, bekend as die “Beminde prins” wie se gelyke as seun, man, staatsman en bewaarder van ‘n Nasie nog nie was nie. Op sewentienjarige ouderdom word hy as slaaf na Egipte weggevoer, op dertig is hy ‘n regeerder van Egipte. Op veertig jarige leeftyd laat hy sy vader en sewentig siele na Egipte kom (Gen. 45:1-26).

Dit is baie duidelik uit die drie karakters dat God se verbond met die mens, almal insluit, ongeag sy karakter:-

  • hulle wat sag van geaardheid is, soos Isak
  • hulle wat net om hulself draai, soos Jakob
  • en hulle wat omgee vir ander, soos Josef.

As die mens hom bekeer en laat doop, word hy ingesluit in die verbond.


Kom kuier gerus weer saam vir die volgende paar weke wanneer ons die volgende onderwerpe gaan bespreek:

  • Die Verbond van God met Moses
  • Die Verbond van Palestina
  • Die Verbond van God met Dawid
  • Die Nuwe Verbond

Groete tot dan!

Pastoor Kiewiet van Staden

Lees ook:

Die Verbond: Deel 1 – Inleiding

Die Verbond: Deel 2 – Die Bloedverbond

Die Verbond: Deel 3 – Die nege stappe van die Bloedverbond

Die Verbond: Deel 4 – Die Verbond van Eden

Die Verbond: Deel 5 – Die Verbond van God met Adam

Die Verbond: Deel 6 – Die Verbond van God met Noag

Volg ons asb: