Die Verbond: Deel 3 – Die nege stappe van die Bloedverbond

1.  OMRUILING VAN DIE BO-KLEED

Die bo-kleed verteenwoordig die persoonlikheid, die karakter en natuur van die draer daarvan. Wanneer ek my bo-kleed vir jou gee, gee ek eintlik myself, my wese en my lewe as ‘n pand of waarborg. Die bo-kleed word omgeruil.

2.  DIE OMRUILING VAN DIE GORDEL

Die gordel waaraan die wapens gedra was nl. die dolk, die boog en pyle en die swaard, word dan afgehaal en omgeruil. Dit het vir mekaar gesê: Hiermee gee ek jou my sterkte en my ondersteuning, en sê ek: Hier is my sterkte en my vermoë. As enigiemand jou sou aanval, val hy my ook aan. Jou stryd is ook my stryd. Ek sal saam met jou veg en jou help, jou verdedig en beskerm. Jou vyande is my vyande en jou vriende is ook my vriende.

3.  SLAGTING VAN DIE OFFERDIER (Gen. 15:10)

Die offerdier word geneem en in twee gelyke dele, al langs die rugstring, oopgesny sodat die twee helftes weg van mekaar val, m.a.w. die pote sal na mekaar lê, met al die ingewande tussen in. Die offerdier lê so dat daar ‘n gang tussen die twee helftes is. Daarna loop die twee partye tussen die stukke vleis deur en keer dan weer terug sodat hulle van aangesig tot aangesig voor mekaar staan.

Hiermee verklaar hulle dat hulle geen reg op hulle eie lewens het nie en dat hulle sterwe in hulself om ‘n nuwe lewe van opoffering te leef. As verbondsgenote, spreek die loop tussen die vleisoffer van die bindende kontrak tussen hulle. Hulle sê daardeur aan mekaar, terwyl hulle na die stukkende diere karkas kyk: “Mag God so met my maak indien ek ooit hierdie verbond probeer verbreek. Kap my in twee en voer my vir die aasvoëls as ek so ‘n heilige ooreenkoms verbreek.”

Ploeërs het op my rug geploeg; hulle het hul vore lank getrek.

Ps. 129:3

Ek het my rug gegee vir die wat slaan,

Jes. 50:6a

4.  BLOEDVERMENING

Daar word ‘n vleeswond aan albei die partye gemaak, aan die gewrig of duim. In sommige gevalle word die twee wonde teen mekaar styf vas gedruk, sodat die bloed van die een persoon met die ander meng. Waar die wond aangebring was en wonde teen mekaar gehou was, was die arm omhoog gehou sodat die bloed teen die arm afgeloop het, om sigbaar te wees vir almal teenwoordig. Die twee partye sweer daarmee ewige trou aan mekaar. Twee lewens word dan een en so neem hulle daardeur mekaar se natuur aan. Die verbond word bevestig met die woorde: “So help my God”.

5.  NAAMSVERANDERING

Ons ruil daardeur outoriteit en reputasies uit. Met die sluit van ‘n verbond, word die name vir ewig as getuie gekoppel:-

     My Naam en jou Naam word gekoppel.

Vyf en twintig jaar na Abram se uittog uit sy land, het seker een van die grootste gebeurtenis (behalwe die geboorte van Christus) plaasgevind. Na die Bloedverbond wat God met Abram aangegaan het (Gen. 17) het God Abram se naam na Abraham verander. “Ha”  – die Naam vir God is binne in Abraham se naam gevoeg.

6.  MAAK VAN ‘N LITTEKEN

Daarna word houtskool of as in die snymerke gevryf om ‘n permanente litteken te laat – die merk van die verbondsmens. Die letsel wat oorbly na die sluit van die verbond, sal nooit weggaan nie en dien as ‘n teken van ‘n absolute vereniging tussen die twee persone (Besnyding). Hierdie littekens dien dus as ‘n seël van die verbond. Waar die persone ook al gaan sal die verbond ‘n sigbare teken wees vir almal om te sien. Die vyand sal so ‘n verbondsmens met groter versigtigheid benader.

7.  DIE VOORWAARDES

Eerstens word die seëninge voorgehou waarin ek verklaar dat al my bates, geld, eiendomme en besittings aan jou behoort. Wanneer ek sterf word my afhanklikes jou afhanklikes en jy word die hoof van my huis. My laste word ook jou laste. Beide bates en laste word voor getuies uitgelees. Die seëninge van die verbond word uitgespreek oor die twee persone deur die priester wat teenwoordig is as getuie. Ook word God as ‘n getuie geroep om die verbond te verseël en ook dat God die verbond sal seën.

8.  SEREMONIE of MAALTYD

Maal van die nuwe verbond

Die brood word gebreek en wyn word gedrink as simbool van ons deelname aan mekaar. Die brood wat uitgeruil word is ‘n finale bevel van “My vlees is jou vlees en jou vlees is my vlees”.

Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.

Joh. 6:51

Die wyn stel voor – Drink my lewensbloed en ek drink jou lewensbloed.

En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie.

Joh. 6:53

Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.

Joh.6:56

9.  DIE GEDENKSTEEN

Daarna word ‘n gedenksteen of boom geplant, dan word die bloed van die geslagte dier daaroor gesprinkel as ‘n gedenkteken vir almal om te sien. Ons is nou opregte vriende; ‘n term wat slegs vir bloedbroersgebruik word. Van nou af is die twee families verewig deur ‘n Bloedverbond verwant aan mekaar. Dit sluit al hulle nakomeling in.

Die kruis op Golgota is ons gedenksteen en bevestig God se verbond met die mens.

Daarom sê Matt 7:7:

Bid, (Vra) en vir julle sal gegee word; soek en julle sal vind, klop, en vir julle sal oopgemaak word.

Matt 7:7

In Ps 105:1 bevestig God Sy verbond – Jy sal ontvang as Hy sê:

Hy dink vir ewig aan Sy verbond, aan die Woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte.

Ps 105:1

Kom kuier gerus weer saam vir die volgende paar weke wanneer ons die volgende onderwerpe gaan bespreek:

  • Die Verbond van Eden
  • Die Verbond van God met Adam
  • Die Verbond van God met Noag
  • Die Verbond van God met Abraham
  • Die Verbond van God met Moses
  • Die Verbond van Palestina
  • Die Verbond van God met Dawid
  • Die Nuwe Verbond

Groete tot dan!

Pastoor Kiewiet van Staden

Lees ook:

Die Verbond: Deel 1 – Inleiding

Die Verbond: Deel 2 – Die Bloedverbond

Volg ons asb: