
Die Bybel is onderverdeel in twee dele naamlik die Ou Testament en die Nuwe Testament. Die woord “Testament” kom van die Latynse woord “Testamentum” wat in sy mees korrekte vorm met die woord “VERBOND” vertaal moet word.
‘n Verbond is die soewereine toepassing van genade, goddelik in oorsprong, bekendstelling, bevestiging en vervulling.
- Die Hebreeuse woord vir Verbond is “Berith”
- Die Griekse woord vir Verbond is “Diatheke”
Beide woorde beteken letterlik om te sny.
‘n Verbond is ‘n “verdrag” of “ooreenkoms” waarin God Sy beloftes aan die mens vaslê. Alhoewel daar agt belangrike verbonde in die Woord opgesluit is, vind ons die verbond met Noag (Gen.9) as van die vroegste wat in die Skrif opgeteken is. So ook vind ons die verbond wat met Abraham (Gen. 15:18) gesluit is, in Ex.19 – Die verbond met Moses (Tien gebooie). Hierdie verbonde was by uitstek die uitroep tot Israel om ‘n Heilige volk te wees wat uitsluitlik aan die Here getrou is. Hierdie nuwe verhouding is ‘n verbond genoem, ‘n verbond tussen God en die mens – die Hoër gesag en die Mens.
Verbond is Liefde
Die verbond tussen God en die mens gaan om:
Genade-liefde: Hesed = Hebreeus; Agape = Grieks
Dit gaan oor :-
- medelye – om, om te gee vir ewig tot voordeel van die ander
- droefheid – oor die lot van ander
- in eie bloed ‘n eed te neem – om nooit weer te lieg nie
- vertroue – dat jou teëparty kan glo in jou woord
- liefde – ‘n liefde wat kan gee en ontvang
Agape + Hesed is ‘n diepe begeerte om hulp te verleen (tot ek nie meer kan nie). Genade word weerspieël in die Ou Testament in woorde soos :
- goedentierenheid
- trou
- lief hê
- vertroue
- goedheid
- getrouheid
- verbond
- guns
- krag
Dit is hierdie genade-liefde wat gee totdat dit seer maak.

Vriendskapsbande word gesluit
Volgens Spr. 18:24b en Joh. 15:15: Om ‘n vriend te word, moet daar eers ‘n verbond wees, dit beteken daar moet eers ‘n verhouding gebore word (Hesed en Agape) wat lei tot ‘n verbintenis met die wetlike woord “Onthou”
- Onthou:
- Onthou ons ooreenkoms
- Onthou ons verbond
- Onthou ons liefde vir mekaar (Hesed – Agape)
Sonder ‘n verbond het die woord “onthou” geen waarde nie en is dit kragteloos. God wil hê dat ons moet onthou – daarom Ps 103:2-5
Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees, wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede, wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van ‘n arend.
Ps 103:2-5
Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon wat my die goeie in oorvloed laat geniet.
Ons moet in totaliteit in die verbond lewe, elke minuut moet ons in die bloed teenoor mekaar staan en eedswering doen.
Jy is gedurig voor my aangesig
Die verbondmakers sê altyd “Nou” of “Ek is”, nooit sal hulle vir mekaar sê: “Ek het” of “Ek sal” nie. Hulle beplan altyd om ‘n seën vir mekaar te wees, daarom is hulle altyd aktief.
Bid, (vra) en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop en vir julle sal oopgemaak word.
Matt 7:7
In Ps 105:8 bevestig God Sy verbond van – Jy sal ontvang as Hy sê:
Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte…
Ps 105:8
Kom kuier gerus weer saam vir die volgende paar weke wanneer ons die volgende onderwerpe gaan bespreek:
- Die Bloedverbond
- Die nege stappe van die bloedverbond
- Die Verbond van Eden
- Die Verbond van God met Adam
- Die Verbond van God met Noag
- Die Verbond van God met Abraham
- Die Verbond van God met Moses
- Die Verbond van Palestina
- Die Verbond van God met Dawid
- Die Nuwe Verbond
Groete tot dan!
Pastoor Kiewiet van Staden