“Heilig ‘n vasdag!” roep die profeet Joël uit onder leiding van die Heilige Gees (Joël 1:14). Hierdie vasdag is uitgeroep op ‘n tydstip toe alles vervalle en verlate was. Die sonde van die volk het daartoe aanleiding gegee dat God se oordeel oor hulle uitgespreek was. Die profeet Joël, bekragtig deur die Heilige Gees, het probeer om die volk tot berou en bekering te bring, sodat God hulle genadig kon wees en sy seën oor hulle kon uitstort (Joël 2:14).
Die woord vas kom van die Hebreuse woord tswum wat beteken om jou mond te bedek of toe te maak, met ander woorde om te vas. Dit spreek van ‘n spesiale soort stilte, ‘n heilige stilte.
Die mond is die mens se grootste struikelblok waardeur ons nie net onsself nie, maar ook ander mense kan vernietig. Ons onversadigbare aptyt het tot die val van die eerste mensepaar in die Paradys gelei:
“Sy het my van die boom gegee en ek het geëet,” het Adam gesê. “Die slang het my bedrieg en ek het geëet.” erken Eva.
Om een of ander onverklaarbare rede het God juis dit wat tot die val van die mens gelei het (naamlik om te eet) tot ‘n geheime wapen gemaak waardeur die mens weer oorwinning oor die sonde kan verkry.
Dit word moontlik wanneer die mens nie eet nie, met ander woorde vas. Deur nie te eet nie kan die mens ‘n nuwe bekragtiging van God ontvang om weer oor sonde en die bose heerskappy te heers.
Wanneer ons vas, is die dryfveer liefde. Dit is ‘n teken van ‘n diepe innerlike honger na God.
Ons vas dus :
- uit liefde en om sodoende God se genesende krag aan die wêreld te bring.
- sodat ons krag kan verkry en sodat die magte van die duisternis oorwin kan word.
- sodat die las van siekte, lyding en sonde verlig kan word.
- sodat ons medelye en liefde deelagtig kan word en die behoeftes van ander kan raaksien en verlig.
- sodat God ons kan toerus en gebruik om gevangenis vry te laat.
’n PAAR VOORBEELDE UIT DIE BYBEL:

- Om een dag te vas: Esra 8 – Beskerming en om vreesloos te wees.
- Drie dae vas: Ester 4:16 Om ‘n komplot te verbreek. Paulus op die Damaskus pad. (Hand 9:9)
- Veertien dae vas: Die Skipbreukelinge (Hand 27:14-26) Om te oorleef.
- Daniël-vas:Een-en-twintig dae vas (vegetariese diëet) :Verlossing van die volk.
- Veertig-dae-vas: Moses, Elia en Jesus. Jesus is die grootste Persoon wat ooit geleef het en het Sy werk op aarde met ‘n vas van 40 dae begin (Matt 4:1-11)
- Die eerste en langste vastydperk waarvan die Bybel vertel, is die vastyd van Moses. Toe God Moses na die berg geroep het, was hy vir 40 dae lank in die Here se teenwoordigheid.
- Moses praat daarvan in Deut 9:9. “Het veertig dae en veertig nagte lank op die berg gebly, brood het ek nie geëet en water nie gedrink nie.”
- Mense in die Nuwe Testament wat gevas het:
- Profetes Anna,
- Johannes die doper
- Cornelius
- Die dissipels.
- Jesus verklaar in Matt 17:21 dat bose geeste ook deur vas uitgewerp sal word.
Indien u meer inligting oor hierdie onderwerp verlang, is u welkom om ons te kontak.