Goeie dag Tieners,
Ons gaan vir die volgende paar weke so ‘n bietjie oor GROEPSDRUK gesels.
Daar is niks lekkerder as om deel van ‘n goeie vriendekring te wees nie en niks slegter as om altyd te voel soos ‘n buitestaander. As jou identiteit afhang van hoe populêr jy is, gaan jy gereeld jou standaarde moet verander om by al jou vriende in te pas.

Wat is belangrik vir jou as tiener – Christenskap, morele waardes, vertroue? Wat staan in die pad daarvan om dit uit te leef? Groepsdruk?
Om groepsdruk te oorkom moet jy wat jy van jouself dink en wat vir jou belangrik is, belangriker ag as wat jou vriende van jou dink. Om in te gee vir groepsdruk is jy in ‘n verloor –wen situasie, jy verloor want jy verlaag jou standaarde en jou vriende wen.
Een van die mees basiese menslike behoeftes is liefde en toegeneentheid, die behoefte om te ervaar dat jy iewers behoort en welkom is. Met voldoende hoeveelhede toegeneentheid sal ‘n kind heelwaarskynlik ontwikkel as ‘n verantwoordelike volwassene.
Persepsies wat mens oor jouself het is soos ‘n bril waardeur mens elke dag na die wêreld kyk. As mens verkeerde persepsies oor jouself of oor die wêreld het is dit soos ‘n bril met verkeerde voorskrif lense wat jy elke dag opsit. Persepsies bepaal die rigting van jou lewe. As ‘n mens glo jy is lelik, sal jy redes vind om dit te staaf. Die brein is ‘n magtige orgaan en dit is moontlik om negatiewe persepsies omtrent jouself af te breek en te vervang met positiewe persepsies. Omring jouself met positiewe vriende wat jou opbou. Negatiewe persepsies by tieners draai gewoonlik rondom voorkoms, prestasies, finansiële welstand en persoonlikheid.

Groepsdruk is nie net ’n negatiewe kinderding nie. Dit kom in alle gemeenskappe voor, by oud en jonk, ryk en arm. Maar ’n mens moet onthou dat die invloed van ’n groep ook positief kan wees en mense kan motiveer om te oefen, reg te eet, hard te werk, vir ander om te gee, tyd aan hul kinders of huwelik te bestee, en die regte dinge te doen.
Dié soort druk kan ongelukkig ook ’n verrottende invloed wees wat mense beïnvloed om verkeerde keuses te maak. Mense ontken meestal hewig dat hulle sekere dinge weens groepsdruk doen. Tog hoor jy gereeld: “Almal doen dit!”
In groepsdruk gaan dit baie oor aansien. Kinders gee meestal toe aan groepsdruk omdat hulle in en deel van die groep wil wees. Hulle doen dit sodat ander hulle sal aanvaar en van hulle sal hou. Kinders is baie bewus van die sosiale hiërargie van wie waar inpas. Elke skool het definitiewe groepe of klieks: die pliggies, die nerds, die atlete, die jocks (die rugbyouens) cool girls (wat net party en met ouer ouens uithang) die drinkers, druggies …

In groepsdruk gaan dit baie oor aansien. Tieners gee meestal toe aan groepsdruk omdat hulle in en deel van die groep wil wees.
Tieners is pynlik bewus van wie deel van watter groep is. Hulle vrees uitsluiting en om nêrens in te pas nie en ’n alleenloper of loser te wees. Dié vrees is dikwels sterker as hul waardes. Hulle sal liewer deel van enige groep raak, solank hulle net nie uitgesluit is nie.
Volgende week gesels ons oor verskillende soorte groepsdruk.