
Elkana TWEENS het op Vrydag, 27 Julie 2018 hul eerste verjaarsdag gevier! Wat ‘n geleentheid was dit nie gewees nie. Kim Bezuidenhout het heerlike “Cup-Cakes” geborg en daar is behoorlik fees gevier.
Pastoor Lorraine van Staden vertel:
Verlede jaar, Julie 2017, het ELKANA JEUG ‘n baie tragiese tyd beleef – daar was nie een enkele kind by Vrydae se byeenkomste nie. Heidi Botha het Pastoor Kiewiet van Staden genader en voorgestel dat ons met die TWEENS moet begin – WOW, dit was regtig ‘n voorstel uit die hemel.
Pastoor Lorraine van Staden, Heidi Botha en Adri Uys het bymekaar gekom en met Jesus se genade ‘n TWEENS-beplanningsessie gehou. Daar is besluit om die Gemeentes van Christus se KURRIKULUM, GRAAD 1 Module, te gebruik om die lesse aan te bied. Daar word elke Maandagaand beplanning gedoen vir die TWEENS byeenkomste wat Vrydagaande plaasvind.
Die TWEENS program is soos volg:
- Die TWEENS word hartlik deur die senior Jeug verwelkom en hulle gesiggies word ingekleur – om so ‘n bietjie kleur aan die geleentheid te gee.
- ʼn Lekker Ysbreker (‘n speletjie waaraan al die maatjies deelneem)
- Sing van vrolike, opgeruimde liedjies saam met DVD’s met baie bewegings, SPRING en LIGTE wat flikker!!!
- Met die hulp van al die onderwysers van DIA KWS (Sondagskool), word die lesse aangebied. Hier leer ons hoe goed Jesus vir ons is en hoe om in SY voetspore te volg.
- Hierna eet ons heerlik saam waar oom Jakes en Wayne vir ons die heerlikste kossies gaarmaak. Natuurlik help die tannies hiermee…

Pastoor Lorraine vertel verder:
Die TWEENS het so gegroei (vanaf 28 kinders in Julie 2017 tot ‘n gemiddelde bywoning van ongeveer 95 kinders) dat ons verplig was om die senior jeug van die junior jeug se skei. Felicia Myburgh en Colin Neethling het ingestem om die senior jeug bediening te behartig en al die tieners geniet dit baie.
Die TWEENS is ‘n interkerklike geleentheid waar alle denominasies welkom is om die geleentheid by te woon. Die slagspreuk is:
Dieselfde tyd, dieselfde plek en bring ‘n maatjie.
Moet dit nie misloop nie – dit is groot pret!!!
Elkana Gemeenskapskerk wil baie dankie sê aan almal wat deel is van hierdie groot inisiatief om ons jongmense weer op Vrydagaande te bedien. Mag julle ryklik geseën word.
Jesus leer ons is Matt 18:5
En elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang my.
Matt 19:14:
Maar Jesus sê: Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.
Kyk die video:
