
Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: “Laat al die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koningkryk van God” (Mark 18:16 ).
Die laaste paar weke het Elkana Gemeenskapskerk se Babbel en Bekkie, oftewel Adri Uys en Kim Bezuidenhout, bogenoemde teksvers hul missie gemaak en verskeie kleuterskole in die Witbank omgewing besoek.
Adri Uys verduidelik: “Die doel van die besoeke aan die kleuterskole is om die kindertjies te leer van Jesus se liefde vir elkeen van ons. Terselfdetyd leer ons hulle om ook vir ander te vertel van Jesus se liefde, nie net deur woord en daad nie, maar ook deur lofsang en aanbidding”.
Die twee karakters het reeds besoek afgelê by Tweetyland, Woelige Wurmpies, Riekies 1 & 2, Haas Das en Hulpende Handjies en 374 kinders het reeds vir Babbel en Bekkie ontmoet gedurende die laaste drie weke.
“As net een kindjie se hartjie geraak is deur hierdie bediening, is dit klaar ‘n oorwinning. Om die vreugdevolle gesiggies en die handjies wat opgaan tydens lofsang en aanbidding en die handjies se geklap van opgewondenheid te sien maak alles die moeite werd” voeg Adri by.
Adri Uys en Kim Bezuidenhout neem hul taak baie ernstig op en vir hul is dit nie net ‘n bediening nie maar ook ‘n roeping. Adri deel: “Elkeen van ons het ‘n taak om te verrig om die Koningkryk van die Here Jesus uit te brei. Wanneer jy tot stilstand kom en sê, Here Jesus, hier is ek, stuur my, sal jy weet wat dit is wat jy moet doen. Om die kleuterskole te gaan besoek was nie eers op my lysie nie, maar die Here se opdrag was duidelik – begin by die kleuterskole”
Adri sluit af: “Ek weet nie waarheen die Here Jesus ons volgende gaan neem nie maar ons is baie opgewonde. Al die dank, lof en eer aan die Here Jesus vir dit wat Hy in elke kindjie se lewe doen”.
Klik hier om na die video van die besoeke te kyk.
Kontak ons gerus as u wil hê dat Babbel en Bekkie u skool moet besoek!
Heidi Botha: 083 966 2685
Pastoor Kiewiet van Staden: 082 446 8583
Pastoor Lorraine van Staden: 082 770 6593